Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Só word jou huis waardeer, sê Kaapse metro

Die jongste eiendomswaardasies in die Kaapse metro word gegrond op werklike verkope op die ope mark rondom die waardasiedatum vir elke spesifieke gebied, verduidelik raadslid Johan van der Merwe, die Kaapse metro se burgemeesterskomiteelid vir finansies.

Van der Merwe het gereageer op kritiek van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid wat meen die jongste eiendomswaardasies kan misbruik word om meer inkomste vir die stad in te samel noudat daar minder geld uit krag- en waterverkope verdien word.

Daar is byna 900 000 eiendomme in die metro waarop belasting betaal word. Massawaardasies word per rekenaar gedoen deur verkoopsdata, lugfoto’s en ander inligting soos die eiendom se ligging, grootte, aantal vertrekke, buitegeboue, algemene gehalte en uitsig te gebruik om die markwaarde vas te stel. Foto: Argief

Janine Myburgh, president van die kamer van koophandel, meen die stad moet eerder sy hoë bedryfskoste sny as om eiendomseienaars met hoër eiendomsbelasting leeg te suig.

Lees ook: ‘Kaapse metro suig huiseienaars leeg’

Van der Merwe sê die kenmerke van verskillende gebiede word in ag geneem wanneer die markwaardes ontleed word, en waardasies word nie op spekulasie gegrond nie. Daar word wel perseelinspeksies gedoen, sê hy oor Myburgh se kritiek dat die metro te swaar op rekenaargesteunde waardasies steun.

Raadslid Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir finansies in die Kaapse metro. Foto: Kaapse stadsraad

Van der Merwe sê daar is byna 900 000 belasbare eiendomme in die metro. Rekenaargesteunde massawaardasie gebruik verkoopsdata, lugfoto’s en ander eiendomsinligting soos die eiendom se ligging, grootte, aantal vertrekke, buitegeboue, algemene gehalte en uitsig om die markwaarde vas te stel.

Die stad hou ’n volledige databasis van al die eiendomme in stand. Die resultate word hersien deur professionele eiendomswaardeerders en bygewerk indien nodig. Internasionale kundiges oudit die rekenaargesteunde program, die waardasieproses asook die uitkoms, en dit oorskry talle internasionale standaarde, sê Van der Merwe.

Hy sê inwoners se ekonomiese situasie word altyd ernstig in ag geneem, vandaar ook die verlaging van die oorspronklike verhoging in eiendomsbelasting wat aanvanklik voorgestel is. Hy voer aan hoër waardasies beteken eienaars kan ook hoër huur vra, en hoër waardasies is positief vanuit ’n beleggings- en herverkoop-oogpunt.

Oor die kritiek dat die Kaapse metro soos Eskom eerder sy salariskoste moet besnoei as om buitensporige verhogings aan topamptenare te gee, sê Van der Merwe die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regering (Salga) het die mandaat om oor salarisverhogings namens plaaslike regerings te onderhandel; die metro beheer dit nie. Die Eskom-vergelyking is dus nie van pas nie.

Hy meen die grootte van die personeel van die munisipaliteit is toepaslik en relatief tot die “geweldige vereistes om dié suksesvolle en groeiende metro te bedryf, wat die afgelope jare ’n groeiende mandaat vir dienslewering het weens die baie uitdagings op veral nasionale regeringsvlak”.

Volgens Van der Merwe is die hoë standaard van personeeldiens ’n kenmerk van die stad. Dis veral duidelik uit reaksietyd en die gesonde finansiële bestuur. Die metro het die grootste aantal ingenieurs en ander professionele vaardighede in diens as enige ander metro in die land. “Ons veerkragtigheid om Kaapstad deur die ergste droogte in die opgetekende geskiedenis te help is ’n voorbeeld van die gehalte van ons personeel.”

Van der Merwe beklemtoon krag- en waterlewering in die stad word nie soos by sommige ander plaaslike regerings deur afsonderlike entiteite gedoen nie, maar is groot interne dienste van die stad. Daar is byvoorbeeld sowat 610 000 waterrekeninghouers om te bestuur. Die stad se groot kapitaalbegroting van R7,68 miljard is op sigself ’n aanduiding dat sy salarisrekening toepaslik is vir wat gedoen moet word.

Van der Merwe beklemtoon die metro toets voortdurend of besteding op personeel waarde vir geld bied en of diensvlakke daarby pas. “Die stad sal steeds soek na maniere om koste te besnoei tot voordeel van inwoners.”

Meer oor:  Janine Myburgh  |  Johan Van Der Merwe  |  Kaapse Metro  |  Eiendom  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.