Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nuwe wet oor aktes nodig vóór stormloop vir grond

’n Wetsontwerp wat ’n elektroniese akte-registrasiestelsel in die vooruitsig stel, word tans deur die parlement oorweeg.

Die prosesse om titelaktes te registreer, word nog met die hand gedoen. Foto: Pixabay

Die wetsontwerp sal voorsiening maak vir die doeltreffende registrasie van groot volumes titelaktes, vinniger beskikbaarstelling van dokumente aan kliënte, beter akkuraatheid, asook openbare toegang tot sekere inligting en veiligheidsmaatreëls.

Dit bepaal dat die hoofregistrateur van aktes ’n elektroniese akteregistrasiestelsel moet vestig en onderhou. Die huidige elektroniese stelsel is net ’n register van eiendomme, en alle prosesse word nog met die hand hanteer.

Luidens ’n nota wat by die wetsontwerp aangeheg is, is die elektroniese stelsel onder meer nodig omdat die volume van dokumentasie gaan toeneem namate die regering se grondhervormingsprogram vorder.

Mark Heyink, ’n prokureur wat spesialiseer in inligtingveiligheid, het namens die Regsvereniging van Suid-Afrika in die parlement ’n voorlegging oor die wet gedoen. Hy verwelkom die wetsontwerp.

“Om die verwagte 20 miljoen titelaktes te hanteer teenoor die huidige 7 miljoen, is nie ’n ligte taak nie. Grondeiendomsbesit is ’n brandpunt in Suid-Afrika en die sosio-ekonomiese belangrikheid daarvan om ’n bekostigbare en doeltreffende meganisme te hê om aan almal wat daarop geregtig is titelaktes te gee, kan nie geïgnoreer word nie,” sê hy

Sónder die gebruik van moderne tegnologie sal ’n mens dit beswaarlik regkry, sê Heyink, maar hy waarsku ook dat die huidige stelsel nie bloot gedigitaliseer moet word nie. Hy sê ’n multidissiplinêre benadering moet gevolg word, wat geloofwaardige tegnologie en kennis van kubersekerheid insluit.

Die hoofregistrateur van aktes moet ’n belangrike rol speel, maar ook kenners uit onder meer die bankwese, plaaslike owerhede en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens raadpleeg, sê hy. Oordragprokureurs gaan onmisbaar bly en die regsberoep sal sy lede moet heroplei sodat hulle die vaardighede het om die elektroniese stelsel tot voordeel van almal te gebruik.

Andrew Madella, ANC-LP en lid van die komitee, sê dié wet moes al lankal ingestel gewees het. “As dié stelsel eers ingestel is, sal amptenare nie meer ’n verskoning hê vir prosesse wat lank neem nie.”

Ken Robertson, ’n DA-LP in die komitee, sê die wetsontwerp is progressief, maar die DA is tog bekommerd dat die wet dalk te haastig deurgedruk word, en dat nie al die belangrike vrae gevra en beantwoord is nie.

“Wat gebeur as die stelsel breek? Gaan daar ’n stelsel wees wat as rugsteun dien? Is dit moontlik om dokumente wat verlore geraak het te herwin?”

Hy sê dit moenie moontlik wees om die stelsel te kraak en die inligting te misbruik nie.

Die wetsontwerp is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor landelike ontwikkeling en grondhervorming aanvaar en moet nou deur die Nasionale Vergadering oorweeg word.

Meer oor:  Titelaktes  |  Eiendom  |  Grondbesit  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.