Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nóg ’n groot ontwikkeling in V&A goedgekeur
Die V&A Waterfront Foto: Facebook

Die V&A Waterfront in Kaapstad gaan verder ontwikkel word nadat nóg ’n ontwikkelingsprojek van byna R4 miljard in dié gebied goedgekeur is.

Die goedkeuring van die Gateway Precinct-plan, wat sowat R3,9 miljard gaan kos, kom ná die onlangse goedkeuring van die Harbour Arch- (R14 miljard) en die River Club-ontwikkeling (sowat R4 miljard).

Dan Plato, uitvoerende burgemeester, wat die uitbreiding goedgekeur het, het gesê die infrastruktuurontwikkeling en die werkgeleenthede wat daarmee gepaardgaan, hou groot voordele vir die stad se inwoners in.

In die konstruksiefase sal 1 100 werkgeleenthede geskep word, terwyl nog 1 000 permanente werkgeleenthede ná voltooiing van die projek beskikbaar sal wees.

Plato het gesê ná die negatiewe invloed van die nasionale staat van inperking op Kaapstad is hulle toegewyd daaraan om die “plaaslike ekonomie sterker as tevore te maak”.

Dié groot ontwikkelings en die werkgeleenthede wat daarmee saamkom, is baie positief vir die gebied, het hy gesê.

Van die belangrikste ontwikkelings wat deel van die Gateway Precinct-plan gaan wees, is uitbreidingsprojekte aan weerskante van Dokweg.

Plato het daarop gewys dat Erfenis Wes-Kaap ook die projek goedgekeur het.

Die bouhoogte in sekere dele oos van Dokweg sal op 60 m beperk word en die res van die ontwikkeling moet voldoen aan die metro se beleid vir hoë geboue om die effek daarvan op die omliggende geboue te versag.

Die invloed op die verkeer sal ook in ag geneem word, het hy gesê.

Die V&A Waterfront “is ’n plek wat nog dekades lank ’n attraksie vir plaaslike inwoners en internasionale besoekers sal bly”.

“As die metro die aansienlike en volgehoue beleggings deur die private sektor vergemaklik, sal dit die langtermynvolhoubaarheid van Kaapstad verseker,” het Plato gesê.

Donald Kau, woordvoerder vir die V&A Waterfront, het gesê die onderhandelings oor die uitbreiding het al in 2017 begin.

“Dit sal ontwikkeling vir kommersiële gebruik, kleinhandel, residensiële gebiede, die gasvryheidsbedryf, brandstof, parkering en voetganger-roetes insluit.

“Die eerste fase het reeds in die middel van Junie verlede jaar begin met die Caltex-vulstasie wat vir ’n kantoorontwikkeling gaan plek maak. ’n Ander vulstasie sal mettertyd gebou word.”

Meer oor:  V&A Waterfront
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.