Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Stryd van gister, vandag se boere

’n Buurman van Gustaf Pienaar op Vleesbaai, Monty Truter, se seun is verlede naweek tydens ’n aanval op sy plaas by Kirkwood vermoor. Pienaar fokus op hierdie hartverskeurende tendens – of dit nou in Suid-Afrika of die voormalige Rhodesië is. 

Pienaar het hierdie foto van oom Coen Bezuidenhout, ’n boer, en sy vrou geneem gedurende ’n besoek aan Umtali (deesdae Mutare) aan die oosgrens van die destydse Rhodesië in 1978. Kort ná die onderhoud het Bezuidenhout met die Peugeot 404-dieselbakkie op die foto ’n landmyn digby sy plaashuis afgetrap. Foto: Gustaf Pienaar

’n Onlangse ontleding deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het bevind dat daar in 2018 nagenoeg 432 plaasaanvalle en 54 plaasmoorde was. Dit verteenwoordig ’n afname in plaasmoorde, maar ’n skerp styging in plaasaanvalle. “Die plaasgemeenskap baklei terug en gevolglik is daar ’n afname in moorde. Meer slagoffers skiet terug, meer word opgelei en meer verdedig hulself,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. Hy het in Januarie op ’n mediakonferensie gesê AfriForum se 132 gemeenskapsveiligheidstrukture en sowat 8 500 aktiewe veiligheidslede bied toenemend gerusstelling aan gemeenskappe en maak hulle weerbaar.                 

Op ’n manier laat die vlaag plaasaanvalle oral deur die land my terugdink aan ’n besoek in 1978 aan Umtali (deesdae Mutare) aan die oosgrens van die destydse Rhodesië waar my broer die NG predikant was. Ek was toe nog aan die SAUK verbonde, en my baas, Morkel van Tonder, was geesdriftig oor my voorstel dat ek die besoek moes benut om programmateriaal te versamel vir latere uitsending – veral omdat daar toe nog baie Afrikaanssprekendes in ons buurland was. In my broer se gemeente was daar talle boere wat toe al die slagoffers was van terroriste-aanvalle deur die magte van Joshua Nkomo van die Zimbabwe African People’s Union (Zapu) en Robert Mugabe se Zimbabwe African National Union (Zanu). Laat ek dit duidelik stel: Daar is na my mening bitter min ooreenkomste tussen die situasie destyds in Rhodesië en die hedendaagse vlaag plaasaanvalle in ons land. 

Dáár het ’n laeintensiteit-burgeroorlog geheers, en die plaasaanvalle was deel daarvan. Die oogmerk was om die burgerlike deel van die bevolking te terroriseer, landbouproduksie te ontwrig en soveel moontlik ongevalle te veroorsaak deur vuurpylaanvalle uit Mosambiek, landmyne op grondpaaie en by plaasingange, en regstreekse aanvalle op plaaswonings met mortiere en outomatiese gewere. Die verraderlike hedendaagse aanvalle op Suid-Afrikaanse boere het – so wil dit my lyk – meer te make met gierigheid as enige van die motiewe wat destyds in Rhodesië gegeld het. Soos met aanvalle op woonhuise in dorpe en in die stede, is ook die plaasaanvallers op soek na geld, drank, vuurwapens, selfone, rekenaars, voertuie – noem maar op. Daar is, na die beste van my wete, nog geen bewyse gevind dat daar ’n oorhoofse strategie is “om wit mense die see in te jaag” nie. Suid-Afrika is ook nié besig om ’n “tweede Zimbabwe” te word nie. Moet jou nie aan sulke nonsens steur nie.       

Die uitputtingseffek van die oorlog is duidelik merkbaar onder die groot aantal boere wat reeds uit sekere distrikte padgegee het en hul spogplase net so agtergelaat het.

Daar is wel na my mening twee raakpunte tussen Rhodesië van die 1970’s en Suid-Afrika in 2019. Meer daaroor later. My broer het destyds gereël dat ek een nag kon deurbring op die plaas van ’n gemeentelid in die vrugbare Burma-vallei tussen Rhodesië en Mosambiek. Dit het ’n onuitwisbare indruk op my gelaat. Ek het vroeg die volgende oggend ’n telefoniese stemverslag vir die aktualiteitsprogram Monitor gestuur, maar die klankgehalte was net eenvoudig te sleg vir uitsending: dit was immers lank voor selfone. 

Ek het nogtans my handgeskrewe verslag deur die jare bewaar, en wil graag ’n paar sinne daaruit aanhaal:“Vir ’n besoeker aan Rhodesië,” het ek geskryf, “is dit onmoontlik om nie van minuut tot minuut bewus te wees van die uitmergelende terroriste-oorlog wat hierdie land reeds sedert 1972 teister nie. “Sedert my aankoms verlede Donderdagaand het ek al self ’n slag of twee van naderby kennis gemaak met die leed wat die oorlog veroorsaak. “Vrydagoggend het ek met Danie en Hannalie Slabbert op hul plaas ‘Constantia’ naby Inyazura gesels, pas nadat hul die vorige aand deur terroriste aangeval is. 

“Vyf mortierbomme het hul elegante plaaswoning net-net gemis. Sondagoggend was ek in die kerk toe my broer hul tweeling-seuntjies van drie maande gedoop het – twee babas wat twee nagte vantevore deur hul moeder in die badkamer van hul huis bewaak is, terwyl mortiere en die koeëls uit AK47’s op hulle gereën het.“Saterdagoggend het ek ’n lang onderhoud gevoer met oom Coen Bezuidenhout van die Odzi-distrik, wat reeds ’n hewige terroriste-aanslag op sy plaaswoning oorleef het. “Oom Coen is ’n legendariese figuur hier in die oostelike gebiede van Rhodesië en die mense sê hy stuit vir g’n duiwel nie. “In 1947, byvoorbeeld, het hy sy regtervoet verloor in ’n skermutseling met ’n luiperd, en vandag moet hy met ’n kunsbeen oor die weg kom.

Hul opsies was andersins bitter min. Suid-Afrikaanse boere is na my mening tot veel méér in staat.

“Ná ons onderhoud het ek ’n foto van oom Coen by sy Peugeot 404-dieselbakkie geneem. Gisteroggend het hy met dieselfde bakkie ’n landmyn digby sy plaashuis afgetrap. “Sy vrou en kleinseun wat saam met hom in die kajuit was, het ongedeerd daarvan afgekom. Oom Coen self is met veelvuldige beserings in die hospitaal op Umtali opgeneem. ’n Plaaswerker wat agter op die bakkie was, het die lewe gelaat.“

Die uitputtingseffek van die oorlog is duidelik merkbaar onder die groot aantal boere wat reeds uit sekere distrikte padgegee het en hul spogplase net so agtergelaat het. “ ’n Vooraanstaande sakeman van Umtali het gister aan my gesê dat daar op dié pragtige dorp digby die Mosambiekse grens reeds meer as 500 huise in die mark is. ’n Lofwaardige uitsondering is sommige boere – veral in die gevaarlike Burma-vallei waar ek vannag (skaars ’n kilometer van die Mosambiekse grens af) geslaap het. “Dié mense het ’n leeftyd lank gebou aan hul spogplase (meestal piesangplase) en hulle besef dat daar feitlik nêrens elders vir hulle ’n heenkome is nie. 

“Daarom is die stuk of 16 gesinne in hierdie vallei daarop ingestel om self, sover as moontlik, te sorg vir hul eie verdediging. “Elke plaashuis is deeglik met omheinings en skrapnelbomme gefortifiseer en ’n deeglik uitgewerkte plan bestaan wat almal sal betrek by ’n reddingspoging indien een aangeval word.”     

Tot sover ’n gedeelte van my stemverslag, wat helaas toe nooit uitgesaai is nie. Ek wil beklemtoon dat daar na my mening min parallelle bestaan tussen die situasie van Rhodesië se boere destyds en hedendaagse boere in ons land. Wat daardie mense deurgegaan het, is onmeetlik erger as wat óns boere se lot tans is: landmyne, vuurpyl- en mortieraanvalle, AK47’s. Daar is egter twee ooreenkomste: Die vasberadenheid om jouself te verdedig en die ou waarheid van “ ’n boer maak ’n plan”. Na my mening kan moderne tegnologie – ons leef immers in die era van die “vierde industriële revolusie” – selfs méér vermag as wat destyds tot Rhodesiese boere se beskikking was: welis­waar ’n arsenaal wapens; vindingryke skrapnelbomme wat strategies rondom hul huise geplaas is en wat elektronies van binne afgevuur kon word; ’n mate van organisasie – sulke dinge. 

Hul opsies was andersins bitter min. Suid-Afrikaanse boere is na my mening tot veel méér in staat. AfriForum loop dikwels deur onder kritiek. Ek ondersteun egter hul inisiatiewe om die lewe op ons land se plase veiliger te maak. Daarvoor verdien hulle lof – nie verguising nie. Op ’n persoonlike noot: liewe Monty en Rhona – ek is seker die ganse Vleesbaai se harte gaan na julle uit. Ons innige, innige simpatie met jul verlies.

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Kirkwood  |  Eiendomme  |  Plaasaanval  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.