Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Ons het ’n katjie, ons het ’n huis

Wat wag nadat jy jou droomhuis gekry het? Armdruk, onderhandelinge en baie papierwerk, skryf Landi Slatter.

Landi Slatter en haar man, Jaco.

Karen Zoid en Francois van Coke sing: “Ons het ’n hond . . . ons het ’n huisie.”

Nou ja, hier by ons is dit ’n geval van ons het ’n katjie en is op soek na ’n huisie.

“Complex living” doen die woord gestand – dis kompleks. Elke kompleks het ’n hoofseun en ’n spesifieke stel reëls.

Om toestemming te kry om die kat te kry, moes ek omtrent my diepste geheime ontbloot. Dis ’n wonder hulle het nie aangedring op ’n bloed- en urinemonster nie.

Nadat ons uiteindelik vir kiets gekry het, kry ons een middag ’n kennisgewing: voortaan sal geen nuwe katte in die kompleks toegelaat word nie. Hulle “beskadig die gemeenskaplike beddings.”

In elk geval, toe begin ons huis soek. Darem nie net oor die kat-situasie nie, maar ook omdat ek en my man al ’n ruk getroud is en “reg” voel vir dié groot stap. Uiteraard maak jy maar jou sommetjies en kyk wat jy kan bekostig. Laat ek jou dit vertel, as jy nié in die gelukkige groep van mense val wat R2,5 miljoen plus kan bekostig nie (én jy bly nog in Pretoria ook) dan neem dit ’n rukkie voor jy dié plek kry. Ons het uiteindelik so ’n maand terug die perfekte plek gekry ná maande van opwinding as jy die foto’s sien, gaan kyk, teleurgesteld wees en weer voor begin.

So, hier is jou huis uiteindelik, maar wat nou?

Uit eie ervaring, hier is wat volg:

1. Die prys

Jy druk arm met die eienaars (direk of via ’n agent) oor die prys. Ons het eers minder aangebied en moes toe bietjie toegee, maar ons het dit op die ou end vir ’n goeie prys gekry.

2. Die aanbod

Nou teken jy (en die eienaars) ’n amptelike koop-aanbod. Hierin word besonderhede oor die eiendom asook dinge soos okkupasiehuur vasgestel.

3. Die lening

Indien jy nie geld geërf het of ’n belegging het wat uitbetaal nie, het jy waarskynlik finansiering nodig – bank toe met jou aanbod. Jy kan van ’n verbandmakelaar (bond originator) gebruik maak. Dis maatskappye wat namens jou by al die banke aanklop en kyk watter aanbiedinge hulle vir jou kan kry.

Ons het egter daarteen besluit toe een van die grootste van dié makelaars vir ons gesê het ek kwalifiseer vir niks aangesien ek geen skuld het nie en net elke maand my selfoonrekening betaal.

Ten spyte daarvan het ons sonder moeite wel ’n lening by een van die groot banke gekry.

4. Die bank se aanbod

Jy sal vir die bank ’n reuse klomp dokumente moet aanstuur sodat hulle dit kan nagaan en kyk of jy die paaiement sal kan bekostig.

Jy ontvang dan voorlopige goedkeuring (conditional grant) m.a.w ’n dokument wat sê alles lýk op papier reg.

5. Die waardasie

Die bank wys ’n waardeerder aan om die huis te besoek. Die waardasie word gedoen sodat die bank ’n idee kan kry vir hoeveel hulle die huis sou kon verkoop as jy sou ophou om die lening af te betaal.

6. Jou lening

Daarna ontvang jy ’n finale aanbod van die bank.

7. Die oordrag

Die eienaars wys ’n prokureursfirma aan om die oordrag van die eiendom te behartig en die bank wys ’n ander firma aan om die verband te registreer.

In ons geval was die aangewese prokureurs gelukkig in die bank se paneel, so dieselfde firma hanteer albei sake. Oordrag- en verbandregistrasiekoste word direk aan die firma betaal. (Sien grafika vir die formule.)

oordragkoste

Huur of koop?

Erwin Rode, eiendomswaardeerder en -ekonoom van Rode & Genote, sê daar behoort nie ’n dringendheid te wees om nóú te koop nie. “Huispryse styg op die oomblik teen ’n langsame tempo. Daar is bietjie meer eiendomme op die mark as kopers.” Rode sê mense het soms nog die idee dat huispryse sommer 10% per jaar styg soos in die ou dae, dis nie meer die geval nie. Pryse raak dus meer onderhandelbaar.

Hoe maklik of moeilik is dit om 'n huis te koop?

Rode sê vandag is dit makliker om te huur. Hy stel voor as jy byvoorbeeld ’n huis van R1 miljoen huur en jou huur x is, jy moet kyk wat dit jou sou kos om ’n huis van R1 miljoen af te betaal. “As die verskil tussen daardie bedrae bv. R300 is, moet jy dit elke maand spaar – jy gaan oor ’n paar jaar finansieel baie beter daaraan toe wees.” Rode sê as jy nie gedissiplineerd is met spaar nie en bereid is om te aanvaar jy gaan nie regtig kapitaalgroei ervaar nie, want daar lê vir die ekonomie “ ’n donker paar jaar” voor, kan jy maar koop.

’n 100% lening by die bank kan jou baie blootgestel laat. “Mense wat 100% lenings kry is, ek veralgemeen, geneig om ’n hoë skuldlas te hê. Hoe hoër die verband hoe hoër is die finansiële risiko. Hoe gaan hulle maak as daar ’n onbeplande baba is?”

As jy huur, is dit baie makliker om te trek, byvoorbeeld as jy ’n ander werk kry. Mense het in die verlede gedink huur is vir mense wat nie beter kan bekostig nie, sê hy. “Dis regtig nie die geval nie – in Switserland huur 60% van die mense en niemand kan sê hulle is arm nie.”

Hy raai jonger mense aan om klein te begin. Tito Mboweni, minister van finansies, het tydens sy begrotingsrede aangekondig dat daar nie oordragkoste vir eiendomme goedkoper as R1 miljoen betaalbaar is nie. Dié bedrag was voorheen R900 000.

Meer oor:  Huispryse  |  Huur  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.