Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Notre Dame-katedraal was nie verseker

Die Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk, was nie verseker nie.

Reuters het voorheen berig daar word gereken dit kan sowat $8 miljard kos om die skade te herstel ná die brand op 15 April, wat groot dele van die gebou, insluitende ’n dak met houtbalke, beskadig het.

Ben Dyson, skryf in ’n artikel vir die kredietgradeerder Standard & Poor’s Global Market Intelligence dat die katedraal nié deur groot versekeraars soos Ecclesiastical Insurance Office in Londen verseker is nie.

Die katedraal behoort aan die Franse regering, wat beteken die regering “verseker dit self”.

Versekeraars sal moontlik verantwoordelik wees om eise te betaal waar kunswerke verseker was of waar kontrakteurs aanspreeklikheid moet aanvaar vir hul betrokkenheid in die brand, indien dit wel die geval is.

“Die staat is groot, groter as enige versekeraar, so dit is hoogs waarskynlik hy besit nie net die gebou nie, maar ook die inhoud daarvan, en het dit ‘self verseker’,” sê Robert Read, hoof van kuns by die versekeraar Hiscox in Londen.

Read sê die kontrakteurs wat herstelwerk aan die katedraal doen, sal ’n beleid hê, insluitende ’n aanspreeklikheidsbeleid, met perke. Dit is volgens hom egter net “ ’n druppel aan die emmer in vergelyking met wat die werklike koste van die herstel van die katedraal is”.

Die Franse versekeraar Axa het bevestig hy verskaf siviele aanspreeklikheidsversekering aan twee van die kontrakteurs wat aan die katedraal werk. Hy het egter nie bekend gemaak wat die bedrag is waarvoor hulle verseker is nie.

Die Notre Dame-katedraal is op 15 April in ‘n brand verwoes.Foto: Reuters

Langer as vyf jaar

Versekeraars meen dit gaan definitief baie langer neem as vyf jaar om die katedraal weer tot sy volle glorie te herstel.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk, het onderneem dat die katedraal binne vyf jaar herstel gaan word.

Honderdmiljoene euro is binne dae deur ryk sakelui en maatskappye geskenk om vir die herstel van die katedraal te help betaal.

“Hoewel jy moontlik ’n bruikbare gebou in vyf jaar sal kan hê, twyfel ek dit sterk of die hele projek só vinnig afgehandel sal word,” sê Paul Humphris, ’n kenner van kerkeise by die Ecclesiastical.

Hy sê die grootste uitdaging is dat daar ’n groot tekort is aan vaklui en materiale wat nodig gaan wees om die ornamentele en dekoratiewe kenmerke van die gebou te herstel.

Ecclesiastical was die versekeraar wat vir die brandskade aan die York-katedraal in 1984 in die noorde van Engeland moes betaal.

Read meen dit gaan waarskynlik eerder 20 jaar neem om die katedraal te herstel.

Humpris sê nóg ’n uitdaging is dat daar dikwels streng reëls is wat betref hoe historiese geboue herstel mag word.

“Daar is ’n geval waar ons ’n steengroef in Italië weer moes oopmaak net om die regte marmer in die hande te kry soos wat in die gebou wat ons herstel het gebruik is,” sê Paul Redington, ’n makelaar by die versekeraar Zurich in Brittanje.

Die glasdak wat die argiteksfirma Vincent Callebaut Architectures vir die Notre Dame-katedraal voorstel. Foto: Vincent Callebaut Architectures

Glasdak vir Notre Dame

’n Glasdak wat sonkrag kan opwek, kan nie net krag aan gebou rondom die Notre Dame-katedraal verskaf nie, dit kan selfs groente en vrugte vir die stad se haweloses produseer.

The Independent berig die argiteksfirma Vincent Callebaut Architectures stel voor dat die ikoniese gebou ’n nuwe baadjie aantrek wanneer hy gerestoureer word.

Glaspanele in die plafon wat die dak van die binnekant skei, sal natuurlike lig van die katedraal van bo af inlaat.

Waterstofbrandstofselle in elk van die panele sal die sonkrag berg, en as meer en meer energie geabsorbeer word, kan die oormaat na die nabygeleë geboue oorgedra word vir krag.

Die lig wat deur die nuwe panele vloei, sal dalk egter die effek van die loodglasvensters verminder.

Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Notre Dame  |  Versekering  |  Eiendom  |  Notre Dame-Katedraal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.