Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Richard Branson se kuns kan mense hier help

’n Versameling van sir Richard Branson se kontemporêre Afrika-kunswerke gaan op Bonhams se moderne en kontemporêre Afrika-kunsveiling in Londen verkoop word.

Sir Richard Branson

Dié versameling werke wat deur Branson en die versamelaar Robert Devereux saamgestel is, word verkoop om geld in te samel vir Virgin se stigting Virgin ­Unite en vir die African Arts Trust.

Virgin Unite se deel van die opbrengs gaan gebruik word vir sy liefdadigheidsinisiatief Pride ‘n’ Purpose in Mpumalanga.

Die inisiatief is in 2003 gevestig en dit ondersteun gemeenskappe in die omgewing van die Sabi Sands-wildreservaat. Die liefdadigheidsorganisasie help die gemeenskappe met toegang tot skoon water, skoolonderrig op alle vlakke, buitemuurse aktiwiteite vir kinders en dit ondersteun ook plaaslike entrepreneurs.

Die Ethiopiese kunstenaar Elias Sime se Landscape 1 Min Neber, wat na raming vir tot £15 000 kan verkoop. Foto: Bonhams
Die Beninese kunstenaar Julien Sinzogan se triptiek Egun. Dit is een van sir Richard Branson se Afrika-kunswerke wat ten bate van Virgin Unite en die African Arts Trust opgeveil gaan word. Foto: Bonhams

Tans vind meer as 35 000 mense in ses gemeenskappe baat by die projek en die plan is om dit vanjaar uit te brei.

Die African Arts Trust dien as ’n katalisator vir die groei van kontemporêrekuns-organisasies in Afrika wat sukkel weens ’n gebrek aan hulpbronne.

“Afrika-kuns het my nog altyd bekoor en dit is vir my ’n groot vreugde om van die stukke wat ons versamel het aan die Bonhams-veiling te skenk om die nodige geld in te samel vir Virgin Unite en die African Arts Trust,” sê Branson. Hy hoop die nuwe eienaars sal net soveel soos hy van die kunswerke hou.

Hoogtepunte van die werke wat opgeveil gaan word, sluit in die kunstenaar Julien Sinzogan van Benin se triptiek Egun. Die werk beeld die Joroeba-maskerade uit – dansers se reis van die fisieke wêreld na die geestelike ryk toe. Dit sal na verwagting tussen £20 000 en £30 000 haal.

’n Landskap-collage deur die Ethiopiese kunstenaar Elias Sime is ook te koop. Landscape 1 Min Neber is modernisties en kan na raming vir tussen £10 000 en £15 000 verkoop.

Giles Peppiatt, Bonhams se direkteur van kontemporêre Afrika-kuns, sê Branson het in die vroeë 1990’s begin om Afrika-kuns aan te koop, geïnspireer deur sy ervarings op die vasteland. “Die versameling van 17 werke is ryk aan diversiteit en dien as ’n huldeblyk vir Branson se rustelose nuuskierigheid.”

Die veiling word op 18 Maart in Londen gehou.

Meer oor:  Virgin  |  Bonhams  |  Richard Branson  |  Kuns  |  Kunsveilings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.