Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Rentekoers bied gulde kans

Die nuus verlede week dat rentekoerse onveranderd gaan bly, is goeie nuus vir huiseienaars. Dit bied die kans om ietsie ekstra in huisverbande in te betaal en op lang termyn heelwat geld te bespaar.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het aangakondig die repokoers bly onveranderd op 6,75%. Die prima uitleenkoers bly dus op 10,25%.

’n Uitsig oor nuwe huise in Waterfall Estate in Midrand. Die onveranderde rentekoers is dalk ’n goeie geleentheid vir mense om nou die eiendomsmark te betree. Foto: Lucky Nxumalo

“Terwyl rentekoerse stabiel bly, moet Suid-Afrikaners alles in hul vermoë doen om bestaande skuld so veel as moontlik te delg,” sê Adrian Goslett, streeksdirekteur en uitvoerende hoof van Re/Max in Suider-Afrika, in ’n verklaring.

Hy het mense wat nou daaraan dink om die eiendomsmark te betree gemaan om te begroot vir toekomstige rentekoersverhogings.

Hy sê mense moenie noodwendig wag om die eiendomsmark te betree omdat hulle bang is dat rentekoerse weer gaan styg nie.

“Dit is onafwendbaar dat rentekoerse oor die duur van ’n huisverband, dikwels 20 tot 30 jaar, gaan verander. Rentekoersverhogings is eenvoudig deel van die risiko van die besit van eiendom, net soos huurverhogings huurders tref. As mens te lank wag vir die ideale markomgewing om die eiendomsmark te betree, beteken dit jy stel die tyd uit wanneer jy begin afbetaal aan ’n verband – en uiteindelik gaan jy die tydperk verkort wanneer die eiendom afbetaal is en jy dus daarop kan kapitaliseer.”

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Reuters

Hy sê dit is nou die perfekte tyd om die eiendomsmark te betree. “Omdat daar ’n verkiesing op pad is, sal die eiendomsmark waarskynlik die eerste helfte van die jaar traag bly. Maar as dinge beter gaan in die land, sal die eiendomsmark heel waarskynlik teen die einde van die jaar ’n verkopersmark word, met minder kanse om goeie kopies raak te loop.”

Die Seeff-eiendomsgroep het dit ook verwelkom dat die rentekoers onveranderd gebly het. “Ons het nou stabiliteit nodig sodat ons vertroue in die ekonomie kan herbou,” sê Samuel Seeff, voorsitter van die groep. Volgens hom is dit die regte besluit. Hy sê hoewel baie mense vanjaar ’n beter jaar verwag, is die ekonomie traag en kan die land nie nou verdere skokke hanteer nie.

Hy sê die algemene gevoel is dat as die uitslag van die algemene verkiesing in Mei pres. Cyril Ramaphosa met ’n positiewe mandaat laat, sal die ekonomie en die eiendomsmark teen die middel van die jaar begin verbeter. Maar omdat die eiendomsmark nog swak is, moet mense wat nou eiendom wil verkoop, realisties wees met hul pryse om die aandag van kopers te trek. Daar is op die oomblik baie opsies vir kopers.

Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding-eiendomme, sê in ’n verklaring die onveranderde repokoers is een van ’n aantal positiewe faktore in 2019 wat die plaaslike eiendomsmark kan raak. “Afgesien van die repokoers wat onveranderd is, is daar op kort termyn ander positiewe ontwikkelings. Dit sluit in die derde petrolprysdaling in drie maande, nadat die prys in Desember en Januarie saam met R3 gedaal het, asook ’n sterker rand wat inflasiedruk verlig het.”

Hy sê hoewel die land se groeikoers steeds minder as 2% sal wees, sal dit minstens dubbel die 0,7% van 2018 wees.

Meer oor:  Pam Golding  |  Re/Max  |  Adrian Goslett  |  Lesetja Kganyago  |  Huisverband  |  Eiendomme  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.