Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Pinelands Grove: Nog handvol eenhede oor

Die eerste fase van die aftree-ontwikkeling Pinelands Grove in die Moederstad is eersdaags voltooi en die laaste paar eenhede word nou teen goeie pryse aangebied, aldus die ontwikkelaar.

Die ontwikkeling is nagenoeg drie jaar gelede in die mark bekend gestel en die wooneenhede word op ’n lewensreg-grondslag verkoop. Die hele oord bestaan uit 218 eenhede.

Luidens ’n verklaring is daar as gevolg van die moeilike ekonomiese omstandighede in die land en stygende lewenskoste besluit om die laaste paar eenhede in die ontwikkeling bekostigbaar te maak.

Kopers kry nie net hul hele kapitale belegging terug nie, maar ook 25% van die opbrengs teen afsterwe of wanneer die eiendom verkoop word.

Kopers kan ook gemoedsrus hê oor die eienaarskap van Pinelands Grove, lui die verklaring.

Dit berus in ’n private maatskappy met private beleggers en Old Mutual, elk met ’n 50%-belang. Die maandelikse heffings sluit altesaam 16 maaltye per maand per eenheid in.

Die Kaapse Skiereiland se Organisasie vir Bejaardes (CPOA) bestuur die oord.

Wat kan jy kry?

Die tweeslaapkamerwoonstelle in Pinelands Grove was besonder gewild onder kopers en op die oomblik is nog net een eenheid te koop wat as ’n herverkoping aangebied word.

Die woonstel het ’n noordelike aansig en beslaan 65 m². Dit het ook ’n balkon met mooi uitsigte op die tuin en swembadarea. Die verkoopprys is R2,59 miljoen.

Wat die eenslaapkamerwoonstelle betref, is daar nog ’n hele handvol waaruit gekies kan word.

Die woonstelgroottes wissel van 36 m² tot 47 m², en die verkooppryse is tussen R1,195 miljoen en R1,695 miljoen. Die pryse hang van die grootte en ligging van die woonstel af.

Drie van dié eenhede is op die gewilde grondverdieping van die gebou geleë en ’n klein troeteldier word toegelaat.

Daarbenewens word vier eenhede van 40 m² elk ook nou teen ’n kapitaalheffingsvrye tydperk van 12 maande te koop aangebied. Vir kopers wat voor die einde van Desember belê, is daar ’n verdere aanbieding: Voornemende kopers wat graag in eenmanwoonstelle van tussen 20 m² en 22 m² elk wil belê, kan verwag om vanaf R525 000 tot R550 000 te betaal.

Dié woonstelle is goed uitgelê met ruim badkamers en ingerigte kookareas. Kopers wat nou in dié woonstelle belê, kwalifiseer ook vir ’n heffingsvrye jaar.

Dan is daar nog een dubbelgrootte woonstel van 84 m² op die grondverdieping te koop. Dit het twee slaapkamers, ’n en suite-badkamer én ’n aparte sit-en-eetkamer. Die verkoopsprys is R2,99 miljoen.

Vyfstergeriewe

Verkope by Pinelands Grove word geïnspireer deur die gehaltegeriewe wat in die oord beskikbaar is, aldus die ontwikkelaar. Dít sluit ’n koffiewinkel, luukse sit- en eetkamer, ’n verhitte swembad en braaiarea, haarsalon, wassery, biblioteek en ’n goed toegeruste gimnasium met uitsigte op die omliggende omgewing in.

Daarbenewens is Pinelands Grove in ’n stil en veilige buurt en dit is binne loopafstand van ’n groot winkelkompleks. Die oord word heeltyd beveilig en daar is ’n pendeldiens Vrydae vir inwoners wat inkopies wil doen. Die moderne eenheid vir verswakte sorg is die kersie op die koek. Daar is twee versorgingspakette beskikbaar waaruit kopers kan kies.

Meer oor:  Pinelands Grove  |  Eiendomme  |  Aftreeontwikkeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.