Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Onplesierige onderonsie met Karel

Waarskuwing vir sensitiewe lesers: As jy ’n onvermengde bewonderaar van wyle Karel Schoeman is, moet liefs nie verder lees nie, skryf Gustaf Pienaar oor ’n ontmoeting met die skrywer ’n paar jaar gelede. 

Wyle Karel Schoeman se handtekening by ’n skets van hom in die boek My Paarl (links) en (bo) ’n brief wat hy vir ’n Bloemfontein-vriend geskryf het en nog as “Tromp Schoeman” (sy doopnaam) geteken het. Foto’s: Gustaf Pienaar

Op ’n aand in 2015 is ek en vroulief Corlina gaste op ’n feestelike 60ste verjaardagviering van ’n dierbare vriend.

Dit is gehou op Onze Rust – pres. M.T. Steyn se historiese plaas naby Bloemfontein.

Vooraf het my vriend my vertel dat die gasvrou op Onze Rust Karel Schoeman goed ken. Hy wis dat ek al lank op Schoeman se spoor is om van sy boeke vir my te teken. “Vra haar om vir jou die knoop deur te hak,” stel hy voor.

Ek het al uit talle oorde gehoor dat Schoeman ’n “snaakse” mens is: “Hy teer skaamteloos op mense,” het iemand gesê. “Onvoorspelbaar,” was ’n ander se mening. “ ’n Totale askeet,” het nog iemand bygevoeg.

Nietemin, die hoop beskaam nie, en ek soek drie Schoemans uit wat ek graag geteken wil hê.

Ek skryf vir hom ’n briefie waarin ek hom (erg nederig) vra om juis dié drie vir my te teken. Met die boeke en my brief netjies in ’n boks, verkas ons Vrystaat toe. Op die partytjie spreek ek en die gasvrou af dat ek die boeke by my vriend sal laat. Sy sal dit by hom kry en ’n reëling met Schoeman probeer tref.

Soos die noodlot dit egter wil hê, bly die boeke vergete in ons motor toe ons vir ’n familiebyeenkoms aanry Gauteng toe.

Toe die ontdekking: Ek het my ortopediese kopkussing, wat ek deesdae oral saampiekel, vergeet op Onze Rust se nabygeleë gasteplaas Leeuwfontein, waar ons oornag het.

Nou moet ons op ons terugrit weer oor Bloemfontein ry om die kussing te gaan haal.

Die gasvrou beloof om dit vir my te hou en sy bied gulhartig aan om te reël dat Schoeman op die afgesproke dag op Leeuwfontein sal wees, dan kan ek hom self vra om my boeke te teken.

Ons kom daardie dag net ná middagete daar aan. By die agterdeur word ons deur die gasvrou verwelkom. Sy beduie met ’n kopknik na die aanliggende eetkamer.

Ek volg die wenk en sê hard genoeg sodat Schoeman my kan hoor: “Ons kom net gou die kussing haal.” Sy lei my die eetkamer in en daar sit Schoeman, besig om te peusel aan kaas en beskuitjies, klaarblyklik ter afronding van wat straks ’n voortreflike middagmaal was.

Daar’s nog rooiwyn in die glase, merk ek. Schoeman dra ’n bril; sy gesig is nie so skraal soos wat dit op betreklik onlangse foto’s lyk nie en sy hare is ook nie so yl nie. Trouens, hy lyk vir my nogal jeugdig en gesond.Schoeman kyk skaars op toe die gasvrou sê: “Laat ek julle voorstel aan my vriend, Karel Schoeman”.

Die tjek is in 1904 getrek en die betekenis daarvan is dat Schoeman in sy boek oor Sutherland (Die wêreld van die digter, 1986) skryf dat daar bitter min oor Bismarck Louw bekend is. My 'ontdekking' werp nou ’n nuwe lig op Louw senior.

Ek beweeg nader na waar hy sit en sê iets soos: “Mnr. Schoeman, dit is vir my ’n groot eer om u te kan ontmoet.” Hy weier om my hand te skud.

Ietwat verbouereerd vervolg ek: “Dis al jare dat ek wens vir ’n persoonlike kennismaking met u. Ek het toevallig in my motor drie van u boeke, en het gewonder of u nie . . .”

“Ek teken géén boeke nie!” val Schoeman my driftig in die rede, en hy slaan met die regtervuis op die tafel dat die eetgerei so wip. Vroulief Corlina neem die wyk.

Onthuts gooi ek wal: “Wag totdat u sien wat ek saamgebring het.” Ek gaan haal die boks met boeke in die motor en wys vir hom die afskrif van ’n brief wat hy in 1967 vir ’n Bloemfontein-vriend geskryf het en nog as “Tromp Schoeman” (sy doopnaam) geteken het. (Die oorspronklike is in my besit – ’n ruimhartige geskenk van ’n vriend op Robertson.)

Daar kom ’n sprankie menslikheid in Schoeman se koue, blou oë. “Dis vóór ek oorsee gegaan het,” mymer hy.

Ek wys vir hom my resensie van Eroica, wat ek in 1972 vir Die Transvaler geskryf het. Hy stel nie belang om my stokou eksemplaar te teken nie: “Dis ’n swak boek. My boek oor Shakespeare is baie beter”. Ook sy Die laaste Afrikaanse boek skuif hy opsy – ongeteken.Uiteindelik probeer ek hom troef met ’n oorspronklik getekende tjek van Bismarck Louw – die beroemde digterbroers se pa – waarvan ek ’n paar in my besit het.

Ek het nie lank vantevore nie op ’n interessante dokumentevonds uit Louw se dae as prokureur op Sutherland afgekom; dit is tans tydelik in my besit.

Die tjek is in 1904 getrek en die betekenis daarvan is dat Schoeman in sy boek oor Sutherland (Die wêreld van die digter, 1986) skryf dat daar bitter min oor Bismarck Louw bekend is. My “ontdekking” werp nou ’n nuwe lig op Louw senior.

Nege bekende Afrikaanse skrywers deel daarin hul herinneringe aan die Paarl: Alba Bouwer, Izak de Villiers, W.A. de Klerk, Elsa Joubert, P.H. Nortje, Dirk Richard, Adam Small, M.M. Walters en – wag daarvoor – Karel Schoeman.

Ek bied die tjek vir Schoeman aan: “Gebruik dit as ’n boekmerk,” stel ek voor. “My ma is in 1904 gebore,” sê hy. “Maar nee dankie, ek stel nie belang nie.” Ek vra of hy self Sutherland besoek het terwyl hy aan die boek gewerk het, en tot my verbasing – eerder: tot my teleurstelling – antwoord hy: “Nee wat, dit was nie nodig nie; ek kon als wat ek wou weet in die argiewe kry”.

Tog wek hy die indruk dat hy oral in Sutherland se strate gewandel het en die Louw-huis persoonlik besoek het, want hy vertel onder meer van die Vrymesselaarsimbole bokant die voordeur. Hy teken oplaas ook dié boek nie.

Dit was naastenby die einde van ons ontmoeting. Desperaat probeer ek nogeens: “As u dan nie een van u boeke wil teken nie, sal u asseblief my handtekeningboekie teken?”

“Ek teken níks nie,” antwoord hy, steeds driftig.

Ons verkas woordeloos; eintlik: stert tussen die bene. Eers toe ons die N1-suid in die rigting van verre Vleesbaai vat, sê ek vir vroulief Corlina: “So ’n ou swerkater!”

Dis, tot my innige spyt, hoe ek Karel Schoeman sal onthou. Ja, straks wás dit iets soos ’n “lokval”, maar dis nie hoe ’n bekroonde skrywer met sy kliënte – mense kóóp immers sy boeke – behoort om te gaan nie.Maar wag, die storie is nie klaar nie: Laat verlede jaar word ek onverwags die trotse besitter van ’n boek, My Paarl, wat in 1987 – toe dié Bolandse dorp 300 jaar oud was – die lig gesien het.

Nege bekende Afrikaanse skrywers deel daarin hul herinneringe aan die Paarl: Alba Bouwer, Izak de Villiers, W.A. de Klerk, Elsa Joubert, P.H. Nortje, Dirk Richard, Adam Small, M.M. Walters en – wag daarvoor – Karel Schoeman.

By elkeen se bydrae is ’n fraai skets van die skrywer en álmal is oorspronklik deur hulle by die betrokke sketse geteken. Tot Schoeman het geteken . . .

“Die wiel het gedraai,” merk vroulief op.

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Karel Schoeman  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.