Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
R10: Soveel het huur gemiddeld in 2020 gestyg

Die meeste mense met huurwoonstelle weet nou al: Dit was in 2020 selfs moeiliker as in ander jare om goeie huurders te kry en dit was baie moeilik om huur te verhoog. Maar hoe erg is die situasie regtig? Hanlie Stadler grawe in twee stelle syfers oor huur wat onlangs uitgereik is.

’n Skamele R10.

Dís gemiddeld hoeveel meer huurgeld verhuurders in Desember 2020 teenoor Desember 2019 verdien het. Dit verteenwoordig ’n styging van 0,1%, van R7 844 einde 2019 tot R7 854 einde 2020.

k

Dit blyk uit die huurindeks wat die verhuringsfirma PayProp in die afgelope week uitgereik het.

Die gemiddelde huurgeld het in vyf provinsies – die Wes-Kaap (-0,5%), Noord-Kaap (-0,6%), Noordwes (-0,6%), Limpopo (-3,3%) en KwaZulu-Natal (-0,9%) – gedaal. In die Oos-Kaap het dit met 3,9% gestyg, in Mpumalanga met 1,4%, in die Vrystaat met 1,6% en in Gauteng met 0,7%.

Die kredietburo TPN het onlangs bekend gemaak vir die hele vierde kwartaal het die gemiddelde huurgeld met 0,75% gedaal.

k

Die daling in die gemiddelde huurgeld in baie provinsies word toegeskryf aan die vernietigende effek wat die Covid-19-pandemie en inperkings op mense se inkomste gehad het.

PayProp sê baie mense het weens geldelike druk hul huurwonings opgesê en saam met familielede of vriende ingetrek. Ander het langer goedkoper blyplekke gehuur.

huissleutel
Verhuurders moet dalk klou aan goeie huurders - minder as twee uit drie betaal hul volle huur betyds. Die res betaal laat, gedeeltelik of glad nie... Foto: Pixabay

Die feit dat internasionale toeriste nie Suid-Afrika kon besoek nie, het ook tot ’n oormaat huureiendomme in die mark bygedra. Eiendomme wat voor die pandemie op kort termyn aan vakansiegangers uitverhuur is, soos deur Airbnb, is aan langtermynhuurders beskikbaar gestel.

Dit was veral in toerisme-sentra soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Daar was ook ’n persentasie mense wat besluit het om die verlaging van drie persentasiepunte in die rentekoers aan te gryp om hul eie plekkie aan te skaf.

Al dié faktore het tot ’n ooraanbod in huurwonings gelei, wat dit vir verhuurders baie moeilik gemaak het om hul huur te verhoog.

Maar PayProp wys daarop dat huurgeld nou al jare lank baie swak styg. In 2017 het die gemiddelde huurgeld met 7% gestyg. In 2018 en 2019 het dit met gemiddeld tussen 3% en 4% gestyg soos die ekonomie verlangsaam en toe in 2019 in ’n resessie verval het.

Goeie huurders neem af
k

Meer as een uit vyf huurders, oftewel 20,9%, het 2020 met agterstallige huurgeld in die rooi afgesluit, volgens PayProp se indeks. Die syfer styg egter so hoog as 25,4% in Noordwes, terwyl die Wes-Kaap op 18% die laagste persentasie agterstallige huurders het.

k

Die gemiddeld van 20,9% is baie beter as die gemiddeld van 24,9% in die tweede kwartaal van 2020. Dit was in dié kwartaal dat die strengste vlakke van die inperking gegeld het, veral in April en Mei, en miljoene mense nie kon werk nie.

Aan die begin van 2020 was 19,4% mense se huurgeld agterstallig.

k

TPN praat in sy huurmonitor van “goeie huurders”. Dis mense wat hul volle huur betaal – hoewel nie noodwendig betyds nie.

Mense wat hul volle huur betaal, is landwyd gemiddeld 77,6% van alle huurders. (Net 63,4% betaal hul volle huur en boonop betyds.)

k

Dié persentasie het in die tweede kwartaal tot 73,5% geval, wat impliseer dat altesame 26,5% van mense se huurgeld agterstallig was – baie na aan PayProp se syfer van 24,9%.

TPN onderskei swak huurders verder as mense wat ’n deel van hul huurgeld betaal en mense wat ’n hele maand se betaling van hul huurgeld of meer oorslaan.

  • Huurders wat net ’n deel van hul huurgeld betaal, verteenwoordig nou 14,6% van alle huurders landwyd (beter as die 15,3% in die tweede kwartaal).
  • Huurders wat glad nie betaal nie, verteenwoordig nou 7,8% (tweede kwartaal: 11,2%).

Die persentasie mense wat hul volle huurgeld betaal, het verbeter, maar is nog nie waar dit aan die begin van 2020 (op 81,5%) was nie.

Goeie huurders wissel ook baie volgens die prysklas waarin hulle huur (wat op sy beurt deur hul inkomste bepaal word). Mense wat eiendom van minder as R3 000 per maand huur, is die swakste betalers met net 65,6% wat hul volle huurgeld betaal.

huur

Die beste huurders is dié wat tussen R7 000 en R12 000 per maand huurgeld betaal, van wie 83,6% die volle bedrag delg.

Interessant genoeg is die tweede swakste groep huurders dié wat kan bekostig om eiendom van meer as R25 000 per maand op te dok – en tog betaal net 74,1% van hulle die volle huurgeld.

Volgens TPN se syfers is die Noord-Kaap die provinsie met die meeste goeie huurders (84%) en die Vrystaat die provinsie met die minste (73,5%).

k

  

Hoe ver is mense agterstallig?

Huurders wat agterstallig is, was teen Desember gemiddeld met byna ’n maand se huurgeld (96,2%) agterstallig, volgens PayProp. Dis beter as die 104,6% waarmee hulle in die derde kwartaal agterstallig was, dus met meer as ’n maand se huurgeld, maar nie veel beter as die tweede kwartaal se 96,2% nie.

PayProp skryf dit daaraan toe dat agterstallige huurgeld eenvoudig begin opbou en mense selfs nadat hulle teruggekeer het werk toe in die derde en vierde kwartaal nie dadelik al hul skuld kon delg nie.

k

  

Duurste provinsie om in te huur

Huur in die Wes-Kaap is gemiddeld die duurste op R9 253 per maand en huur in Noordwes die goedkoopste, op R5 286. Dit is teenoor die landwye gemiddelde van R7 854.

huur

Vooruitsigte vir 2021

Johette Smuts, PayProp se hoof van data-ontleding, verwag nie dat huurgeld vanjaar veel sal styg nie. Ekonomiese herstel is steeds traag, gegewe dat sekere inperkings nog geld. “Bekostigbaarheid bly ’n belangrike oorweging vir verbruikers in die algemeen, maar veral vir huurders.”

Meer oor:  Tpn  |  Huismark  |  Huispryse  |  Huur  |  Huurders  |  Rentekoers  |  Verhuurders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.