Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nog ’n hotelgroep maan oor stil Desember

Die heropening van Suid-Afrika se grense is ’n positiewe stap om die land se toerismebedryf te laat herleef, maar dit gaan nie oornag tot ’n toestroming van toeriste lei nie, sê die hotelgroep Tsogo Sun.

Die Westin-hotel in Kaapstad, ’n gewilde bestemming vir konferensiegangers in die stad. Foto: Edrea du Toit

“Dit gee wel die internasionale mark sekerheid dat Suid-Afrika oop is vir sake. Dit behoort veral die Sandton- en Kaap-streek te bevoordeel en ons sien daarna uit om ons internasionale gaste met ons kenmerkende warm gasvryheid te verwelkom,” sê Marcel von Aulock, uitvoerende hoof.

Tsogo Sun se Kaapse hotelle, wat die Westin en Arabella insluit, verdien normaalweg sowat 60% van hul inkomste uit oorsese toeriste.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig die land skaf die rooi lys af van lande met hoë koronavirus-infeksiekoerse wie se inwoners Suid-Afrika nie mag besoek het nie. Toeriste moet steeds bewys hulle is negatief getoets vir die virus.

Verskeie toerisme-ondernemings en -bedryfsliggame het sedertdien die nuus verwelkom, maar gewaarsku dat die gewoonlik bedrywige somerseisoen steeds veel stiller gaan wees. Dis deels omdat voornemende toeriste reeds ander planne vir Desember gemaak het, maar ook omdat baie lande onderhewig is aan strenger inperkings wat mense verbied om landuit te vlieg.

LEES OOK: Toeriste nog sku om vakansie in SA te bespreek

Tsogo Sun het tydens vlak 5 van die inperking vir die Covid-19-pandemie slegs R117 miljoen verdien uit kwarantyn- en isolasiegeriewe waarvoor hy deur die regering en maatskappye gekontrakteer is. Dit sluit in ’n “bioborrel” wat vir Premiersokkerliga-spelers geskep is.

Tsogo het verlede week gewaarsku dat die beëindiging van Covid-19-Ters, die hulpskema vir werknemers wat tydelik afgelê is, beteken hy sal nog mense moet aflê omdat besprekings so traag styg. Daarna het Ramaphosa wel aangekondig dat die skema met nog ’n maand verleng is en dus ook salarisse sal help betaal tot 15 Oktober (teenoor net tot 15 September).

Die groep se totale inkomste vir die ses maande tot einde September was R335 miljoen, byna R1,8 miljard oftewel 84% minder as vir dieselfde ses maande van 2019.

Die maatskappy het ’n wesensverlies van 40,5c per aandeel gely teenoor 2019 se wesensverdienste van 10c per aandeel.

Die maatskappy het nie ’n dividend verklaar nie.

Van sy hotelle wat oop was, was net 21% vol in die ses maande, teenoor 59% verlede jaar. Die gemiddelde inkomste per beskikbare kamer het met twee derdes tot net R221 gedaal.

Tsogo Sun is van plan om die aandele in die Hospitality Property Fund (HPF) wat hy nog nie besit nie, te koop en HPF se denoteer.

Tsogo besit reeds 75% van HPF, ’n maatskappy wat 46 hotelle besit wat Tsogo Sun huur en bedryf, en nog agt wat deur derde partye bedryf word. Tsogo self bedryf 28 hotelle waarvan hy die eiendom besit of huur, 11 wat hy namens Tsogo Sun Gaming bedryf, en nog 11 wat hy vir derde partye bedryf.

Die maatskappy sê omdat Tsogo en HPF se werksaamhede soortgelyk is, maak dit sin om die twee te konsolideer. Aandeelhouers sal in die week wat kom moet stem oor die aanbod, waarin hulle 1,77 aandele in Tsogo Sun Hotels aangebied word vir elke HPF-aandeel wat hulle besit.

Intussen het twee ikoniese hotelle in die land, die Edward Hotel in Durban en Mount Grace in die Magaliesberg, weer hul deure heropen.

HPF besit dié eiendomme asook die Hazyview-hotel in Mpumalanga, maar dis tot vroeër vanjaar nog deur die internasionale Marriott-groep bedryf.

Marriott het in Junie aangekondig hy gaan nie meer die hotelle bedryf nie, wat die vrees laat ontstaan het dat die hotelle hul deure gaan moet sluit – die Edward ná 111 jaar en die Mount Grace ná 37 jaar. Tsogo het toe ingegryp en bedryf nou dié twee hotelle saam met die Hazyview-hotel wat Marriott ook bedryf het.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Vlak 1  |  Toerismebedryf  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.