Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Rentekoerse al hoe slegter nuus vir huureiendom

Sowat 13% van huurwoonstelle landwyd staan leeg nadat ’n groot getal Suid-Afrikaners die afgelope ses maande besluit het om eerder te koop as te huur.

Aansoeke om en goedkeuring van huisverbande het stewig geklim toe aktekantore oopgemaak het en mense weer skouhuise kon gaan besigtig. Foto: iStock

Daar was sedert Julie verlede jaar ’n mini-opbloei in die huismark ná die aanvanklike onderdrukte vraag weens die streng inperking. Aansoeke om en goedkeuring van huisverbande het stewig geklim toe aktekantore oopgemaak het en mense weer skouhuise kon gaan besigtig.

Die momentum het tot in die vierde kwartaal van 2020 voortgeduur en in talle groot stede is rekordverkope aangemeld, skryf Kobus Lamprecht, hoofnavorser by Rode en Genote, in die jongste Rode-verslag. Dié eiendomswaardasiegroep reik kwartaalliks ’n verslag uit oor die stand van die Suid-Afrikaanse eiendomsmark.

In die tweede helfte van 2020 het die historiese lae rentekoerse veral kopers in die middelmarksegment oortuig om pleks van te huur eerder hul eie woonplek te koop. Huisverkope in die band tussen R250 000 en R700 000 het vinniger as enige ander prysklas gegroei. Kopers in daardie segment is gewoonlik baie sensitief vir rentekoersstygings, sê Lamprecht.

Dis dié toename in huiskoop wat veral die woonstel-huurmark ’n gevoelige slag toegedien het. Die jongste nasionale leegstaankoers van woonstelle op 13% is meer as dubbel die gemiddelde van 5,6% wat in 2019 aangeteken is.

k

“Die huurmark is veral negatief geraak deur huurders wat finansieel beter daaraan toe is noudat die koste van huur en koop danksy die lae rentekoerse nader is aan ’n ekwilibrium,” sê Lamprecht.

Durban en Kaapstad is die slegste daaraan toe wat onbesette huurplek betref. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat talle verhuurders wat gewoonlik hul eiendomme op kort termyn aan toeriste verhuur nou huurders op lang termyn moet probeer vind. Ook Stellenbosch en George, waar die leegstaankoers normaalweg laag is, byt die spit af. In George het die getal woonstelle wat leegstaan van 2,9% in die derde kwartaal opgeskiet tot 8,3%.

Dit is veral in die prysklas waar maandelikse huur R25 000 en meer beloop dat die meeste woonstelle (23%) leegstaan. Die tweede grootste leegstaankoers is in die prysklas R3 000 en minder.

In die Johannesburgse sentrale sakekern is daar ’n groot getal woonstelle wat leegstaan.

’n Johannesburgse deelnemer aan Rode se peiling het gesê die woonstelgebou wat hy verhuur is slegs 25% beset. Woonstelle in die middestad staan óf leeg óf huurders is aan’t uittrek. “Daar is nie ’n manier om agterstallige huur in te samel nie en ook nie juis belangstelling deur nuwe huurders nie.”

k

Leegstaankoerse sal na verwagting vir die afsienbare toekoms hoog bly, veral soos meer huurders in die loop van die jaar in geldelike moeilikheid kan verkeer.

Die tweede vlaag van Covid-19-infeksies kan ook beteken dat korttermyn-huureiendom (soos dié wat op die Airbnb-platform verhuur word) vir langtermynhuur aangebied word omdat die toerismebedryf nog nie kan herstel nie.

Daar is wel nog redelik goeie geleenthede vir verhuurders in die segmente R3 000 tot R7 000 en R7 000 tot R12 000, waar die leegstaankoerse die laagste is.

Siphamandla Mkhwanazi, eiendomsekonoom by FNB, verwag dat die aanvanklike oplewing in die huiskoopmark in 2021 stoom sal verloor soos werkloosheid veral onder beroepslui kan toeneem.

“Ons verwag ook daar sal huiseienaars wees wat uiteindelik sal moet afskaal,” sê hy.

FNB se jongste data toon egter dat mense wat uit geldnood hul huis moet verkoop, eerder ’n kleiner huis koop as om een te huur. Altesame 62% van verkopers het goedkoper eiendom aangeskaf en 38% het eiendom gehuur.

Mkhwanazi sê die dalende vraag na huureiendom en die stygende leegstaankoers kan uiteindelik ’n negatiewe uitwerking op huispryse hê. Verhuurders sal wil verkoop, wat aanbod verhoog en pryse afdruk.

Meer oor:  Huurders  |  Rentekoers  |  Verhuurders  |  Huismark  |  Huispryse  |  Huur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.