Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Só lyk dit in Discovery se enorme nuwe gebou
Discovery se nuwe hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Discovery wil nie net hê mense wat aan sy mediese fonds behoort, moet fiks en gesond bly nie, hy wil dieselfde vir sy werknemers hê.

Dié maatskappy, wat benewens sy mediese fonds (Discovery Health Medical Scheme, DHMS) ook kort- en langtermynversekering en batebestuur – en binnekort bankdienste – bied, glo sy nuwe hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, is net die regte gebou om dit te bewerkstellig.

Die enorme gebou het nie net ’n gimnasium wat 3 000 lede kan akkommodeer nie, maar selfs ’n hardloopbaan – bulte ingesluit – op die dak.

Boonop is daar 320 fietsrakke, 50 storte en 600 sluitkassies vir werknemers wat sal verkies om werk toe te draf of om met die fiets soontoe te ry.

Die atrium waar ’n Boeing 737 kan inpas. Foto: Elvira Wood

David Pierre-Eugene, hoof van fasiliteite by Discovery, sê die plan met die gebou was nie net om alle bedrywighede in ’n enkele kampus te konsolideer nie, maar ook om sy visie om mense gesond te hou, uit te leef.

Hy het Vrydag die media op ’n toer deur die nuwe gebou begelei.

“Ons lewer goeie diens,” het hy geskerts. “Dié van julle wat lede van ons Vitality-program is, sal vandag sommer maklik jul daaglikse teiken haal vir die hoeveelheid treë wat julle moet gee.”

Die gebou, wat R3 miljard gekos het om te bou, behoort aan Growthpoint (55%) en Zenprop (45%). Discovery het ’n kontrak om dit 15 jaar te huur.

Pierre-Eugene sê die maatskappy is deeglik bewus daarvan dat veral lede van sy mediese fonds bekommerd is dat hul premies gebruik gaan word om vir dié gebou te betaal.

“Daar is geen verband tussen premies wat lede van DHMS betaal, of die jaarlikse verhogings van hierdie premies, en die ontwikkeling van die nuwe gebou nie.

“Lede se premies word in ’n gesamentlike fonds inbetaal wat uitsluitlik gebruik word om mediese eise mee te betaal.”

Lees ook: Discovery wil nie sê oor huurkoste in nuwe gebou

Discovery sê as genoteerde maatskappy het hy baie bronne van inkomste en dit is wat vir huur gebruik word. Die nuwe gebou, 1 Discovery Place, vervang ook al die ander geboue waar sy bedrywighede voorheen gehuisves was.

Interessante feite
  1. Die atrium in die westelike vleuel is so groot jy kan ’n Boeing 737 aan die dakbalke ophang. Hy sal gemaklik pas en die vlerke sal nie aan die kante raak nie.
  2. Daar is ongeveer 1 000 werknemers op elke verdieping.
  3. Die verskeie restaurante op die grondverdieping is oop vir die publiek.
  4. Die kelder, waar 6 000 motors kan parkeer, is 42 m diep en het ’n jaar geneem om te grawe.

Die groot trek

Die gebou is einde 2017 ’n paar weke vroeg voltooi.

Werknemers is in groepe van 500 elk oor naweke na die nuwe gebou getrek.

“Ons werknemers het op ’n Vrydag hul goed in hul ou kantoor ingepak en Maandag het hulle soos gewoonlik begin werk, net in die nuwe gebou,” sê Pierre-Eugene.

Teen einde Maart was die groot trek afgehandel en is al 7 000 werknemers oorgeskuif.

Pierre-Eugene sê Discovery is veral trots daarop dat hulle 86% van die meubels wat voorheen gebruik is, ook  saam getrek het. “Dit het die trek nogal uitdagend gemaak, maar dit was die moeite werd,” sê hy.

’n Deel van die hardloopbaan en tuin bo-op die dak van Discovery se nuwe hoofkantoor in Sandton. Foto: Elvira Wood

Groen

Die gebou het ’n vyfstergradering van die Raad op Groenbou van Suid-Afrika ontvang.

Enorme dakvensters verlig oop areas. Blindings is geoutomatiseer en maak self oop en toe, afhangende van waar die son is.

“Ons het gesien die direksielede het aan die begin nogal groot geskrik toe blindings sommer vanself begin beweeg,” sê Pierre-Eugene.

“Hulle het egter baie gou daaraan gewoond geraak dat hulle nooit by veranderde lig van buite hoef aan te pas nie. Die gebou pas namens hulle daarby aan.”

Water word ook herwin en reënwater word gebruik waar moontlik.

David Pierre-Eugene, hoof van fasiliteite by Discovery. Foto: Elvira Wood

Toekoms

Pierre-Eugene sê Discovery gebruik nog nie die hele gebou nie.

“Die gebou is juis groot om ons verwagte toename in werknemers oor die volgende paar jaar te akkommodeer.

“Ons gaan vir eers ’n deel van die gebou uithuur totdat ons die ruimte nodig kry,” sê hy.

Indien Discovery heeltemal uit sy nate bars, is die planne vir die derde fase van die gebou – die gebou soos hy tans lyk bestaan reeds uit die eerste twee fase – reeds gefinaliseer.

Discovery het dus geen planne om binnekort weer te verhuis nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.