Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nóg koopsentrums open gou
’n Kunstenaarsvoorstelling van die nuwe Cornubia Mall net buite Durban wat op 28 September sy deure oopmaak.

Suid-Afrika, wat reeds 24,4 miljoen m² se formele winkelsentrumruimte het, kry binnekort nóg twee groot winkelsentrums by.

Op 24 Augustus open die nuwe Thavhani Mall in Thohoyandou, Limpopo, met 50 000 m² se winkelruimte en op 28 September open die Cornubia Mall van 65 000 m² net buite Durban in KwaZulu-Natal (KZN). Elk van die sentrums het sy eie unieke aanbiedings en trekpleisters.

’n Lugfoto van die nuwe Thavhani Mall in Thohoyandou, Limpopo, wat op 24 Augustus open. Die sentrum hou kragtige ekonomiese geleent-hede vir die omliggende gemeenskap in.

Thavhani Mall, Thohoyandou

Die Thavhani Mall met byna 140 winkels, die grootste sentrum in Thohoyandou, gaan beduidende ekonomiese geleenthede vir plaaslike inwoners en sakemense ontsluit. Dié sentrum is ’n plaaslike inisiatief, wat al sewe jaar gelede die visie van die plaaslike sakeman Khosi Ramovha van Thavhani Property Investments was.

Om die droom te verwesenlik het hy ’n vennootskap aangegaan met die winkelsentrumontwikkelaar en belegger Flanagan & Gerard Property Development and Investment, wat die genoteerde Vukile Property Fund as medebelegger gekry het.

“Die Thavhani Mall is geïnspireer deur die positiewe uitwerking wat ’n groot sentrum in ’n gemeenskap teweeg kan bring,” sê Ramovha.

Hy sê daar is gevolglik plaaslike deelname aangemoedig.

Dit is duidelik te sien in die sentrum se huurdersmengsel, sy keuse van diensverskaffers en sy indiensnemingsinisiatief.

Onder die plaaslike handelsname met stewige wortels in die gebied tel VBS Mutual Bank, Zoe Exclusive, PIB Holdings, Vhutambo Edu-Toys, Next-Fashion, Spectacle Hut en Swawe Restaurant. Plaaslike franchisehouers sluit in MultiChoice, PostNet, Link Pharmacy, Spar Pharmacy en Sausage Saloon.

Die sentrumeienaars het drie plaaslike maatskappye as diensverskaffers vir die Thavhani Mall se bedryfsareas aangestel. Gwala Security gaan die veiligheidsdienste behartig, Musukume Investment Holdings die skoonmaakdienste en Gauflora die tuinuitlegdienste.

Die sentrum koester ook ’n positiewe verbintenis met die Thulamela Business Forum (TBF). “As deel van ons uitreiking na plaaslike belanghebbendes gee ons verskeie geleenthede by die sentrum deur aan die TBF, wat dan die geleenthede onder sy belanghebbendes versprei,” sê Paul Gerard van Flanagan & Gerard Property Development and Investment.

Die Thavhani Mall het reeds werk geskep in die bouproses en die sentrum se benadering tot permanente werkgeleenthede het tot 97 000 werkaansoeke gelei. Al die besonderhede van die aansoekers is op ’n databasis en die 137 kleinhandelaars wat in die sentrum gaan ruimte opneem, het daartoe toegang.

Dit is slegs die begin van die geleenthede wat die sentrum na die gemeenskap bring omdat die sentrum die kern van ’n veel groter ontwikkeling is.

Die Thavhani Mall is die fokuspunt van die groter mega-ontwikkeling vir gemengde gebruik, Thavhani City, wat op ’n perseel van 27 ha ontwikkel word. Dis ’n gedeelde projek tussen Thavhani Property Investments en die Thulamela-munisipaliteit.

Dit behels die ontwikkeling van die Thavhani-kantoorpark, ’n “motor-city” en private gesondheidsorggeriewe, wat by bestaande geriewe soos ’n biblioteek, ’n gemeenskapsentrum, ’n inligtingsentrum en die Thohoyandou-stadion met 40 000 sitplekke gaan aansluit.

’n Voorstelling van die fietsroete by die Cornubia Mall in KwaZulu-Natal.

Cornubia Mall, Durban

Op 28 September maak die ­nuwe Cornubia Mall in KwaZulu-Natal (KZN) oop. Wat dié sentrum van ander in die gebied onderskei, is sy maklike toegang van die N2-hoofweg, die M41 en Cornubia Boulevard, asook sy bestemmingsaanbieding, wat talle eerste ervarings in die provinsie insluit.

Dié sentrum bied ’n goeie verskeidenheid van kos-, mode-, leefstyl- en sportattraksies, wat ’n geïntegreerde buitelug-inkopie-ervaring bied.

Dele van die sentrum gaan met mekaar verbind word deur brûe, wandelweë en sypaadjies, wat inkopiegangers sal laat voel asof hulle terselfdertyd binne en buite is, ideaal vir die gunstige weer in KwaZulu-Natal.

Die bestemmingsaanbieding behels onder meer ’n Bounce-trampolienpark, ’n Cycle Lab-megawinkel van 2 000 m², asook ’n bergfietsroete van 70 km, wat by die sentrum begin en dan deur die groter Cornubia-groengordel kronkel. Daar is ook ’n Fives Futbol-aanbieding met drie buitelug-sokkervelde en ’n Nu Metro-kompleks met sewe skerms.

Fiksheidsfanatici kry ook toegang tot ’n nuwe Virgin Active-gimnasium by die hoofingang. Die kleinhandelaars sluit in ­Edgars, Ackermans, Truworths, Mr Price Sport en Woolworths.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.