Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Notering van ‘welvaartmyl’ maak beleggers opgewonde
Liberty se ikoniese Sandton City in die hart van Sandton – die land se welvaartmyl.

“Wie sal nie graag ’n deeltjie van dié voorkeurbates wil besit nie?” 

Só vra  Amelia Beattie, uitvoerende hoof van Liberty Two Degrees. Dit is die nuwe eiendomsbeleggingstrust (reit) waarin Liberty Holdings ’n deel van sy eiendomsportefeulje in Desember op die JSE gaan noteer, ’n aankondiging waaroor Netwerk24 Dinsdag berig het.

Genoteerde eiendom was die afgelope 20 jaar die bateklas wat die beste presteer het, met ’n gemiddelde jaarlikse totale opbrengs (inkomste én kapitaal) van 19%. Daarteenoor het aandele in dieselfde tyd ’n totale opbrengs van 16% gelewer, plaaslike effekte ’n totale opbrengs van 12% en kontant 9%.

Liberty Two Degrees gaan ikoniese ­eiendomme insluit wat nog nie vantevore in die genoteerde ruimte was nie. Dit sluit in Sandton City en Nelson Mandela Square in die hart van Sandton, die land se welvaartmyl. Liberty besit 75% van Sandton City en 100% van Nelson Mandela Square.

Sandton City, met winkelruimte van 146 803 m², is op twee na die grootste winkelsentrum in die land. Hy volg ’n kortkop agter Menlyn Park in Pretoria, wat tans in fases tot 169 253 m² uitgebrei word, wat dit die grootste sentrum in Afrika sal maak, en Gateway in Umhlanga met 166 636 m².

Die totale Sandton City-kompleks, insluitend die kantoor- en hotelruimte, beslaan 198 602 m².

Benewens die winkelsentrums besit Liberty ook tientalle kantoorparke landwyd in onder meer Century City in Kaapstad en Umhlanga aan die noordkus van KwaZulu-Natal.

Geleenthede in die res van Afrika sal nie 10% van die portefeulje oorskry nie.

Liberty se eiendomsportefeulje, wat al vir meer as 30 jaar bestaan, het oor die jare toenemend sy maatstaf vir groei van inflasie plus 5% oortref, veral danksy die defensiewe kleinhandeleiendomme wat die toets van die tyd deurstaan het. 

Die totale portefeulje is R30 miljard werd. 

Die reit sal ’n netto batewaarde van sowat R10 miljard hê, wat R4 miljard se nuwe kapitaal teen notering plus ’n R6 miljard-aandeel van die portefeulje behels. ’n Suksesvolle notering van die reit op die JSE kan die eiendomsportefeulje se waarde met tussen 3% en 5% verhoog.

Beattie sê die rede hoekom net ’n deel van die portefeulje aanvanklik genoteer word, is omdat daar van die bestaande aandeelhouers in die ongenoteerde eiendomsportefeulje is wat verkies om nie blootstelling aan ’n genoteerde instrument te hê nie weens effens groter volatiliteit as in regstreekse eiendom.

Thabo Dloti, uitvoerende hoof van Liberty, sê die kapitaal wat verkry word, sal Liberty in staat stel om sy bestaande portefeulje in Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara uit te brei en op te gradeer en blootstelling aan ’n veel wyer beleggingsgehoor te verkry.

Geleenthede in die res van Afrika sal nie 10% van die portefeulje oorskry nie.

Beattie sê hoewel Liberty Two Degrees tydens die notering slegs aandele aan institusionele beleggers sal uitreik, is daar ’n eksklusiewe geleentheid vir kleinhandelkliënte en finansiële adviseurs om hul belegging oor te skakel na ’n nuwe eiendomsportefeulje te belê wat uitsluitlik aandele in die genoteerde reit gaan koop.

Liberty Two Degrees gaan deur dieselfde span binne Stanlib bestuur word wat vir jare die bestuur van Liberty se eiendomsportefeulje onder leiding van Beattie behartig het.

Meer oor:  Stanlib  |  Liberty  |  Kleinhandeleiendom  |  Kantooreiendom  |  Reits  |  Handelseiendom  |  Reit  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.