Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nog 2 j. voor mense terugkeer kantore, winkels toe

Dit kan nog twee jaar of langer duur voordat mense na hul kantore, winkelsentrums en restaurante terugkeer, waarsku Andrew König, uitvoerende hoof van die eiendomsfonds Redefine.

Dit is egter moeilik om te voorspel hoe en wanneer dit gaan gebeur, maar König is oortuig die mens se inherente behoefte om fisiek, emosioneel en kultureel met ander mense in aanraking te kom sal uiteindelik meebring dat dinge ná die Covid-19-pandemie na normaal sal terugkeer.

Hy het gepraat op ’n mediasessie voor die geslote tydperk vir sy halfjaar tot einde Februarie, wat op 1 Maart begin. Redefine verwag om sy resultate vir die halfjaar op 17 Mei bekend te maak.

Intussen het Redefine gesien hoe besoeke aan sy winkelsentrums teen Oktober en November verlede jaar tot sowat 80% van die vlakke voor die pandemie herstel het. Leon Kok, nuwe bedryfshoof by Redefine, sê die herstel was egter van korte duur toe die tweede vlaag van die pandemie en die regering se hervatting van sekere inperkingsreëls ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Die meeste mense werk ook nog van die huis af, wat beteken die leegstaansyfer in die kantoorportefeulje is op 14,7%, die hoogste wat dit tot nog toe in Redefine se geskiedenis was.

David Rice, uittredende bedryfshoof, verduidelik die leegstaansyfer word boonop verbloem deur wat hulle spook- of skadu-leegstand noem, waar groot maatskappye kantoorruimte huur en dit dan onderverhuur. Redefine weet nie noodwendig hoeveel van die onderverhuurde ruimte ook leegstaan nie.

Maar benewens hulp aan eiendomshuurders wat sukkel om hul huurgeld te betaal, werk Redefine aan maniere om sy geboue steeds soveel moontlik benut te hou. Rice verduidelik die grootste impak op besoekersgetalle aan winkelsentrums was by groot streekwinkelsentrums. Mense het tydens die inperking meer aanlyn inkopies gedoen en slegs vir noodsaaklikhede dit gewaag om winkel toe te gaan.

By sekere winkeleiendomme bring Redefine dus nou meer geriefswinkels in, byvoorbeeld by die East Rand Mall het hy met Checkers ’n kontrak gesluit om ’n deel van die eiendom te betrek.

Redefine het ook talle restaurante gehelp om aan die gang te bly.

König sê Redefine sal eers met die goedkeuring van die halfjaarsyfers sê of hy besluit het om ’n dividend te verklaar.

Volgens König het die groep baie geleer uit Covid-19, soos om nie oorambisieus te wees nie, om meer realisties te wees met verwagtinge en om meer te begin fokus op omgewingskwessies en inklusiewe kapitalisme waar na die breër belanghebbersgemeenskap gekyk word.

Redefine mik byvoorbeeld om die sonkragstelsels op sy geboue uit te brei sodat al sy nuwe geboue van 2030 af geen kweekhuisgasse vrystel nie.

Redefine se strategie is steeds om niekernbates te verkoop sodat die verhouding van leningskuld tot eiendomswaarde laer is. Die groep het in Desember ’n studentebehuisingsprojek in Australië verkoop, wat hom R2,5 miljard in die sak gebring het, en wins van R1,2 miljard uit plaaslike verkope is in die afgelope ses maande inbetaal.

Teen einde Augustus 2020 was Redefine se plaaslike bates R65,4 miljard werd, en sy buitelandse bates R15,6 miljard.

König verwag nie dat batewaarde sedertdien met meer as 3% gedaal het nie.

Meer oor:  Redefine  |  Eiendom  |  Restaurante  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.