Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Redefine: Mense sál terugkeer kantoor toe

’n Mate van normaliteit sál terugkeer na die kantoormark, ondanks die staaltjies dat daar in die “nuwe normaal” veel minder vraag is na kantoorruimte.

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine.

Dít is die positiewe verwagting van die eiendomsgroep Redefine.

“Jong mense wat wil leer en gementor word, ly die meeste. Korporatiewe etos en kultuur, asook samewerking, kan nie behoorlik gekweek word nie,” sê Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine, oor die neiging van werk van die huis af wat posgevat het in reaksie op die Covid-19-pandemie.

Hy het met die bekendmaking van Redefine se resultate vir die halfjaar tot einde Februarie gesê sommige dienstesektore soos banke kla ook dat hul omsettye stadiger is weens die talle werknemers wat van die huis af werk.

Syfers uit Redefine se halfjaar
  • Eiendom onder bestuur: R75,3 miljard.
  • Wins uit eiendomsverkope: R4 miljard.
  • Verkope van niekern-eiendomme waarmee nog besig is: R2,7 miljard.
  • 83,8% van sy eiendomsbates is plaaslik.
  • Uit sy kapitaalbesteding van R5,2 miljard in die halfjaar is R4,021 miljard gebruik om skuld terug te betaal.
  • Gemiddelde huurgeldverhoging in Suid-Afrika was 6,8% teenoor 7% ’n jaar gelede.
  • Getal Suid-Afrikaanse huurders het verminder van 4 553 tot 4 284.

“Ek dink dit is waarom al hoe meer mense wil terugkeer na die kantooromgewing, en waarom ’n meer hibriede model meer waarskynlik is. ’n Model van 100% van die huis af werk pas eenvoudig nie ’n volledig produktiewe, betrokke en gekonnekteerde werkmag nie.”

Redefine se kantoorportefeulje van R23 miljard is sowat 30% van sy totale eiendomsportefeulje, maar sy sukseskoers om kantoorhuurkontrakte te hernu, het in die halfjaar tot 29,1% gedaal teenoor ’n jaar gelede se 57%. Dit sluit wel maandelikse huurkontrakte uit.

Redefine se verspreibare inkomste het in die halfjaar met 22% tot 26,2c per aandeel gedaal, grootliks weens die impak van die pandemie en inperkings op die eiendomsektor en die breër ekonomie.

König plaas egter sy hoop op die inentingsveldtog teen die koronavirus.

“Ons glo die laagtepunt van die siklus is bereik. Ons verwag die inentingsprogram sal tot meer mobiliteit in die stelsel lei. Dit beteken meer mense kom uit om te werk, winkels toe te gaan en te speel, en dit lei vinnig tot meer vertroue, wat die goedkoopste vorm van ekonomiese stimulus is.”

Die binnekant van Rosebank Towers, een van Redefine se spogkantoorontwikkelings in Johannesburg.

Redefine is egter steeds versigtig te midde van Suid-Afrika se eie inentingsprogram wat nog in sy kinderskoene is. Die direksie het dus besluit om nie ’n halfjaardividend uit te keer nie, maar eers vir die jaareinde te wag.

“Ons het die besluit nie ligtelik geneem nie. Dit is aan die kern van ons beleggingsaanbod om dividende te betaal, maar ongelukkig is daar net te veel onsekerheid wat tans in berekening gebring moet word. Ons hoop om teen die jaareinde beter nuus te hê, maar ons moet soos altyd verstandig optree,” sê Konig.

Benewens die impak van die pandemie is die laer inkomste vir die halfjaar grootliks te wyte aan die dekonsolidasie van die groep se belegging in Europese logistieke sentra, die verkoop van Leicester Street (’n Australiese studentehuisvesting-onderneming) en die verkoop van plaaslike eiendomme.

Daar was ook nie dividende uit Redefine se belang van 45,4% in die Poolse eiendomsonderneming EPP nie. EPP wou sy eie likiditeit verstewig en finansiële buigsaamheid behou deur nie dividende te verklaar nie.

Tot 16% van Redefine se portefeulje is steeds internasionaal, en König verwag die sterk ekonomie in Pole kan beteken hulle kan vinniger herstel na die vlakke van voor die pandemie.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.