Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Sandton City vaar beste in 5 j.

Sandton City, die kroonjuweel in die eiendomsgroep Liberty Two Degrees (L2D) se portefeulje, het in Maart sy hoogste omset in vyf jaar behaal.

Die Sandton City-winkelsentrum in Johannesburg.

Die winkelsentrumkompleks in die hart van die Johannesburgse sakenodus wat ook gewilde restaurante huisves, het ’n merkwaardige herstel behaal en in Maart 41% meer geld ingekry as ’n jaar gelede, en 2,6% meer as in Maart 2019.

Al sy ander winkelsentrums het ook in Maart positiewe omsetgroei getoon teenoor ’n jaar gelede, het L2D Vrydag in ’n kwartaalverslag gesê.

Die groep waarsku egter sy syfers is moeilik vergelykbaar, want dit moet in die konteks van die Covid-19-verwante inperkings gesien word.

L2D het ’n 25%-belang in Sandton City en het ook belange in onder meer die winkelsentrums Nelson Mandela Square, Melrose Arch, Eastgate, die Midlands Mall, Lifestyle Centre, Promenade en ’n winkelsentrum in Botshabelo.

Hulle het almal dubbelsyfergroei getoon teenoor ’n jaar gelede, met ’n gemiddelde omsetgroei van 27,1%.

Maar teenoor Maart 2019 is die gemiddelde omset van R1,3 miljard nog 6,4% laer. Dis veral Nelson Mandela Square wat nog 38,3% swakker is as twee jaar gelede, gevolg deur Eastgate met -16,8% en Melrose Arch met -16,7%.

Veral die verslapping van inperkings in Februarie het die sterk herstel in Maart aangehelp, met handelsdigtheid (verkope per vierkante meter eiendom wat verhuur word) wat met 28,5% gegroei het teenoor ’n jaar gelede.

Die groep spog met ’n besettingskoers van winkelhuurders van 95% in Maart, teenoor die Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars (Sapoa) se gemiddelde besettingskoers van 93,9% in die vierde kwartaal van 2020.

Meer kantore staan leeg

L2D gee toe die tendens van mense wat meer van die huis af werk, het ’n negatiewe impak op sy kantoorportefeulje, met die besettingskoers in Maart wat op 86,7% gestaan het veral weens meer kantore wat by Melrose Arch leegstaan.

Die groep sit egter nie in sak en as nie, en het teen einde Maart 19 nuwe huurkontrakte gesluit.

Hy spog ook dat die internasionale sportgoederegroep Adidas sy eerste Halo-konsepwinkel in Suid-Afrika in Sandton City gaan open, wat ’n interaktiewe en heel revolusionêre koopervaring gaan bied.

Die parfuumwinkel Chanel maak teen einde Mei ook ’n nuwe boetiek in Sandton City oop.

Nuwe sagteware vir kunsmatige intelligensie is op sy kamerastelsels dwarsoor sy eiendomsportefeulje geïnstalleer, het Jonathan Sinden, bedryfshoof van L2D, in ’n verklaring gesê. Dit stel die groep in staat om intyds te tel hoeveel mense sy winkels besoek en sal hom help om sy klante beter te verstaan danksy gevorderde data-ontleding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.