Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Satellietskottel, bly of gly?
Jou DStv-skottel word aan jou huis vasgeheg, wat beteken ’n koper kan redeneer dat dit deel vorm van die gebou. Foto: Daniël Stadler

Ek verkoop my huis. Ek het ’n satellietskottel geïnstalleer. Die huis waarheen ek nou trek, het nie ’n satellietskottel nie en ek het een nodig. Mag ek die een by die huis wat ek verkoop, verwyder?

Dit is ’n vraag wat taamlik algemeen voorkom wanneer dit by die verkoop van onroerende eiendom kom.

Wanneer ’n iemand ’n eiendom koop, verkry hy die grond insluitend al die permanente verbeterings. Permanente verbeterings sluit in alle fisieke struk­ture en ook items of voorwerpe wat permanent aan die strukture geheg is.

Hierdie items staan algemeen bekend as los en vaste toebehore of is beter as sogenaamde “fixtures and fittings” bekend. As ’n item of voorwerp ’n noodsaaklike deel van die eiendom vorm, word dit as ’n permanente toebehoor beskou.

In die hofsaak MacDonald Ltd v Radin NO en Potchefstroom Dairies & Industries Co. Ltd 1915 AD 466-467 het die hof ’n drieledige toets daargestel om te bepaal of ’n item of voorwerp ’n aanhegting is al dan nie:

  • Is die aard van die relevante voorwerp sodanig dat dit deel vorm van die onroerende eiendom?
  • Is dit fisiek daaraan vasgeheg?
  • Is dit die bedoeling van die persoon (verkoper) dat die voorwerp permanent aan die eiendom moet behoort?

Ongelukkig is dit nie altyd ’n uitgemaakte saak as hierdie drie faktore (aard, doel en wyse van aanhegting) in aanmerking geneem word by die bepaling of ’n aanhegting van permanente aard is al dan nie.

Die bedoeling van die eienaar ten tyde van die aanhegting van die voorwerp tot die eiendom is ’n subjektiewe toets (wat was die verkoper se gedagtegang?) en dit kan soms moeilik wees om te bevestig.

Sluit klousule in kontrak in

Ten einde onsekerheid in die praktyk te vermy, word aanbeveel dat die koopkontrak ’n klousule bevat wat spesifiek los en vas toebehore behandel en enige moontlike onduidelikheid uitskakel.

Om onduidelikheid te voorkom is dit noodsaaklik dat die verkoper en koper die los en vaste toebehore bespreek en daaroor onderhandel. Hierdie ooreenkoms moet dan in die skriftelike koopkontrak vervat word.

Voorbeelde
Daar is verskeie items wat kan lei tot geskille tussen verkopers en kopers, byvoorbeeld swembadskoonmaaktoerusting, bogrondse besproeiingstelsels, TV-antennas, satellietskottels, alarmstelsels, lugversorgingseenhede, kabinette (wat blyk ingebou te wees), ensovoorts.

Om terug te kom by die voorbeeld van die satellietskottel: Die verkoper kan redeneer dat selfs al is die skottel fisiek aan die eiendom geheg, is die aard daarvan steeds nie sodanig dat dit nie deel van die eiendom vorm nie en dat dit nooit die verkoper se bedoeling was dat dit ooit permanent op die eiendom sou bly nie.

Die verkoper kan ook aanvoer dat die satellietskottel slegs aan die eiendom geheg was as deel van die dekodeerder en die satellietstelsel.

Die koper kan aanvoer dat hy mislei is dat die satellietskottel deel van die eiendom was toe hy dit aangekoop het en dat dit nie vir hom uitgewys is dat die skottel verwyder gaan word nie.

Die indruk is gewek dat die skottel ingesluit is by die koop van die eiendom. Die koper kan ook aanvoer dat die skottel was vasgebout en het deel geword het van die onroerende eiendom en as aanhegting moes bly.

Albei partye kan dus grondige redes aanvoer om hul saak te staaf. Dit is dus van kardinale belang dat aanhegtings by die verkoop van onroerende eiendom deeglik onderhandel en in die skriftelike koopkontrak vervat moet word.

Indien dit deeglik in die kontrak behandel word, sal dit baie kopsere vir die verkoper en koper keer.

  • Ferdi Verryn is ’n eiendomsprokureur en stigtersvennoot van Verryn Matlhare Prokureurs in Pretoria.
Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Huis Verkoop  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.