Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Skenk of flou val, dit loop in die are

Gustaf Pienaar het die grootste agting vir die personeel van die Bloedoortappingsdiens. Hy laat ook nie sommer ’n geleentheid verbygaan om self bloed te skenk en lewens te red nie. Dit is ongelukkig net vroulief Corlina wat so ’n bietjie daarmee sukkel?.?.?.

Skets: Hanlie Malan
Skets: Hanlie Malan

Een van my oudwordwense is om in my lewe minstens 100 eenhede bloed te skenk. 

Twee weke gelede het ek my 97ste eenheid hier in Mosselbaai aan die voortreflike Westelike Provinsie-bloedoortappingsdiens geskenk. 

Toe ek vir een van die personeellede sê nog nét drie keer dan draai ek die spreekwoordelike kraan toe, was sy verbaas: “Waarom ophou?” wou sy weet. “Solank jy gesond is kan jy nog lánk aanhou skenk.” 

“We’ll see,” na-aap ek president Trump se gewoonte-sêding.

Ek het die grootste agting vir die bloeddienspersoneel. Hulle werk lang ure by klinieke oral in die Wes-Kaap. 

As ’n kliniek – soos byvoorbeeld hier op Mosselbaai – om 18:30 sluit, is dit nog lank nie einde nie: Die groot volume skenkingstoerusting – gesofistikeerde mediese toestelle, beddens, tafels, stoele, sakke met mediese afval, ensovoorts – moet terug in die voertuig gepak word; die kerksaal moet netjies agtergelaat word; terug op George moet die dag se bloedvoorraad doeltreffend bewaar word.

Eers dán kan die personeel koers kry huis toe. 

Die mense is uitstekend opgelei. Daar word seker gemaak dat jy nog as skenker kwalifiseer: jy moet ’n intiem-persoonlike vraelys voltooi; jy word hoeveel keer gevra of jy gedurende die voorafgaande vier uur behoorlik geëet het; die ystervlak van jou bloed word getoets; telkens word seker gemaak dat jou persoonlike besonderhede klop met die besonderhede van die “pakkie” waarin jou bloed gaan kom. 

Met sulke dinge is daar geen ruimte vir foute nie.

Uiteindelik is dit jou beurt: ’n Opgeleide paramedikus neem jou bloeddruk en berei dan die waai van jou arm voor vir die naald. 

Daar word met ’n vinger op die aar getik en as dit mooi uitgeswel is, word die naald versigtig – o, so versígtig – ingesteek.

Jy voel maar net ’n ligte prikkie. Dis ’n intieme oomblik tussen jou en die persoon in die donkerblou uniform: Jy leer om haar met jou lewe te vertrou. 

Met my onlangse skenking was daar ’n kortstondige probleem: My bloed wou nie begin vloei nie. Ek spot nog dat dit straks “opgeraak” het, toe ek die medikus sien frons. 

Ek besef daar’s ’n probleem en ’n ligte benoudheid kom by my op. Sy trek die naald versigtig agtertoe totdat dit byna uit is, en stoot dit weer stadig terug. 

Dit help nie, selfs al word die proses ’n paar keer herhaal. 

Toe merk sy daar’s heeltyd ’n kinkel in die buis wat die bloed na die sakkie moet vervoer. 

Dit help nie, selfs al word die proses ’n paar keer herhaal.

Sy verstel dit en ons sug albei verlig. Sy maak vir my ’n vrugtedrankie oop en haal ’n koekie uit ’n verseëlde pakkie. 

Ek kry ’n rubberballetjie in my vuis om dit so af en toe te “pomp” – dit help glo om die bloed gaaf te laat vloei.

Terwyl my skenkersakkie vol loop, knoop ek met die Moslem-vrou wat links van my háár bloed skenk, ’n geselsie aan. 

Ons groet uiteindelik asof ons ou vriende is.

Nie alle mense kan – weens verskillende redes – bloed skenk nie. Vroulief Corlina was van die begin van ons huwelik af nie juis geneë om my na die kliniek te vergesel nie. Vir my was dit vreemd, want ek kom uit ’n “bloedskenkhuis”; sy toe nié. 

Toe gebeur dit: Ons jongste – omstreeks drie jaar oud – val een nag uit sy bed en beland met sy agterkop op ’n speelding wat langs sy bed gelê het. 

Ons vlie almal op en toe ek in sy kamer kom, is dit net bloed waar jy kyk. 

Ek neem hom badkamer toe en laat hom op ’n lae stoeltjie sit, sodat ek die wond kan ondersoek. “Bring gou vir my ’n skêrtjie, sodat ek sy hare kan wegsny,” vra ek vir vroulief. Die volgende oomblik hoor ek net “doef” – en daar lê sy op die naat van haar rug, “uitgepaas”, soos ons lief is om te sê. 

Toe sit ek met twee pasiënte. Uiteindelik kon ons toe wel die taamlik lang sny op junior se kop by ongevalle geheg kry. 

Ek draf huis toe om ons motor te gaan haal. Ek help haar in en tuis raak sy sowaar in die motorhuis weer in my arms flou.

Jare later, op ’n loom somersmiddag, slaag ek oplaas daarin om vroulief om te praat om ook te gaan bloed skenk. 

Die kliniek was binne stapafstand van ons huis af; ons wandel hand aan hand daarheen. 

Sy gaan dapper deur al die voorbereidings en uiteindelik vloei haar heel eerste skenkersbloed rustig deur die buis. 

Ek sit langs haar bed om haar te ondersteun. Toe sy klaar is, gaan sit sy op ’n leunstoel in die wagkamer, drink ’n vrugtesap en eet ’n koekie. 

Hoog in my noppies oor ons “oorwinning” gaan lê ek op ’n skenkersbed vir my beurt. 

Ek was net klaar toe iemand die lokaal binnestorm en vra wie meneer Pienaar is. Ek steek my hand op. “Kom gou noodkamer toe!” sê die persoon, “Mevrou Pienaar het flou geword!” Ek haas my daarheen en tref haar (weer) aan op die naat van haar rug – uit soos ’n kers. 

Sy kom lateraan by en glimlag flou in my rigting. 

Ek draf huis toe om ons motor te gaan haal. Ek help haar in en tuis raak sy sowaar in die motorhuis weer in my arms flou.

Met adrenalien wat deur my are pomp, slaag ek daarin om haar slaapkamer toe te dra. Ek maak haar toe onder ’n duvet en bel ons huisdokter. 

Gelukkig was liewe Chris van Niekerk gou daar. Hy gee vroulief ’n inspuiting en stel my gerus: Dis nie haar “verbeelding” nie, maar ’n bekende mediese toestand, en hy noem die wetenskaplike naam. 

Nou die anderdag gaan snuffel ek op getroue Google: die verskynsel word genoem “vasovagal syncope”, volgens die webruimte van die bekende Mayo-kliniek.

En nee, dis nie lewensgevaarlik nie; normaalweg is dit ook nie nodig om mediese behandeling daarvoor te ontvang nie. 

Die simptome is presies soos vroulief dit doerie tyd ondervind het: bleekheid, naarheid, koue sweet, duiseligheid, dubbelvisie. As jy sulke simptome by die aanskoue van bloed ondervind, is Mayo-kliniek se advies: Gaan sit rustig weg van die bloederige toneel af, neem iets soets te drinke en ontspan.

Ek het ’n sterk spesmaas “it runs in the family”, soos die Ingelse lief is om te skinder. 

Albei my liewe, dierbare skoon­ouers het presies net so “uitgepaas” by die aanskoue van menslike bloed. Maar dis waar dit opgehou het. 

Skoonpa was ’n geesdriftige jagter en gedurende wintervakansies het ons ure in die vleiskamer op die plaas naby Luckhoff gestaan en vleis bewerk: gems- en blesbokke, talle skape (wat Pa self geslag het), en soms selfs ’n beestollie. 

Maar as één van ons sy vinger met Pa se super skerpgemaakte messe geraps het, was daar pêre!

“Bid jou aan by alles wat heilig is!” soos my vriend Tom McLachlan lief is om te sê.

* Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.