SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Eiendomme
Soek jou 1ste huis in dié buurte

Die eiendomswebwerf Lightstone sê die voorstede met die grootste aantal eerstekeerkopers in Gauteng sluit in Protea Glen, Weltevredenpark, Lonehill, Paulshof, Bryanston, Equestria, Moreletapark, Die Hoewes en Sunnyside.

Khosi Sibiya, ’n Seeff-agent in Soweto, sê dit is geen verrassing dat Protea Glen boaan Light­stone se lys is met die hoogste getal eerstekeerhuiskopers in Gauteng nie. “Dit is ’n opkomende en gesogte voorstad wat eerstekeerkopers lok, veral oor bekostigbaarheid en fantastiese geriewe.”

Protea Glen bied uitstekende waarde vir geld wanneer dit met baie ander voorstede in die suide van Johannesburg vergelyk word. Die meeste eiendom hier wissel tussen R450 000 en R800 000, maar ’n woonstel met twee slaapkamers, ’n vol badkamer en ’n oopplansitkamer-en-kombuis kan so min as R290 000 kos.

Hierdie huis met drie slaapkamers en twee badkamers in Protea Glen is op die mark vir R580 000.Foto: Seeff

’n Meenthuis met twee slaapkamers, teëlvloere, ingeboude kaste, ’n sitkamer, vol badkamer en kombuis wissel tussen R380 000 en R420 000. Drieslaapkamer-eenhede met ingeboude kaste, ’n sitkamer met teëlvloere, vol badkamer, kombuis, afdak vir ’n motor en ’n tuintjie kos gemiddeld tussen R450 000 en R480 000.

Eloise de Stefanis, direkteur van verkope by Seeff Randburg, sê Weltevredenpark bied ook uitstekende geriewe, terwyl die ligging maklike toegang tot en uit die gebied moontlik maak.

“Weltevredenpark bied ongelooflike waarde vir geld; intreevlak-eiendom begin by omtrent R500 000 en aangesien daar geen oordragkoste betaalbaar is tot op R900 000 nie, bied dit ’n gulde geleentheid vir eerstekeerhuiskopers om die eiendomsmark te betree.”

Vir R500 000 tot R600 000 bied die gemiddelde woonstel twee slaapkamers en ’n badkamer met ’n oopplankombuis-en-sitkamer en redelik moderne afwerkings. Die meeste woonstelle is dubbelverdieping en sluit ’n afdak vir ’n motor in. Die gemiddelde vloeroppervlakte wissel tussen 55 m² en 65 m².

Vir R600 000 tot R750 000 sal kopers nou en dan ’n simpleks met ’n tuin en twee badkamers van omtrent 87 m² kan vind, maar oor die algemeen kos dié soort eenhede met tuintjies tussen R750 000 en R1 miljoen.

Charles Vining, besturende direkteur van Seeff Sandton, sê Lone­hill en Bryanston is albei groot voorstede met jaarlikse eiendomsverkope van meer as R1 miljard.

“Bryanston word as ’n sentrale Sandton-voorstad beskou en Lonehill is sy noordelike buurman, net wes van Fourways. Albei dié voorstede word vanaf die William Nicol-hoofroete bereik en is gewild onder jong werkendes wat dikwels ook eerstekeerkopers is.”

Talle korporatiewe firmas het kantore in Sandton, wat Bryanston en Lonehill goeie keuses maak. Verskeie firmas het ook hoofkantore in die Sunninghill-Woodmead-area, wat albei aan Lonehill grens. Ligging is ’n belangrike oorweging vir eerstekeerkopers.

Bekostigbaarheid is ook ’n belangrike faktor. Eerstekeerkopers verkies dikwels om van die plan af te koop, want daar is geen oordragkoste nie en sluit ook die voordeel van ’n nuutgeboude eenheid in. Die waarde vir geld wat ouer eenhede bied, moet egter nie onderskat word nie.

Duurder eiendom sluit huise met drie tot vier slaapkamers in Clydesdale in en kos tussen R1,6 miljoen en R2,8 miljoen.
Hayford Obeng

Pryse verskil baie – intreevlakpryse in Lonehill begin by R800 000 en vanaf R1,2 miljoen vir ’n woonstel in Bryanston. Die meeste woonstelle kos tussen R1 miljoen en R2 miljoen, maar Bryanston bied ook skouspelagtige deeltiteleiendom vir omtrent R4 miljoen. Daar is ’n groot verskeidenheid, wat ook aanklank vind by eerstekeerkopers.

Vining sê hul mees noordelike Johannesburg- en Midrand-voorstede, veral Paulshof, bied ook goeie opsies vir eerstekeerkopers wat in Johannesburg, Sandton, Midrand of Pretoria werk omdat dit maklike toegang tot die N1- en M1-snelwegwisselaars bied.

“Twee- of drieslaapkamerwoonstelle kan in Paulshof gekoop word vir pryse onder R1 250 000.”

Gerhard van der Linde, Seeff se besturende direkteur in Pretoria-Oos, sê sowel Equestria as Moreletapark bied goeie waarde.

“Albei hierdie buurte word as ’n goeie voet in die deur vir nuwelinge beskou wat hulself as eiendomseienaars wil vestig.”

Die deeltitelmark wat eiendom tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen bied, is in groot aanvraag en kopers kan eenhede met twee of drie slaapkamers in dié prysklas vind.

Steve van Wyk, Seeff se besturende direkteur in Centurion, sê Die Hoewes is baie gewild en beskik oor sowat 6 300 deeltiteleenhede wat wissel in prys vanaf ’n baie bekostigbare R545 000 tot ongeveer R2,4 miljoen, met ’n gemiddelde prys van R750 000.

Hayford Obeng, ’n Seeff-agent in Sunnyside, sê dié voorstad groei baie vinnig en bied goeie infrastruktuur en ligging.

“Die gemiddelde een- en tweeslaapkamerwoonstel in Sunny­side kos onderskeidelik R270 000 en R360 000.

“Duurder eiendom sluit huise met drie tot vier slaapkamers in Clydesdale in en kos tussen R1,6 miljoen en R2,8 miljoen.”

Meer oor:  Huiskoop  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.