Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Namakwaland: SA se eie Serengeti

Gustaf Pienaar het onlangs weer Namakwaland besoek en opnuut besef watter spesiale stuk aarde dit is. Hy gesels ook oor ’n indrukwekkende wêreldkaart wat eersdaags ’n plekkie in sy vriende se droom-aftreehuis moet kry.

   

Skets: Hanlie Malan

My rekenaar het die afge­lope twee weke gekreun onder die vragte boodskappe van lesers wat van grensmuur-dispute vertel.

Ek het meestal nie antwoorde nie – en ek glo ook nie dat prosedeer in die howe die oplossing is nie. Iemand gáán verloor en kan daardeur finansieel geruïneer word.

Bure moet met mekaar praat en hul eie oplossings skep. Die sleutel is gee en neem. Vertroetel jul buurskappe – julle mag mekaar straks net eendag in die vroeë oggendure nodig kry . . .

Ek gaan dus vir ’n wyle wegstuur van stories oor grense en grensmure.

Ons het twee weke gelede vir die hoeveelste keer Namakwaland besoek.

Maar eers moet ek vertel van hoe ons Paarl-kinders ons bederf het met kaartjies vir ’n uitvoering deur die wonderbaarlike koor van die Universiteit Stellenbosch wat saam met Tuks Camerata opgetree het.

Ek gaan dus vir ’n wyle wegstuur van stories oor grense en grensmure.

En toe was dit Namakwaland. Die groot verrassing dié keer was die Hantam Nasionale Botaniese Tuin net buite Nieuwoudtville. Daar het ’n geesdriftige Colleen Rust ons vertel van die nege verskillende staproetes deur die park. Dit kronkel deur verskillende bodemgebiede, elk met sy eiesoortige bolplante, insekte, voëls en soogdiere.

’n Besoek aan dié nasionale bate is deur en deur die moeite werd – maar moenie haastig wees nie.

Wat my altyd van Namakwaland tref, is hoe gulhartig jy daar deur sy mense ontvang word.

Veral die boere – op wie se plase die plate en plate blomme hul veelkleurige gesiggies sonkant toe draai – is besonder verdraagsaam met besoekers wat dikwels onwetend op hul eiendomme “betree”.

Die bekende skrywer Theresa Papenfus vertel juis vandeesweek op haar Faceboek-blad van ’n gesprek met ’n boer op wie se grond hulle sonder moedswil beland het. “Daar is iets van die Hantam op sy gesig en skouers,” skryf sy. “Iets soos ruimte. Iets soos son. Iets wat kom deur seisoene, wat beur deur maer jare en blomjare, iets wat vasbyt tussen bossies en klip en kokerbome.”

Hy het geduldig vir hulle die regte pad beduie. G’n raas of baklei nie; net ’n rustige reghelp.

Hy het geduldig vir hulle die regte pad beduie. G’n raas of baklei nie; net ’n rustige reghelp.

Self het ek nog nie die Serengeti – met sy jaarlikse migrasie van miljoene wildebeeste – besoek nie. Baie Suid-Afrikaners reis spesiaal daarvoor noordwaarts. Toe ek daar in die Biedouwvallei tientalle bakkies, sedans en nutsvoertuie stadig tussen die blomme sien aankruie, het die gedagte by my opgekom: Namakwaland is Suid-Afrika se Serengeti. En ek wed jou: die spesieverskeidenheid van óns “Serengeti” is enorm groter as wat Tanzanië in die suide en Kenia in die noorde jou ooit kan bied. Bygesê, teen ’n fraksie van die koste.

O, (my aarde)!

Ons vriende Johann en Lenie het huis toe gekom ná ’n verblyf van ruim 15 jaar in die buiteland. Hul droom-aftreehuis nader tans voltooiing en hulle huur tot tyd en wyl in ons kontrei.

Johann nooi ons nou die dag om na hul wêreldkaart te kom kyk. Dit was ’n afskeidsgeskenk van sy kollegas in Europa.

Die kleurryke pragstuk van meer as twee meter by amper vier meter, gedruk op duursame viniel, lê oopgerol op hul sitkamervloer. Jy moet mooi trap om nie die Suidpool se brose yslaag te laat kraak of in die Stille Oseaan weg te sink nie.

Langer as ’n uur bekyk ons die wonderbaarlike planeet Aarde: Praat oor dié land en daardie oseaan; tob oor die talle konflikgebiede; verstom ons aan hoe groot Rusland is en help ons vriende kopkrap oor waar in die nuwe huis hierdie towertapyt tot sy reg sal kom.

Ek het eenkeer tevore ’n groter wêreldkaart gesien. Naby die Britse parlementêre kompleks in Londen kan jy ’n historiese ondergrondse bunker – die Cabinet War Rooms – besoek. Uit daardie bunker het Winston Churchill en sy kabinet die Britse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog bestuur.

Dit is steeds presies gelaat soos dit was toe die oorlog in 1945 tot ’n einde gekom het.

Teen die muur in die ruim “map room” is ’n reusewêreldkaart waarop alles in verband met die oorlog van dag tot dag bygehou is: konflikgebiede; skeepsbewegings; troepekonsentrasies; voorraadlinies – noem maar op. Dié elemente is met veelkleurige pennetjies op die wêreldkaart aangebring, sodat die besluitnemers in ’n oogwink ’n goeie beeld van die wêreldwye stand van sake kon kry.

Dít totdat jy besef dat as jy die westepunt van die kaart by die oostepunt aanlas, is dié twee supermoondhede in werklikheid heelwat nader aan mekaar geleë.

Op ’n dag was daar ’n insident by die Maagde-eilande, geleë op die “grens” tussen die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan. Die klerk het kopgekrap oor hul ligging op die kaart.

Een van Churchill se kabinetslede bely toe ruimhartig teenoor die klerk: “I’m afraid that I do not quite know where the Virgin Islands are.”

Sir Winston, wat die meeste van sy dae in daardie “map room” deurgebring het, het die immer teenwoordige sigaar uit sy mondhoek verwyder, oor sy leesbril na die kaart getuur en uiteindelik ook handdoek ingegooi: “Nor do I know, but I do trust that they lie a respectable distance from the Isle of Man.”

As ’n mens so na Johann-hulle se wêreldkaart kyk, word jy maklik verlei om te glo dat die VSA, heel links op die kaart, verskriklik ver van Rusland, heel regs, geleë is.

Dít totdat jy besef dat as jy die westepunt van die kaart by die oostepunt aanlas, is dié twee supermoondhede in werklikheid heelwat nader aan mekaar geleë.

Dit herinner my aan ’n ander storie – dié keer uit die dae van premier John Vorster.

Hy en een van sy adjunkministers het ’n krapperige verhouding gehad en dit het natuurlik tot ’n paar skinderstories aanleiding gegee.

Vorster het besluit om van die man ontslae te raak. “Kry vir hom ’n pos in die buiteland so ver weg van hier as wat julle kan,” was sy opdrag aan buitelandse sake.

Ná ’n paar weke het die diplomate aan Vorster gerapporteer dat hulle die kruiwa-karnallie as konsul-generaal in New Orleans, VSA, kon aanstel.

“Is dit ver genoeg, Meneer?” het die amptenaar van buitelandse sake glo met net so ’n tikkie sarkasme vir Vorster gevra.

“Ja!” het die premier geantwoord, en nadenkend bygevoeg: “As julle hom verder wegstuur, begin hy weer terugkom!”

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord algemene vrae. Stuur e-pos vir hom na: guspienaar@gmail.com

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Namakwaland  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.