Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Stedelinge bly maar sku vir winkels

Selfs noudat dit wettig is om op enige plek te gaan inkopies doen, verkies verbruikers winkelsentrums wat gerieflik geleë is, sê die eiendomsfirma Resilient.

Die Jabulani Mall in Soweto behoort aan Resilient.

Resilient, wat kleiner en plaaslike winkelsentrums in die noordelike provinsies besit – onder meer Mall of the North, die Irene Mall, Secunda Mall en Highveld Mall – sê handel in winkelsentrums buite die groot stede vaar beter as dié in die groot metropolitaanse gebiede.

Verbruikers besoek ook meer afslaghandelaars.

Die maatskappy het in ’n handelsverklaring beaam wat Growthpoint verlede week gesê het, naamlik dat mense eerder in hul woonbuurt winkel toe gaan.

In Junie het die besoekerstalle na Growthpoint se winkelsentrums landwyd 80% beloop van wat dit in dieselfde tyd ’n jaar gelede was. “Ons Wes-Kaapse winkelsentrums wat in gevestigde stedelike gebiede is waar mense diep bewus is van die verspreiding van die virus, is die ergste getref met besoekers wat 50% tot 60% minder as dieselfde tyd ’n jaar gelede was.”

Growthpoint besit ’n groot belang in die V&A Waterfront in Kaapstad. Besoekers het sedert die inperking van die normale 80 000 per dag tot so min as 3 400 per dag gedaal.

Resilient sê hoewel die inperking betreklik kort was, was die impak daarvan op sy huurders baie swaar en herstel tot vlakke voor die Covid-19-inperking sal lank duur.

Vir die agt maande tot einde Februarie het verkope in Resilient se winkelsentrums met 4,7% gestyg, maar vir die 11 maande tot einde Mei het dit met 3,2% gedaal, wat die impak van die inperking weerspieël.

Oor Edgars, Jet

Resilient sê hy is deur Edcon se sakeredders ingelig dat hulle teen einde Junie bindende aanbiedinge vir Edgars en Jet verwag. “Weens die gehalte van sy eiendomsportefeuljes en lae leegstaansyfers, is Resilient vol vertroue dat die impak van enige veranderinge deur die nuwe eienaars bestuur sal kan word.”

Toegewings op huur

Resilient kom veral klein ondernemings en vermaaklikheidsplekke soos flieks en restaurante tegemoet deur vir hulle afslag op hul huur te gee.

Resilient het sedert 27 Maart – toe die inperking in werking getree het – reeds R160 miljoen se huurafslag toegestaan. Dit is byna 90% van ’n normale maand se huur en tariewe. Huurders moes steeds ten volle vir dienste betaal en kleinhandelaars wat noodsaaklike produkte verkoop, het geen afslag gekry nie.

Ooreenkomste is met meer as 90% van huurders gesluit. Hoewel heelwat huurders agterstallig is met hul huur, verwag die firma dat dit sal afneem soos ooreenkomste bereik word.

Die persentasie ruimte wat leeg staan, het van 1,9% in Desember 2019 tot 2,1% in Junie gestyg.

Nigerië

Resilient het drie sentrums in Nigerië en hulle was heeltemal in April toe. Flieks en restaurante in dié land bly steeds toe en sentrums mag net tussen 08:00 en 17:00 sake doen weens ’n nasionale klokreël. Die maatskappy sê daar is steeds geen aanduiding wanneer die klokreël of inperkingsregulasies verslap sal word nie.

Meer oor:  Resilient  |  Vlak 3  |  Winkels  |  Restaurante  |  Inperking  |  Genoteerde Eiendom  |  Flieks  |  Winkelsentrums  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Staat Van Inperking  |  Kleinhandel  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.