Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
State wys Sharemax se Nova is bykans insolvent

Die jongste finansiële state van die Nova PropGrow Group, wat die mislukte Sharemax-beleggingskema moet help red, wys dié onderneming is bykans insolvent.

Nova se Villa Retail Park in Pretoria-Oos. Moneyweb beskryf dié winkelsentrum as “Sharemax se grafsteen”.

Dié state is wetlik drie maande laat gepubliseer en het boonop ’n gekwalifiseerde oudit van die groep se nuwe ouditeure, Nexia SAB&T, gekry.

Die ouditeure bevraagteken nie net die manier waarop Nova se eiendomswaardasies gedoen is nie, maar ook of Nova as ’n lopende onderneming kan voortbestaan. Nova se direkteure hou vol hulle het genoeg finansiële hulpbronne.

Boonop het die direksie bonusse ter waarde van R1,1 miljoen (benewens hul salarisse van R15,8 miljoen) vir hulself goedgekeur.

Die finansiële state wys dat Nova ’n bedryfsverlies van R36 miljoen (R87 miljoen in 2017) en ’n netto verlies van R155 miljoen (2017: R127 miljoen) vir die fiskale jaar tot einde Februarie gely het.

Die balansstaat wys Nova het bates ter waarde van R2,6 miljard (R2,8 miljard in 2017) en laste van R2,557 miljard. ’n Onderneming is tegnies insolvent as die laste die bates oorskry, of soos in Nova se geval, die laste net-net minder as die bates is. Nexia se mening rakende die moontlike oorwaardasie van die eiendomswaardes is daarom krities. Sou die waardasies met meer as R75 miljoen verminder word, is Nova tegnies insolvent.

Die onderneming se kontantvloei lyk ook beroerd. Die groep se bedryfsaktiwiteite het ’n negatiewe kontantvloei van R23,7 miljoen (R43,5 miljoen in 2017) opgelewer.

Nova sal waarskynlik nog eiendomme moet verkoop om verdere bedryfskoste te kan dek.

Nova het in die afgelope jaar Checkers Virginia vir R36,4 miljoen verkoop en aangekondig dat nog drie eiendomme (Silverwater Crossing, Benoni Hyper en eiendomme met betrekking tot Brookfield Investments) sedert 28 Februarie vir R284,5 miljoen verkoop is.

In die direksieverslag, wat deur Dominique Haese, uitvoerende hoof en sekretaris van Nova, onderteken is, voer hulle aan dat sy finansiële posisie nie so sleg is soos dit met die eerste oogopslag lyk nie.

Die netto verlies van R155 miljoen sluit glo rekenkundige aanpassings en eenmalige, buitengewone uitgawes in. Sou dit buite rekening gelaat word, sou die groep ’n wins van R8,9 miljoen toon.

Nexia het die eerste keer Nova se boeke vir die afgelope boekjaar gedoen nadat BDO, hul voorgangers, bedank het. Nexia se gekwalifiseerde oudit laat ernstige vraagtekens oor Nova se finansiële state, want dit beteken die ouditeurs stem nie saam met die direkteure oor die stand van sake nie.

Nexia is veral besorg oor die manier waarop die waarde van die eiendomme vasgestel is wat betref leë persele en herkapitalisasiewaardes.

“Ons het die sleutelaannames opgeweeg waarop die eiendomswaarderings gegrond is, maar ons is nie tevrede dat die aannames akkuraat is wat betref die stand van die beleggingseiendomme nie,” lui Nexia se verslag.

In dié verslag spreek die ouditeure ook hul kommer uit oor of Nova as lopende onderneming kan voortbestaan weens die groep se kontantvloeiposisie en sy netto verlies.

Nova se direksie verskil van hul ouditeurs. “Die direkteure is tevrede dat die groep in ’n goeie finansiële posisie is en toegang het tot genoeg hulpbronne om in die afsienbare toekoms aan sy kontantbehoeftes te voldoen.”

Ten spyte van die groep se finansiële posisie, verdien die uitvoerende direksielede steeds stewige salarisse. So verdien Haese R4,36 miljoen per jaar, wat ’n bonus van R332 750 insluit. Connie Myburgh, uitvoerende voorsitter, vat R4,37 miljoen huis toe wat ook ’n bonus insluit.

Die totale direksie se salarisse beloop 23% van alle kontant wat die groep in die 2018-boekjaar ingekry het.

Dit verteenwoordig ook 10,9% van bedryfskoste en beteken dat die direksie R1 kry van elke R4 wat die onderneming uit huur verdien.

Charles Rembe, die voorsitter van die ouditkomitee, het in reaksie op navrae gesê hulle sal eers ná die feestyd daarop kan reageer.

  • Dié berig het eerste op Moneyweb verskyn en word met toestemming gebruik.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.