Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Só lyk Kaapse huis te huur teen R150 000 per dag
Die duurste huurhuis in Suid-Afrika sal jou R150 000 per dag kos. Foto: Private Property

Daar is luuks en dan is daar net uitspattig.

’n Praghuis met drie slaapkamers, nege badkamers en vyf eetkamers gesetel langs die beeldskone strande van die rykmansbuurt Clifton in Kaapstad, kan joune wees vir ’n nag.

Mits jy bereid is om báie daarvoor op te dok.

Die aanlyn eiendomsadverteerder Private Property het ’n lys saamgestel van die tien duurste vakansiewonings wat jy in Suid-Afrika kan huur waarvan die prys per dag – in stede van per week of per maand – gelys word. Al die wonings is egter in Kaapstad.

As jy tussen 10 Desember en 20 Januarie graag in die drieslaapkamerhuis in Clifton wil gaan oornag, sal jy R150 000 per dag daarvoor moet opdok.

Die huis is versprei oor vyf vlakke, toeganklik via ’n spesiale hyser.

Elke vertrek het ’n uitsig oor Tafelberg en die uitgestrekte Atlantiese Oseaan. Kyk hier na nog foto's.

Die huis is vanselfsprekend volledig toegerus, met alles wat jy benodig vir ’n luukse vakansie, insluitend ’n biblioteek en ’n vuurherd.

Trouens, as jy nie omgee om die gure Kaapse winterweer te trotseer nie, kan jy dié spogwoning teen net R95 000 per dag opraap tussen Mei en einde Julie.

duur huis
Die hoofslaapkamer in die Clifton-woning. Foto: Private Property

As Clifton nie heeltemal in jou smaak val nie, kan jy ook oorskiet na Bantrybaai neffens Kampsbaai.

Daar kan jy ’n vyfslaapkamerhuis met sy eie teater, stoomkamer, swembad en gimnasium huur teen R130 000 per dag.

Dié prys geld regdeur die jaar.

As bonus kan jy jou wel vergryp aan die huis se ruim voorraad wyne en Franse sjampanje wat ingesluit is by jou huurgeld.

Jy kan ook enige van die vyf luukse motors in die motorhuis gebruik om na bestemmings oor die Kaapse skiereiland heen te verkas. Maar kom ons wees eerlik: Hoekom sal jy ooit kies om dié huis te verlaat?

Teen R130 000 per dag kom dié woning in Bantrybaai met sy eie private teater. Foto: Private Property

Ander eiendomme op Private Property se peperduur lys sluit in ’n hele paar wonings in die Kaapse buurt Fresnaye, insluitend ’n indrukwekkende villa aan die hange van Leeukop met vier slaapkamers en ’n ingeboude pizzaoond teen R93 000 per dag.

Die enigste woning op die lys wat nie geleë is aan die Atlantiese kusgebied nie, is ’n lowergroen eiendom in Oranjezicht met ’n onbeperkte uitsig van Tafelberg en Leeukop wat teen R50 000 per dag ’n ware “winskopie” is.

Hier is die volledige lys:

1. Drieslaapkamerhuis in Clifton teen R150 000 per dag.

2. Sesslaapkamerhuis in Bantrybaai teen R130 000 per dag.

3. Vierslaapkamerhuis in Fresnaye teen R93 000 per dag.

Hierdie villa in Fresnaye het ’n ingeboude pizzaoond en kos R93 000 per dag. Foto: Private Property

4. Vierslaapkamerhuis in Fresnaye teen R80 000 per dag.

Hierdie luukse huis in Fresnaye kos R80 000 per dag en het sy eie ingeboude stoomkamer en gimnasium.Foto: Private Property

5. Vyfslaapkamerhuis in Bantrybaai teen R65 000 per dag.

Teen R65 000 per dag kan jy hierdie pragtige woning in Bantrybaai huur. Foto: Private Property

6. Vierslaapkamerhuis in Kampsbaai teen R61 400 per dag.

Dié woning in Kampsbaai kos R61 400 per dag en het ’n uitsig oor die see en Tafelberg.Foto: Private Property

7. Drieslaapkamerhuis in Clifton teen R60 000 per dag.

Hierdie uitspattige eiendom het toegang tot ’n private strand, maar het ook sy eie swembad. Dit kos “net” R60 000 per dag. Foto: Private Property

8. Vyfslaapkamerhuis in Kampsbaai teen R60 000 per dag.

Hierdie manjifieke woning het vyf slaapkamers en ’n groot buitebraaiplek. Joune vir net R60 000 per dag. Foto: Private Property

9. Vyfslaapkamerhuis in Llandudno teen R55 600 per dag.

Die rykmansbuurt Llandudno is ’n gunsteling onder vakansiegangers. Dié woning kan joune wees teen R55 600 per dag. Foto: Private Property

10. Vyfslaapkamerhuis in Oranjezicht teen R50 000 per dag.

Teen R50 000 per dag kan jy hierdie luukse huis in Oranjezicht huur met sy pragtige uitsig oor Tafelberg. Foto: Private Property

Meer oor:  Huur  |  Vakansie  |  Kaapstad  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.