Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Só kla jy oor jou huis se waardasie

Minstens 14 munisipaliteite is besig om op groot skaal eiendomswaardasies te hersien.

Jou huis se waardasie bepaal hoeveel eiendomsbelaasting jy moet betaal. Dit moet markverwant wees. Foto: iStock

As jy vaste eiendom besit, moet jy seker maak waarvoor jou eiendom gewaardeer is, want jy het net ’n beperkte tyd kans om beswaar te maak, sê Ben Espach, ’n direkteur by Rates Watch, ’n waghond-organisasie oor munisipale dienste en tariewe.

Espach sê munisipaliteite word deur die wet verplig om elke eienaar in kennis te stel van sy nuwe waardasie, maar eienaars moet liefs nie vir die posstuk wag nie. Die waardasielyste behoort op die munisipaliteit se webblad beskikbaar te wees en ook by sentrale plekke soos biblioteke.

Neem in ag wanneer jy jou nuwe munisipale waardasie oorweeg dat dit volgens wet ’n markwaardasie moet wees. Let op die datum en oorweeg of die waardasie op dié dag geldig was. In die geval van Tshwane is die datum 1 Julie 2019.

’n Groot styging in die waardasie is nie geldige gronde vir ’n beswaar nie. Dit kan bloot ’n regstelling wees van ’n waardasie wat voorheen te laag was.

Die vraag is of die waardasie die markwaarde van die eiendom op dié datum billik weerspieël. Indien nie, kan die eienaar ’n beswaar indien, sê Espach. “ ’n Groot styging in die waardasie is nie geldige gronde vir ’n beswaar nie. Dit kan bloot ’n regstelling wees van ’n waardasie wat voorheen te laag was,” sê hy.

Selfs al is iemand se eiendom hoër gewaardeer as vergelykbare eiendom in dieselfde straat, is dit ook nie goeie rede vir ’n beswaar nie. Die vraag is hoe dit vergelyk met die markwaarde op die datum van waardering.

Eienaars moet oorweeg of hul eiendom reg gekategoriseer is as residensieel, kommersieel en landbou-eiendom, omdat dít sal bepaal teen watter tarief die betaalbare eiendomsbelasting bereken sal word. Dié kategorie word gewoonlik op grond van die gebruik van die eiendom bepaal en nie die sonering nie.

Kragtens wet moet eienaars minstens 30 kalenderdae tyd kry ná die opening van die waardasielys om beswaar aan te teken.

Kragtens wet moet eienaars minstens 30 kalenderdae tyd kry ná die opening van die waardasielys om beswaar aan te teken. Baie munisipaliteite gee langer kans, maar as dié tydperk verstryk het, is dit vir eers neusie verby.

  

Besware

  

Besware moet ingedien word op die voorgeskrewe vorms, wat verskil vir verskillende soorte eiendom.

Die munisipale waardeerder oorweeg die besware, maar totdat die uitslag bekend is, moet die eienaar sy eiendomsbelastingrekening gegrond op die betwiste waardasie betaal. As die beswaar slaag, sal die eienaar se rekening terugwerkend aangepas word.

As die beswaar misluk, kan die eienaar die redes vir die besluit aanvra en/of teen die besluit appelleer.

Die appèlle word aangehoor deur ’n onafhanklike appèlraad wat deur die provinsiale regering aangestel word. Die voorsitter moet ’n regsagtergrond hê en minstens een lid moet ’n professionele waardeerder wees. Die eienaar of sy verteenwoordiger verskyn self voor die appèlraad en die bewyslas is op hom om te bewys dat die waardasie verkeerd is.

As die eienaar nie met die appèlraad se uitspraak saamstem nie, kan hy dit op hersiening na die hooggeregshof neem.

  

Begroting

  

Die waardasie en kategorie is twee van die elemente wat bepaal wat eienaars by die betrokke munisipaliteite vanaf 1 Julie sal moet opdok vir eiendomsbelasting, se Espach.

Die munisipaliteit se beleid rakende eiendomsbelasting en die voorgestelde tariewe is die ander elemente en dit vorm deel van die begroting wat in Maart ter tafel gelê word. Die beleid gee duidelikheid oor die vereistes waaraan ’n eiendom moet voldoen om in ’n sekere kategorie, byvoorbeeld residensieel, te val en watter kortings van toepassing mag wees.

Die wet stel byvoorbeeld die eerste R15 000 van die waardasies van residensiële eiendom vry van belasting, maar munisipaliteite mag dié bedrag verhoog of byvoorbeeld vrystelling gee aan bejaardes.

Munisipaliteite word verplig om ’n proses van openbare deelname te fasiliteer voordat hulle hul begrotings kan aanvaar en eienaars kan op vergaderings inspraak lewer of geskrewe voorleggings indien.

Die finale begrotings word einde Mei in die stadsraad oorweeg en moet voor einde Junie aanvaar word, sodat die nuwe waardasies en tariewe op 1 Julie in werking kan tree, sê Espach.

k
Meer oor:  Munisipaliteite  |  Huismark  |  Huispryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.