Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
’n Kaapse skatkis vir versamelaars
Die imposante Harcroft House in Constantia in Kaapstad, ’n skatkis vol versamelaarsitems. Die inhoud van die herehuis word op 18 November deur Strauss & Co op die perseel opgeveil.

Die eklektiese inhoud van ’n imposante herehuis in Constantia in Kaapstad, gaan op 18 November deur Strauss & Co op ’n veiling verkoop word.

Harcroft House met sy ryk geskiedenis was die tuiste van die Britse egpaar Charles en Muriel Rycroft, wat in die 1950’s van Maleisië na Kaapstad verhuis het. Dié egpaar was kranige versamelaars met ’n fokus op Oosterse versamelskatte, onder meer kunswerke uit niersteen en ivoor, asook perkamentskilderye.

Die kunsversameling in Harcroft House sluit in Chinese en Japanse kunswerke. Links is die eetkamer met sy waardevolle porselein, silwer en eklektiese mengsel van oudhede.

Bina Genovese, mede- besturende direkteur van Strauss & Co, sê meer as 500 lotte gaan onder die hamer kom, wat insluit Chinese en Japanse kunswerke, Engelse en Chinese silwerware, ’n groot verskeidenheid keramiekware en oudhede. Dié oudhede is op besoeke aan China, Japan en die VSA verkry.

Die Rycroft-egpaar se ongewone liefdesverhaal het in 1936 begin toe Charles buite die destydse norm opgetree het en met Muriel, ’n geskeide vrou, getrou het.

Hulle het hul intrek geneem op ’n rubberplantasie aan die oewer van die Ayer Tawar-rivier in Perak in Maleisië. Die eiendom is in 1919 deur Charles se pa, Henry Rycroft, en sy sakevennoot John Harley gekoop, wat hul vanne gekombineer het en dit as Harcroft Rubber Estates geregistreer het.

In Desember 1941 het alles verander toe Japan Maleisië binne­geval het en Singapoer gebombardeer het.

Charles was sedert 1924 by die onderneming betrokke, waar hy onder meer rubber vervaardig en uitgevoer het. Die onderneming het gefloreer en Harcroft House is op die plantasie gebou. Die huis het elke moontlike gerief gehad en was gevul met oudhede wat op die egpaar se reise aangekoop is.

In Desember 1941 het alles verander toe Japan Maleisië binne­geval het en Singapoer gebombardeer het. Die egpaar het geen ander keuse gehad as om per motor na Kuala Lumpur en van daar na Singapoer te reis nie.

Charles het by die Auxiliary Fire Service betrokke geraak. In 1942 is Muriel eers na Bombaai en daarna na Kaapstad, waar sy in die Mount Nelson-hotel tuisgegaan het. In April 1942 is haar man deur die Japanners gevange geneem en eers in September 1945 vrygelaat.

Hy het hom by haar in Kaapstad aangesluit en in 1946 is die twee terug na hul geliefde Harcroft in Maleisië. Die eiendom is beskadig in die oorlog, maar hulle het begin om dit te herbou. Toe die 1950’s aanbreek, is die eiendom aan ’n Chinese egpaar verkoop en het hulle die eiendom in Constantia in Kaapstad by die Baxter-familie gekoop. Die huis is ook Harcroft genoem en daar is heelwat ooreenkomste tussen dié huis en die een in Maleisië.

Strauss & Co sê toegang tot Muriel se dagboeke en haar fotoalbums bied ’n magdom navorsingsmateriaal, asook foto’s van die interieurs van albei die huise. Sy is in 1974 oorlede en in 1981 het haar man met haar lewenslange vriendin Louise Jackson getrou. Hy is in 1998 oorlede en sy het tot en met haar afsterwe in 2014 in die ouderdom van 106 jaar in Harcroft gewoon.

Die veiling word op 18 November by die huis in Norton Dingle-keerom in Constantia gehou. Besigtiging is van Vrydag 15 November tot 17 November.

Vir meer inligting, besoek www.strauss­art.co.za.

Meer oor:  Constantia  |  Skatkis  |  Versamelaars  |  Kaapse Versamelstukke  |  Herehuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.