Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Picasso-waterverf is ’n hoogtepunt in NY

’n Ongewone waterverfwerk deur Pablo Picasso gaan as die hoogtepunt op Sotheby’s se impressionistiese en moderne kuns-aandverkoping op 12 November in New York aangebied word.

Nature morte à la tête classique et au bouquet de fleurs was in dieselfde familieversameling vir meer as 35 jaar.

Links: Wassily Kandinsky se organies-abstrakte La Forme Blanche wat in New York opgeveil gaan word. Dit het ’n voorveilingsberaming van tussen $400 000 en $600 000.

Die werk op papier wat van 1933 dateer, maak deel uit van ’n klein versameling waterverf- en gouache-werke, wat die kunstenaar in Cannes in Frankryk geverf het toe hy daar op vakansie was saam met sy vrou, Olga, en seuntjie Paolo.

Die voorveilingsberaming is tussen $5 miljoen en $7 miljoen.

Die werk weerspieël die dromerige komposisies van die avant-garde-beweging en illustreer dié hoogs vrugbare tyd in Picasso se oeuvre. Sotheby’s het die werk in Desember 1982 in Londen opgeveil toe dit vir $179 135 verkoop is.

Julian Hawkes, hoof van Sotheby’s se impressionistiese en moderne kuns-aandverkoping, sê die manjifieke werk verteenwoordig die spits van die kunstenaar se artistieke kragte. “Die kleur is lewendig en ’n voorbeeld van Picasso se mees gevierde tydperk.”

Bo: Picasso se Nature morte à la tête classique et au bouquet de fleurs, wat vir tussen $5 miljoen en $7 miljoen in New York kan verkoop.Foto’s: Sotheby’s

n 1933 tydens sy vakansie in Cannes het die skilder nie een olieverfwerk gedoen nie, maar al sy energie uitgestort op waterverf- en gouache-werke.

Die werk word vanaf vandag in New York uitgestal, die eerste keer wat dit in die openbaar in die VSA te siene sal wees.

Op Sotheby’s se dagverkoping op 13 November gaan werke uit die William Louis-Drey­fus-stigting verkoop word. Dié versameling is oor meer as 50 jaar deur die sakeman bymekaar gemaak en plaas kunstenaars met ’n belang in politieke kommentaar in die kollig, asook diegene wat op vormlose kuns gefokus het, onder andere Jean Dubuffet, Joan Miró en die Russiese meester Wassily Kandinsky.

Een van die hoogtepunte op die verkoping is Kandinsky se organies-abstrakte La Forme Blanche. Die werk het ’n voorveilingsberaming van tussen $400 000 en $600 000.

Gedurende die Bauhaus-beweging (1922-1932) toe Kandinsky in Duitsland was, het sy werk geleidelik wegbeweeg van die vryvloeiende, onreëlmatige lyne en vorms van sy vroeë oeuvre na meer geometriese abstrakte vorms. Sy werke uit dié periode word oorheers deur sirkels, driehoeke en reguit lyne. Toe die Bauhaus-beweging amptelik aan die einde van 1932 tot ’n einde gekom het, het hy Duitsland verlaat vir Parys. Daar het hy in kontak gekom met van die surrealistiese kunstenaars, onder andere Miró en Jean Arp, en onder hul invloed heeltemal wegbeweeg van die hardhoekige geometriese abstrakte werke.

Hy het ’n meer organiese-abstrakte vorm gekry, waarvan La Forme Blanche ’n voorbeeld is. Soos van sy tydgenote, het hy begin belang stel in die natuur en organiese groei. Hy het inspirasie geput uit embriologie en dierkunde.

Meer oor:  Pablo Picasso  |  Waterverf  |  Veilings  |  Waterverfskildery  |  Kunsveiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.