Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nuwe lewe in Hillfox-sentrum geblaas

Die regte huurdersmengsel tesame met ’n opknapping vir ’n spesifieke kleinhandeleiendom kan wondere vir huurgroei verrig, veral in ’n moeilike ekonomiese omgewing met heelwat mededingers in die mark.

Die Food Lover’s Market met ’n reuse-winkel van 6 475 m² by die Hillfox-sentrum.

Eienaars van kleinhandeleiendom reken dit is tans gunstiger om in bestaande eiendomme te belê, weens ’n tekort aan verkrygings teen die regte prys.

’n Goeie voorbeeld waar die regte huurders en ’n gefaseerde opknapping nuwe lewe in ’n ouer kleinhandeleiendom geblaas het, is die Hillfox-waardesentrum met ’n totale bruto verhuringsruimte van 38 245 m² in Roodepoort, wat aan die genoteerde Vukile Property Fund behoort.

Die sentrum, wat in 1994 opgerig is, het meer as 200 000 m² se kleinhandelkompetisie in 10 km langs Hendrik Potgieter-weg en dit was nodig om dit vir die volgende dekade te herposisioneer.

Itumeleng Mothibeli, batebestuurder by Vukile, sê die eiendom vind groot baat by ’n opknapping in fases van R36,9 miljoen en verskeie nuwe huurders wat ingebring is om die sentrum relevant te maak vir die omgewing waarin dit handel dryf.

“Tussen September 2013 en September 2016 het die sentrum huurgroei van 33% ervaar.” Dit is reggekry deur ’n verskeidenheid huurders in te bring onder meer die Food Lover’s Market met ’n reuse-winkel van 6 475 m², Tafelberg Furnishers met 2 972 m², ’n Viva-gimnasium met 1 987 m², ’n Toy Factory en Gas and Green.

Die Food Lover’s Market is die groep se vlagskipwinkel en vrugte en groente verteenwoordig 40% van die winkel se omset.

Mothibeli sê die plan is verder om ses sokkerbane in die eerste kwartaal van 2017 aan die agterkant van die sentrum in te rig.

Navorsing deur Urban Studies toon dat 61% van die inkopiegangers aan die Hillfox-sentrum van Roodepoort kom, 19% van Johannesburg en 10% van Krugersdorp. Die oorgrote meerderheid is vroulik met ’n gemiddelde inkomste van R30 000 per maand, wat in die leefstylmaatstaf- (LSM) inkomstegroepe 9 tot 10+ val.

Ina Lopion, Vukile se uitvoerende direkteur: batebestuur, sê die groep gaan ook R114 miljoen aan ’n uitbreiding en gedeeltelike opknapping by sy winkelsentrum in Dobsonville in Soweto bestee. Sy sê dit kom neer op ’n gunstige verwagte opbrengs in netto inkomste van 9,9%.

Die projek behels dat bestaande kantore op die perseel gesloop gaan word en die sentrum met sowat 6 000 m² vergroot gaan word.

Nuwe huurkontrakte is onder meer gesluit met Pick n Pay, Clicks en Food Lover’s Market. Die verwagte voltooiingsdatum vir die opknapping is Julie 2017. “Dit sal die sentrum onder die vier topsentrums in Soweto plaas.” Die ander is die Jabulani Mall, Maponya Mall en Protea Glen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.