Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Nuwe winkelsentrums knou bestaandes

’n Vlaag van nuwe winkelsentrums wat landwyd opgeskiet het en nóg aan die kom, is besig om bestaande sentrums te knou.

Hyprop se The Glen-winkelsentrum in die suide van Johannesburg.

Suid-Afrika het ’n verbysterende meer as 23 miljoen m² se formele winkelsentrumruimte, wat ’n ooraanbod in sommige metropolitaanse gebiede tot gevolg het, meen van die land se grootste winkelsentrumeienaars.

Dié ooraanbod raak bestaande sentrums se handelsdigtheid (omset per vierkante meter) en kring ook uit na die omset van die kleinhandelaars namate kleinhandel-kannibalisering inslag kry.

Kannibalisering is ’n situasie waar ’n kleinhandelaar ’n nuwe winkel naby aan ’n bestaande een sal open in die hoop dat dit nuwe inkopiegangers sal lok, wat nie altyd die geval is nie. Dit het ’n impak op die winsgewendheid van die winkels.

“Die groei in die handelsdigtheid van nege sentrums in Growthpoint se winkelsentrumportefeulje van 58 sentrums is die afgelope boekjaar laer gedruk, hoofsaaklik weens nuwe kleinhandelontwikkelings in die sentrums se primêre opvanggebied,” het Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint, die afgelope week op die bekendmaking van die genoteerde eiendomsreus se resultate vir die jaar tot einde Junie gesê.

Hy sê die ooraanbod van ruimte was eers net in die kantoorsektor sigbaar, maar het nou na die kleinhandeleiendomsektor oorgespoel.

Die handelsdigtheid van die groep se sentrums in welvarende gebiede het in die boekjaar teen 7,1% op ’n jaargrondslag toegeneem. Growthpoint se dividend vir die jaar tot einde Junie was 6% hoër op 183,8c per aandeel.

Die gejaag na markaandeel het tot kanni-balisering gelei.

Pieter Prinsloo, uitvoerende hoof van die spesialis-winkelsentrumreus Hyprop, sê die suide van Johannesburg het ’n ooraanbod en die handelsdigtheid van die groep se The Glen-winkelsentrum het in die boekjaar tot einde Junie 9% laer geëindig as ’n jaar gelede.

“Dit is grootliks weens die koms van The Mall of the South in die gebied en The Mall at Newmarket, wat albei in 2015 hul deure geopen het.” The Glen lok egter steeds meer as 1 miljoen besoekers per maand.

In kontras met The Glen, het Hyprop se ander sentrums se omset per vierkante meter flink gegroei. Die Rosebank Mall in Johannesburg se handelsdigtheid het met 18% op ’n jaargrondslag toegeneem van ’n lae basis af omdat die sentrum onlangs gemoderniseer en uitgebrei is en dié van Canal Walk in Kaapstad met 9%.

Prinsloo sê die groei in die groep se handelsdigtheid het egter die afgelope drie jaar verlangsaam tot ’n gemiddelde van 5,2% teenoor 7% in die verlede.

Hyprop het nietemin ’n blink vertoning gelewer die afgelope boekjaar en sy finale dividend was 14,9% hoër op 322,10c per aandeel, wat die dividend vir die volle jaar op 619,9c per aandeel te staan gebring het.

Marc Wainer, uitvoerende voorsitter van Redefine, sê om ’n nuwe winkelsentrum te ontwikkel, moet die bekende kleinhandelaars hulle tot ruimte verbind, wat nie in die verlede ’n probleem was nie omdat hulle gretig was om hul markaandeel uit te brei. Die gejaag na markaandeel het egter tot kannibalisering gelei, waar hul winste en dié van die sentrum in die gedrang kom.

Die binnekant van die The Glen-winkelsentrum.

“Ons het nou die punt bereik waar kleinhandelaars langtand ruimte in nuwe ontwikkelings gaan opneem en eerder hul bestaande ruimte gaan konsolideer,” sê hy.

Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se eiendomsfondse, sê die kleinhandelmark raak toenemend mededingend weens al hoe meer winkelsentrumruimte. “Voetetellings en verkoopsyfers is besig om te val en by The Glen het verkope met tussen 10% en 15% afgeneem.”

Hy sê die nuwe Mall of Africa het ook ’n negatiewe impak op sentrums in die omliggende gebied. Hy verwag dat die groei in die handelsdigtheid veral in groter winkelsentrums verder gaan verlangsaam in die lig van die gedempte ekonomiese omgewing en kannibalisering. Dit kan tot hoër okkupasiekoste lei.

Marius Muller, uitvoerende hoof van Pareto wat onder meer Menlyn Park in Pretoria en Cresta in Johannesburg besit, sê die groep sien nog nie ’n negatiewe tendens in die groei in sy handelsdigtheid nie.

Hy skryf dit toe aan die feit dat die sentrums oorheersend is in hul gebiede en ook Pareto se beduidende besteding om die sentrums relevant te hou in die huidige ekonomiese omgewing.

“Kleinhandelaars se voortgesette gejaag na markaandeel is egter ’n bekommernis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.