Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Redefine neem Pivotal en sy kroonjuwele oor

Die genoteerde eiendomsbeleggingstrust (reit) Redefine Properties het ’n ooreenkoms aangegaan om al die uitgereikte aandelekapitaal van die genoteerde ontwikkelingsfonds Pivotal in ’n aandele-transaksie ter waarde van R6 miljard te verkry.

Pivotal se kroonjuwele – die derde fase van die Alice Lane-kantoorkompleks, wat in Sandton in aanbou is.

Pivotal het ’n A-graad-portefeulje van voltooide inkomste-genererende eiendomme en aantreklike ontwikkelings in aanbou, onder meer Loftus Park wat langs die legendariese Loftus Versfeld-stadion in Arcadia in Pretoria uit die grond verrys.

Die fonds is ook besig met die ontwikkeling van die derde fase van die ikoniese kantoorkompleks Alice Lane in Sandton, wat deur Marc Wainer, uitvoerende voorsitter van Redefine, as Pivotal se kroonjuwele bestempel word. Dié gebou gaan die swaargewig regsfirma Bowman Gilfillan huisves teen voltooiing in April volgende jaar.

“Pivotal het ’n aantreklike portefeulje met voorkeurhuurders, soos Sanlam, Santam en Standard Bank op lang huurkontrakte, wat Redefine van nuwe prima bates sal voorsien en ons in staat gaan stel om van ons ouer kantore van die hand te sit,” sê hy.

“Die enigste deel van die transaksie waarmee ons nie in ons noppies is nie, is die blootstelling aan die res van Afrika, wat ons so gou as moontlik wil verkoop.” Pivotal se Afrika-blootstelling behels ’n belang van 37% in Oando Wings, ’n kantoorontwikkeling in Nigerië en ’n belang van 13% in die genoteerde Delta Mara.

Ingevolge die transaksie gaan aandeelhouers in Pivotal 460 miljoen nuwe Redefine-aandele kry plus 31 miljoen aandele in die Poolse groep Echo Polska Properties.

Die transaksie, wat onderhewig is aan die gewone regulatoriese prosesse, sal toegepas word deur ’n reëlingskema, wat die goedkeuring van 75% van Pivotal se aandeelhouers op ’n algemene vergadering vereis.

Redefine gaan Pivotal denoteer sodra die transaksie voltooi is en Pivotal sal ’n filiaal van Redefine wees.

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine, sê ontwikkelingsfondse soos Pivotal kry te kampe met tweeledige uitdagings, naamlik die toenemende koste van kapitaal en die makro ekonomiese omgewing, wat druk op ontwikkelingsopbrengste plaas.

Jackie van Niekerk, uitvoerende hoof van Pivotal, sê hoewel Pivotal ’n saamgestelde jaarlikse opbrengskoers van 27,8% gelewer het van Februarie 2012 tot Februarie 2016, raak dit toenemend moeiliker om in ’n stagnante ekonomie met stygende rentekoerse, bevredigende ontwikkelingswinste te behaal.

“Ons het gevolglik by die kruispad gekom, waar ons die voordele moes oorweeg om óf ’n klein reit in ’n hoogs oorlaaide sektor te word, óf om deel te word van een van die grootste reits in die JSE se genoteerde eiendomsindeks.”

“Die verkryging bevestig ons posisie as een van die grootste eiendomseienaars in Sandton, ’n nodus waar byna 30% van ons kantoorportefeulje vandag is, vergeleke met min blootstelling so vyf jaar gelede,” sê König.

Pivotal se portefeulje is teen R12,9 miljard gewaardeer en sy inkomste produserende bates behels agt kleinhandelsentrums, tien kantooreiendomme, drie nywerheidseiendompersele en verskeie ontwikke-lingseiendomme met vier aktiewe ontwikkelings aan die gang. Wanneer die transaksie afgehandel is, sal Redefine sowat 350 eiendomme van sowat 5,7 miljoen m² landwyd besit.

Meer oor:  Redefine  |  Kantooreiendom  |  Reits  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.