Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Ombud gee nou meer as grys hare

Indien ek in 1999 sou kon voorsien het dat ons ombuddiens maar net soos die vele ander staatsinstellings voor korrupsie en wanbestuur sou swig, sou ek nie in my rubriek oor die voordele van ’n ombudsman geskryf het nie.

Ook sou dr. Edwin Conroy, wat die gedagte vir ’n ombuddiens aan die destydse parlement voorgelê het, hom waarskynlik weerhou het om dié gedagte te ondersteun.

Tertius Maree

Ek verwys na die nuus wat die deeltitelbedryf verlede week geruk het dat nagenoeg R80 miljoen van eienaars se bydraes tot die ombuddiens waarskynlik weens wanbestuur en erger verlore is. Hoe kan van eienaars en skemas verwag word om aan te hou bydra as hul swaarverdiende geld eenvoudig in ’n donker gat verdwyn?

En hoe tragies is dit nie dat ’n instelling met uitstekende potensiaal so ondermyn – indien nie noodlottig verwond – word deur die gierigheid en oneer van sommiges wat in leiersposisies aangestel word.

Waarom swig morele waardes voortdurend voor die aantrekkingskrag van geld?

Vir dié wat die nuus egter nog nie gehoor het nie: Ongeveer R80 miljoen van die geld wat aan die ombuddiens betaal is, het verdwyn weens ongemagtigde beleggings in die bankrot VBS Mutual Bank. Dié bank is bekend daarvoor dat hy na bewering beleggings lok deur kommissie te betaal aan leiersfigure van instansies wat aansienlike hoeveelheid geld hanteer.

Wat meer is – was dit nie vir ’n paar eerbare lede van die beheerraad nie, dan sou die skande toegesmeer gewees het.

Waarom word aanstellings soos by die ombuddiens gemaak sonder enige insette van die mense wat die meeste belang daarby het en wat vir die diens betaal?

Die rede is eenvoudig dink ek: Die wil ontbreek by laasgenoemdes om op ’n georganiseerde wyse op te tree.

Ek het dit ondervind toe ek vroeër jare ge­poog het om Nasto, ’n vereniging van deeltiteleienaars, tot stand te bring.

Daar was eenvoudig net nie genoegsame belangstelling nie.

Jy kan dan sê dat indien deeltiteleienaars nie die moeite wil doen om saam te werk nie, verdien hulle wat na hul kant toe kom.

Groot bedrae geld word steeds aan die diens oorbetaal en ons verdien die versekering dat dit nie steeds in ’n bodemlose put verdwyn nie.

Totdat dit duidelik word wat die volgende stap gaan wees, stel ek voor dat alle bydraes eers op ys geplaas en in die trusteerekening van ’n bestuursagent of prokureur inbetaal word.

Eienaars moet steeds hul ombudsheffings aan hul trustees of bestuursagente betaal, maar die regspersoon kan die geld eers opsysit.

As individuele eienaars weier om die heffings aan hul regspersoon te betaal, moet die trustees stappe doen om dit in te vorder.

Die noodsaaklikheid vir ’n vereniging van eienaars het nou al te duidelik geblyk. Dié organisasie sal kan aandring om op die ombudsraad, sowel as die deeltitel-adviesraad te sit.

Afgesien van beweerde korrupte amptenare is daar ook heelwat wat aandag moet geniet wat die wetgewing en regulasies betref. Eienaars kan slegs hiertoe bydra as hulle deur middel van ’n sterk organisasie optree.

Die Ombudswet bepaal dat die bydraes aan die ombuddiens ’n verpligting (dus ’n uitgawe) van die regspersoon is. Dit moet gevolglik in die begroting opgeneem en per deelnemingskwotas toegedeel word.

Nou kom die minister en skryf per regulasie voor dat hierdie uitgawe van die regspersoon nie volgens deelnemingskwotas nie, maar volgens ’n heel ander formule van eienaars verhaal moet word.

Dié voorskrif poog om ’n wet te wysig – iets wat nie by wyse van regulasie gedoen mag word nie. Dit is dus ultra viresoftewel buite sy mag. Die gevolg is dat die oplegging van die verpligting om heffings aan die ombud te betaal, ongeldig is en dat gelde wat tot dusver oorbetaal is, onwettig ingevorder is.

Hierdie stellings geld net ten opsigte van deeltitelskemas en nie noodwendig vir ander tipes behuisingsoorde nie. Indien die ombuddiens moet voortleef, sal die owerhede vinnig moet inspring om al hierdie sake reg te stel.

  • Trustees en bestuursagente wat vir Maree se opleidingskursus wil inskryf, kan e-pos na louise@section.co.za stuur.

Meer oor:  Tertius Maree  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.