Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Redefine wil binne jaar 10 000 studente huisves

Danksy ’n onverbiddelike fokus op bedryfsdoeltreffendheid in ’n uiters moeilike markomgewing het Redefine Properties in die jaar tot einde Augustus sy uitkering met 5,5% tot 97,10 c per aandeel opgestoot.

Dit is in ooreenstemming met die markverwagting.

Hatfield Square in Pretoria, een van Redefine se grootste studentebehuisingsontwikkelings in die land.

Die groep het in die oorsigjaar stewige herhalende inkomstegroei van 6,9% behaal en sy oorhoofse okkupasiesyfer tot 95,5% laat styg.

Verskeie strategiese beleggings waarvan die tydsberekening goed was, het sy eiendomsbates onder bestuur met R7,2 miljard tot R91,3 miljard laat klim. Internasionale beleggings maak nou 20,7% van die eiendomsportefeulje uit, vergeleke met 19% ’n jaar gelede.

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine, sê die buitelandse beleggings sal mettertyd tot tussen 25% en 30% van die portefeulje toeneem, met ’n fokus op logistieke eiendomme.

Hy sê elke sektor in Suid-Afrika verkeer tans onder druk en almal voel die knyp, maar die groep sal steeds kapitaal in die land en in die buiteland aanwend deur eiendomme te ontwikkel wat goed geleë is en met sterk opwaartse potensiaal. In die plaaslike mark, waar dit ’n uitdaging is om nuwe eiendomme te koop, sal die groep fokus op die ontwikkeling en die herontwikkeling van bestaande eiendomme wat goed geleë is.

In die oorsigjaar is kapitaal deur die verkryging van ’n logistieke platform in Pole, die verkryging van aandele in die genoteerde Poolse eiendomsgroep EPP en die ontwikkeling van studentebehuising in Australië belê.

Aan die plaaslike front is die oorblywende 50%-aandeel van West-straat 115 in Sandton vir R751 miljoen verkry, en is eiendomme wat goed geleë is teen R4,7 miljard herontwikkel en uitgebrei.

Redefine het in die oorsigjaar sy plaaslike studentebehuisingsportefeulje verder uitgebrei. In Bloemfontein is Lincoln House met 469 beddens voltooi en is sedert Januarie 2018 in

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine.

gebruik. Dié ontwikkeling met ’n totale waarde van R119,9 miljoen het ’n aanvangsopbrengs van 9,8%. Die derde fase van Hatfield Square in Pretoria met 2 200 beddens, die grootste studentebehuisingskompleks in die land, gaan in Januarie 2019 open. Dié ontwikkeling het ’n totale waarde van R853,9 miljoen met ’n verwagte aanvangsopbrengs van 10,7%.

Ook is bouwerk aan die gang vir die ontwikkeling van Roscommon House in Claremont, Kaapstad.

König sê aan die einde van 2019 kan Redefine studentebehuisingsontwikkelings met 10 000 beddens hê.

Wat die vooruitsigte betref, reken hy die ekonomiese omgewing gaan tot in 2019 nog gedemp bly.

Vir 2019 is die verwagte groei in die uitkeerbare inkomste tussen 4% en 5%.

Meer oor:  Redefine  |  Behuising  |  Eiendomsgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.