Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Sorg dat jou ombud sy geld kry

Eiendomme-lesers se vrae en interessante bydrae is die fokus van Gustaf Pienaar se rubriek die week. Hy bespreek, onder meer, ’n interessante, ou boustyl in Kaapstad, inbrake by veiligheidsbuurte en wat ’n gangbare Afrikaanse woord vir “bulk” is.

  

Herken jy dié huisplan? ’n Leser wil weet wie dit ontwerp het. Skets: Hanlie Malan

Ek is diep in die skuld by so baie lesers wat vir my bydraes stuur of interessante vrae vra. Laat ek dus vandeesweek probeer om ’n duik in my inmandjie te maak.

Wie was die argitek?

Die eerste is ’n brief wat – volgens die e-posadres – van ene “Malan1968” af kom.

Dié vriend stuur ’n ouerige, taamlik onduidelike foto van ’n huis saam en sluit ook ’n basiese vloerplan in.

Hanlie Malan het dit oorgeteken, want die foto was nie vir drukdoeleindes bruikbaar nie. Haar natekening verskyn hiernaas.

Hy (of is dit sy?) skryf: “Kleintyd op Durbanville het ons bure in só ’n huis gewoon. Ek het die uitleg baie goed geken, aangesien ek elke dag daar gespeel het.”

Hanlie se getroue oortekening van die foto wys die ontwerp van die betrokke huis – weliswaar sonder ’n voorstoep en met erkers (uitgeboude vensters).

Ons briefskrywer voeg by: “Ek het nou al op verskeie plekke in die Kaap dieselfde ontwerp gesien. Mense het mettertyd hul eie variasies – soos ’n stoep voor – bygevoeg. Die bouplanne moes iewers in die 1940’s beskikbaar geword het. Letterlik honderde sulke huise is gebou.”

Regtig? Ons vriend wonder wat die storie van dié huise is en wie die argitek was. Kan iemand help?

Veiligheidsbuurt

Kobus Smit skryf hy het jare gelede ’n huis gekoop in ’n sogenaamde veiligheidsbuurt.

Aanvanklik was die buurt bloot omhein met geen bewaakte toegangshekke nie. In die loop van ’n enkele jaar was daar vier inbrake by Kobus se eiendom. Intussen is die sekerheid by die kompleks opgeskerp: daar is nou toegangshekke en voltydse sekerheidswagte.

“Desondanks,” skryf Kobus, “was daar wéér ’n inbraak waartydens duisende rand se ware gesteel is.”

Kobus meen daar is twee moontlikhede: Óf daar moes ’n voertuig deur die hekke gekom het om swaar gesteelde items by sy huis op te laai en weg te ry, óf die diewe moes die items oor die heining getel en oor ’n stuk veld gedra het (wat vir Kobus onwaarskynlik lyk.)

Hy het die inbraak by die polisie aangemeld, asook die beheerliggaam van hul huiseienaarsvereniging genader om ondersoek in te stel.

“Ek het na twee maande steeds niks van hulle gehoor nie,” sug Kobus, en vra wie verantwoordelik is vir die skade. Hy betaal dan immers ’n maandelikse heffing vir die sekerheidsdienste:

  • Is dit die beheerliggaam wat hom met die aankoop van sy eiendom verseker het dat dit ’n veiligheidsbuurt is?
  • Is dit die sekerheidsonderneming wat immers betaal word om te waak oor die paar eiendomme in hul buurt? “Kan hulle maar net sê, ‘sorry vi’ jou’?” vra Kobus.
  • Of moet hy maar net die verliese gelate aanvaar?

Kobus, vriend Johan Engelbrecht van Mosselbaai het my daarop attent gemaak dat die Wet op Gemeenskapskemas, Wet 9 van 11 (wat eers op 7 Oktober 2016 in werking getree het), ook op huiseienaarsverenigings soos julle s’n van toepassing is. (Ek was verkeerdelik onder die indruk dat dit net op deeltitelskemas van toepassing is. Dankie dat jy my reggehelp het, Johan.)

Ek sal probeer om in Afrikaans te verduidelik wat dié wet (wat net in Engels beskikbaar is) se omskrywing van ’n gemeenskapskema (“community scheme”) behels.

Die vernaamste kenmerk van sodanige skemas is dat die gebruik van en verantwoordelikheid vir gedeeltes van grond en geboue deur die inwoners gedeel word – byvoorbeeld in die geval van deeltitelontwikkelingskemas, aandeleblokmaatskappye, huiseienaarsverenigings, behuisingskemas vir afgetrede persone, en dergelike meer. Die net word wyd gegooi.

Die wet stel ’n ombudliggaam daar wat die taak het om sover moontlik dispute wat in sulke skemas ontstaan te probeer besleg, sonder om hof toe te gaan.

En natuurlik is daar geld betrokke: Ingevolge artikel 59 van die Wet moet sulke gemeenskapskemas jaarliks bydra tot die finansiering van die ombudsdiens, ooreenkomstig ’n bepaalde formule.

Daar bestaan reeds ’n ombudsdiens wat bekend staan as – wag daarvoor – die Community Schemes Ombud Service (CSOS). Gaan kyk gerus na hul webblad – natuurlik slegs in Engels – by www.csos.org.za.

Jy sal merk dat dié liggaam binne ’n uiters komplekse wetgewende raamwerk funksioneer.

Benewens die Grondwet tel ek minstens sewe ander wette wat in meerdere of mindere mate ’n rol speel. Die ombud sê sy taak is om ’n kultuur, of – as jy wil – ’n “regime” van administratiewe geregtigheid en alternatiewe dispuutbeslegting vir alle Suid-Afrikaners in sulke gemeenskapskemas daar te stel. Mooiklinkende woorde (maar nou weet ons ook al: papier in Suid-Afrika is bitter geduldig.)

Dus, Kobus – hier is jou kans. Gaan bekla jou lot by die ombudsdiens en laat weet asseblief mettertyd vir ons wat jy kon uitrig. (En o ja – ek hoop die beheerliggaam van jul huiseienaarsvereniging het al by die Ombuddiens geregistreer en die verskuldigde jaargeld betaal. Versuim om dit te doen, kan tot boetes lei, vertel ’n ingeligte eiendomsbestuursagent my nou die dag.)

Bouregulasies

’n Paar weke gelede het ek vertel van ’n katnes wat in die 1960’s in Seepunt in die Kaap oopgekrap is, toe iemand ondersoek ingestel het na die goedkeuring van ’n woonstelkompleks met die naam Mimosa. Dit het geblyk dat twéé geboue wederregtelik op een perseel opgerig is, en dat die totale “vloeroppervlak” (my woord) van die twee geboue die toelaatbare vloeroppervlak aansienlik oorskry het.

Die Engelse praat van die verhouding tussen die grootte van die perseel en die toegelate vloerruimte as “bulk”, en ek het toe gevra wat ’n gangbare Afrikaanse woord vir “bulk” is. Daar was drie bydraes.

Malcolm de Roubaix skryf: “Ek dink ‘dekking’ is ’n goeie woord – lekker kort. Een van die groot filosowe van die vorige eeu (Wittgenstein) het gesê woorde het geen ander betekenis as dit wat ons daaraan toedig nie. Dus: as ons ‘dekking’ wil gebruik vir ‘bulk’ en dit laat inburger . . . siedaar!”

Erwin Rode meen kort en klaar: “Die Afrikaans vir ‘bulk’ is ‘massa’”. Hy sal weet, want hy het ’n indrukwekkende lys van Afrikaanse begrippe en woorde vir die omvattende eiendomsbedryf opgestel.

Self het ek die verskillende betekenisse vir die Engelse selfstandige naamwoord “bulk” gaan opsoek. Die verklaring begin met ’n pikante voorbeeldsin: “Residents jump up and down on their rubbish to reduce its bulk” – bid jou aan! Sinonieme vir “bulk” is “size”, “volume”, “dimensions”, “measurements”, “proportions”, “mass”, “substance”, “scale”, “magnitude” – ag, die lys is lank.

“Massa” kán dus werk vir “bulk”.

Jaap van Lille, ’n bekende argitek van George, benader die aangeleentheid egter ’n raps meer wetenskaplik. Die Afrikaans vir “bulk”, sê hy, is “vloerruimteverhouding” – afgekort v.r.v. Dit is die verhouding tussen die toelaatbare vloeroppervlak en die erfgrootte – byvoorbeeld: indien die erf 2 000 m² beslaan en die v.r.v. is 2,5, is die maksimum toelaatbare vloeroppervlak 5 000 m².

Daar het jy dit. Malcolm se “dekking” – as ’n lekker kort woord – doen dit egter vir my gevoel die beste. Maar sal dit ingeburger raak? 

  • Gustaf Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord graag vrae van ’n algemene aard. Stuur e-pos vir hom na: c.gustafpienaar@ gmail.com.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomsreg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.