Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Sentrums stel digitale koopbewyse bekend

Die eiendomsfonds Attacq gaan teen einde April ’n nuwe slimfoon-app bekend stel genaamd SHôPING, waardeur digitale koopbewyse versprei kan word.

’n Kunstenaarsvoorstelling van een van die nuwe kantoorgeboue van Attacq in Waterfall City in Midrand.

Attacq, die ontwikkelaar van Waterfall City en bestuurder van die Eikestad Mall in Stellenbosch en die Brooklyn Mall in Pretoria, het tot dusver nie soos sommige ander winkelsentrums ’n koopbewysstelsel gehad nie, en met dié digitale oplossing hoop die groep om meer van ’n gemeenskapsgevoel te ontwikkel en die geleenthede van lojaliteitsbesteding te benut, inkopiegangers beter ingelig te hou oor enige nuwe ontwikkelings in die winkelsentrum, en om sodoende meer besoekers na sy sentrums te lok.

Afhangend van hoe inkopiegewoontes verander te midde van die groei van aanlyn inkopies, kan die app later moontlik vir e-handel gebruik word, het Jackie van Niekerk, aangewese uitvoerende hoof van Attacq, verduidelik met die bekendmaking van die fonds se halfjaarresultate tot einde Desember.

Hoewel Attacq relatief ongeskonde deur die ergste inperkings van die Covid-19-pandemie gekom het, het sy verspreibare inkomste per aandeel steeds skerp met 57,5% gedaal in die halfjaar tot einde Desember.

Dit was deels weens sy belegging in die Roemeense eiendomsgroep MAS wat swakker gevaar het omdat MAS geen dividend uitbetaal het nie, en sy belegging in die res van Afrika het ook nie enige bydrae gelewer nie.

Attacq het ná die einde van die halfjaar R885,1 miljoen se MAS-aandele verkoop en die geld gebruik om skuld af te betaal. Hy behou ’n belang van 10,9% in MAS.

Besettingskoerse verbeter

Die ontwikkelaar van die Waterfall City-slimstad in Midrand in Gauteng kon nietemin daarin slaag om sy besettingskoerse selfs te midde van die inperking te verbeter. Waar die besettingskoers teen Desember 2019 voor die pandemie op 94% was, was dit teen einde Desember 2020 op 96,4%.

Met die kultuur van werk van die huis af wat posgevat het tydens die inperking, het Attacq se kantoorafdeling gevolglik die ergste deurgeloop, met ’n besettingskoers van 86,2% teen Junie verlede jaar, maar dit het intussen stadig herstel tot 94%.

Hoewel winkelsentrums ook swaargekry het weens die inperking, kon Van Niekerk Dinsdag spog dat daar by Waterfall City ’n leegstaansyfer van net 2% is.

By die Garden Route Mall in George kon die groep daarin slaag om nuwe huurders te lok. Daar is slegs 8 m2 se ruimte by dié winkelsentrum wat nie uitverhuur is nie, en dis ’n stoorkamertjie.

Slimstede

Op die vraag of Attacq die regering se planne vir allerhande nuwe slimstede, soos die een by Lanseria, as ’n bedreiging beskou, het Van Niekerk gesê hulle wil nie kommentaar lewer op die beoogde Lanseria-slimstad nie, want dit is ’n politieke kwessie.

Maar Attacq voel nie bedreig nie, want hy is al 12 jaar besig met Waterfall City.

Attacq-resultate in syfers

  • Verspreibare inkomste per aandeel daal met 57,5% tot 21,1c.
  • Huurinvordering in die Suid-Afrikaanse portefeulje verbeter tot 100,6%.
  • Huurverligting van R64 miljoen is gebied.
  • Totale skuld het met 0,5% tot R13 miljard gegroei, maar Attacq hoop om R1 miljard se skuld teen Junie af te betaal uit die wins uit die verkoop van bates.
  • Geen tussentydse dividend is verklaar nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.