Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Net een plek om te belê: V&A Waterfront-marina

Vergeet vir eers van ’n huis by die see langs Kaapstad se gesogte Atlantiese kusgebied.

As jy koop, moet jy in die Waterfront-marina koop, sê eiendomskenners. Foto: Verskaf

As jy ’n goeie eiendomsbelegging in die Moederstad wil maak, behoort jy ’n eiendom in die V&A Waterfront-marina te koop, voer Pam Golding Properties se agente in die stad aan.

Dít is nou mits jy dit kan bekostig.

Volgens Mariël Burger, Pam Golding Properties se agent vir die Waterfront en Mouille Point, dui Lightstone se inligting daarop dat eiendomswaardes in die Waterfront die laaste tien jaar met altesaam 165% gestyg het.

Die woonstelpryse daar het ook die hoogte in geskiet.

Die mediaanprys van woonstelle wat in die marinagebied verkoop is, het van verlede jaar tot dusver in 2018 van R9,75 miljoen tot altesaam R15,9 miljoen gestyg, sê Burger in ’n verklaring.

Dié syfers is gebaseer op altesaam 19 eiendomstransaksies wat in dié tydperk in die gebied beklink is.

Burger meen die Waterfront-marina word as een van die suksesvolste residensiële ontwikkelings in die wêreld geag.

Wat kry jy hier?

Die woonstelpryse in die Waterfront wissel tussen R6,89 miljoen en R69,5 miljoen.

Huise wat aan die seiljaghawe in die Waterfront geleë is, word vir minstens 30% meer verkoop as die eiendom wat op die Waterfront-kanale uitkyk.

Sedert eiendom in dié twee woongebiede in 2000 begin verkoop is, het die nominale opbrengste van die eiendom yslike groei van onderskeidelik 360% en 455% getoon.

Burger sê dat hoewel eiendomsverkope vanjaar effens laer was, daar steeds robuuste groei in die woonstelpryse is.

Dit word ook nog nie op hierdie stadium deur die verlangsaming geraak wat in die huismarkte aan die Atlantiese kus en in ander dele van die Kaapse metro ervaar word nie.

Hoekom moet jy koop?

Volgens kenners is dit meer as net die gesogte ligging en die mooi uitsigte wat van die woonstelle in die Waterfront-marina só aanloklike belegging maak.

As jy daar woon, is jy stapafstand vanaf al die geriewe wat die V&A Waterfront bied, sowel as sekere dele van die stad.

Inwoners het maklike toegang tot openbare vervoer soos die MyCiTi-busroetes en is ook naby aan Kaapstad se gewildste strande, sowel as lekker restaurante en winkels geleë.

Daar is ook heelwat groot maatskappye met hoofkantore in die gebied en die woonstelle daar kan dus maklik as verblyf vir korporatiewe besoekers verhuur word.

Die woonstelle is almal goed beveilig en bied amper dieselfde gemoedsrus as wat kopers op ’n beveiligde landgoed sou kry.

Meer oor:  Kaapstad  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.