Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Talle van SA verhuis na ‘Boere-Monaco’
Port Louis, die hoofstad van Mauritius.

Met sy son, see en palmbome, maar ook wolkekrabbers, snelweë en binnekort ’n hoëspoedtrein is Mauritius lank­al nie meer net ’n vakansieplek vir plesierjagters nie.

Dit bied nou ook ’n nuwe heenkome vir Suid-Afrikaners wat tydelik daar wil woon en werk, aftree of ten volle wil emigreer.

Volgens nie-amptelike syfers is tussen 3 500 en 4 000 residensiële visums onlangs aan Suid-Afrikaners uitgereik, het prof. Mari Jansen van Rensburg, kampusdirekteur van die Middlesex-Universiteit in Mauritius, aan Rapport gesê.

Die klein eiland in die suidweste van die Indiese Oseaan het sy deure wyd oopgegooi vir buitelanders wat daar wil woon en werk. Die regering het in die begroting vanjaar boonop ’n reeks nuwe aansporings bekend gestel om dit nog makliker te maak vir nuwe beleggers wat hulle daar wil kom vestig.

’n Belegger wat nie volle burgerskap het nie, moet nou minstens $50 000 (R867 000) belê – net die helfte van wat dit vroeër was.

Verblyfpermitte vir werkers is van drie jaar tot tien jaar verleng. Mense met verblyfpermitte kan hul ouers en kinders (onder 24 jaar) ook laat kom.

Magnus Heystek, beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth, wat self eiendom daar besit, sê die regering maak dit uiters aantreklik vir sakelui en beroepslui.

“Die Mauritiane buig agteroor vir buitelanders met raad oor hoe om ’n onderneming te begin en met belastingaansporings. Hulle besef buitelanders bring kapitaal en skep werkgeleenthede en as hulle dit gaan moeilik maak vir die Suid-Afrikaners of Engelse of Franse, gaan daai geld baie vinnig padgee.”

Dit is juis dié oopkop ingesteldheid wat maak dat Mauritius bestempel word as Afrika se suksesverhaal.

In die jongste “Ekonomiese Vryheid in die Wêreld”-verslag wat die Kanadese Fraser-instituut saamstel, is Mauritius sewende uit 162 lande. (Suid-Afrika is 90ste.) Die indeks meet faktore soos die grootte van ’n regering, die stand van die regstelsel, die gemak om internasionaal handel te dryf en die regulering van die private sektor. Mauritius is 13de op die Wêreldbank se Ease of Doing Business-ranglys. Hy bevind hom in die geselskap van onder meer Singapoer, Hongkong, Nieu-Seeland, die VSA en Brittanje. In 2016 was Mauritius nog 49ste op die ranglys.

Volgens die Wêreldbank het Mauritius die afgelope paar jaar groot vordering gemaak met die uitreiking van permitte vir konstruksiewerk, die registrasie van eiendom en die outomatisering van permitte vir sakelisensies.

Maar daar is ook ’n slang of twee in die gras in dié paradys.

Nuwe geboue verrys in en rondom Port Louis.

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika het onlangs aangekondig daar was korrupsie met ’n tender vir ’n energieprojek in Mauritius. Die land kan ook moontlik op ’n swartlys vir geldwassery en die finansiering van terrorisme beland. “Dit kan die land se reputasie as een met ’n ‘skoon regering’ aansienlik knou,” het Richard Chelin, ’n navorser van die Enact-projek van die Instituut vir Sekerheidstudies, in ’n artikel gesê.

Die eiland steun swaar op ander lande vir kos en die impak van Covid-19 op sy kernsakebedrywe – toerisme, finan­siële dienste en die uitkontraktering van sakeprosesse – sal die ekonomie ’n gevoelige slag toedien, berig The Conversation. Vroeë ramings toon die BBP kan vanjaar met tot 6% inkrimp.

Nietemin glo ekonome Mauritius sal heelhuids anderkant uitkom danksy ’n goed gediversifiseerde ekonomie, ’n betreklik lae werkloosheidskoers en ’n sterk finansiële sektor.

Jansen van Rensburg sê Covid-19 is grootliks onder beheer in Mauritius en alhoewel ’n kleiner verskeidenheid ingevoerde artikels nou beskikbaar is, is daar geen tekorte nie. Toerisme is wel onder geweldige druk en dit sal waarskynlik eers oor ’n jaar of twee toeneem tot die vlak van voor die pandemie.

Jansen van Rensburg en haar gesin woon sedert April 2018 in Mauritius. Haar man, Willem, is ’n bedryfsdirekteur by ’n regsfirma wat onder meer Suid-Afrikaners help met visumaansoeke en die registrasie van sakeondernemings.

Brenthurst Wealth het ook ’n kantoor in Mauritius wat Suid-Afrikaners op die eiland en voornemende emigrante raad gee. “Die stroom van Suid-Afrikaners na Mauritius is ongekend: boere, sakelui en dokters en tandartse wat hul praktyke daarheen wil skuif,” sê Heystek. “Baie mense beskou dit as ’n plan B om verblyfreg in Mauritius te kry.”

Heystek is betrokke by die bestuur van die kompleks in die Black River-omgewing waar hy die afgelope tien jaar ’n eiendom het.

“Ons noem dit die Boere-Monaco en in bestuursvergaderings praat ons Afrikaans terwyl die Franse ons oorbluf aankyk.”

Meer oor:  Mauritius  |  Emigrasie  |  Eiendomme  |  Verhuis  |  Oorsese Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.