Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Toe duiwel Anglia van oprit af. . .

’n Kersfees-bederf van die kinders die afgelope Desember het Gustaf Pienaar na Oupa Pienaar – ’n oud-Boishaaier en gerespekteerde skoolhoof – laat terugverlang. Hy deel ’n paar staaltjies oor sy oupa. 

eiendomme
Padkos op pad na ’n prettige vakansie! Oupa se Chev staan links; Pa se Vauxhall regs. Foto: Gustaf Pienaar

Ons kinders begin nou met ons maak soos wat ons met óns ouers op dié ouderdom gemaak het: Ons kry lekkernye vir Kersfees en verjaarsdae – biltong, vyekonfyt, eksotiese kase, sjokolade. 

Dis ’n welkome afwisseling van die spreekwoordelike sakdoeke, onderbroeke en sokkies.

Kersfees 2018 se bederf was ’n kunstig versierde houertjie met daarbinne presies tien blokkies van die allerheerlikste fudge in ’n verskeidenheid geure. Die verpakking van die blokkies – elkeen groot genoeg vir deel met vroulief – is verleidelik: veelkleurige sneespapier as ’n eerste laag en dan ragfyn “outydse” silwerpapier as ’n tweede en finale laag. 

Ek haal ’n silwer omhulsel versigtig af en begin onwillekeurig om dit tussen my duim en wysvinger glad te stryk. 

En toe verlang ek skielik na oupa Pienaar. Hy was ’n roker: Anton Rupert se vlagskipproduk in geel boksies van 30 – Rembrandt van Rijn – was sy gunsteling. 

As ’n pakkie leeg was het hy die luukse goue papiertjies binne-in vir my bewaar vir gladstryk, al was dit net om te kyk of ek dit kon regkry sonder om die papiertjie iewers te skeur. 

Oupa – ’n oud-Boishaaier (matriek in 1906) – was ’n gerespekteerde skoolhoof; voorsitter van die Bokfontein Geloftefeeskomitee; skrywer van ’n boekie oor die geskiedenis van die Ras-kanonne wat in die Eerste Vryheidsoorlog teen die Kakies gebruik is; ’n formidabele skaakspeler; ’n Christen. 

Ek het nou nog my eerste Bybel wat hy vir my kort voor my agtste verjaardag present gegee het. Voorin het hy my in sierskrif aangemoedig om die Bybel te neem “as gids op jou lewenspad” – met, daarby, ’n verwysing na Psalm 119:9-11.

Ek onthou Oupa ook rondom sy motorkarre. Ek het ’n vae herinnering aan sy Opel Kapitän uit die vroeë 1950’s waarmee ons op ’n dag iewers heen gery het.

Pa het bestuur met Ouma langs hom. Ek en my boetie het agter weerskante van Oupa gesit. Hy het ons met allerlei speletjies vermaak en ons het gekraai van die lag. 

Toe kom 1955 – die jaar toe General Motors die wêreld met “omkrul-windskerms” in hul nuwe Chevrolets, Buicks, Pontiacs en Cadillacs verras het. Oupa se keuse was ’n Chevrolet: roomkleurig met ’n wynrooi dak en wynrooi wielvellings; witwandbande. 

Hy was nie min in sy skik met sy ’55-Chevy nie – tot daardie dag voor Price se winkel in Brits se hoofstraat waar hy “skuins” geparkeer het om iets te gaan koop. 

Terug by die Chev het hy dit oopgesluit, ingeklim, aangeskakel, trurat geskakel en toe – soos sy gewoonte was – sy linkerarm oor die bankvoorsitplek se leuning gesit om omkyk na agter te vergemaklik. 

Skielik was daar fout: Die sitplek had ’n groen oortreksel; sy Chev se bekleedsel was rooi. Toe merk hy dat die motor ook nie ’n truspieël voor op die regtermodderskerm het nie. 

Vir sy Chev het hy ’n spieëltjie laat aanbring toe hulle die keer met ’n gehuurde karavaan gaan vakansie hou het.

Oupa het begin rondkyk en toe ’n identiese Chev ’n paar parkeerplekke verder gesien – sy Chev. Hy het die Chev-met-die-groen-sitplekoortreksels versigtig in sy oorspronklike parkeerplek teruggestoot, dit omkyk-omkyk toegesluit en met sy eie Chev-met-die-rooi-bekleedsels huis toe gery. 

“Hoe onveilig is deesdae se karre nie!” het hy onvergenoegd gesnork en aan ’n Rembrandtjie geteug. “Daar sluit my sleutel iemand anders se Chev oop én aan die gang!” 

Oupa se laaste motor was ’n 1960-Anglia – donkerblou met so ’n koddige skuins agterruit. Hy het dit gekoop pas nadat hy en Ouma vir etlike maande lank deur Europa gaan toer het. 

Agterna het Pa vertel dat Oupa se huisdokter hom vooraf ingelig het dat sy rookgewoonte tot terminale longkanker gelei het. Hy het dit nie geweet nie. “Moet ook nie vir die ander kinders sê nie,” was die dokter se advies. 

“Laat die oumense hul vakansie oorsee ongehinderd gaan geniet; dit gaan hul laaste wees.”

Ek het die eerste keer besef daar is fout met Oupa toe hy een Saterdagoggend iewers heen met die Anglia wou gaan ry. Ek het by hulle met my trapfiets gaan kuier, soos wat my gewoonte oor naweke was. 

Oupa het gesukkel met die klein karretjie. Met die Chev kon hy sonder moeite die twintig, dertig meter van die motorhuis af na Jacksonstraat agteruitry, maar met die kleine Anglia kon hy nie meer so sekuur tru nie. 

Toe duiwel die Anglia van die oprit se sementwalletjie af.

Oupa was bang dat Ouma sou kom raas. Vervaard het hy die Anglia se domkrag uit die bagasiebak gehaal en daarmee probeer om die regteragterwiel wat oor die sementwal gehang het, op te domkrag in ’n poging om die karretjie weer op die oprit te kry. 

Self ek was te swak en onbeholpe om te help, maar wat my laat besef het daar is fout is toe ek sien hoe ongelooflik Oupa gesweet het. Sy gesig was waternat en hy het na asem gesnak. 

Ek het die bure se tuinhulp gaan roep en op ’n manier kon hy help – sonder dat Ouma daarvan te wete gekom het. 

As ’n pakkie leeg was het hy die luukse goue papiertjies binne-in vir my bewaar vir gladstryk, al was dit net om te kyk of ek dit kon regkry sonder om die papiertjie iewers te skeur.

Nie lank daarna nie is Oupa hospitaal toe – Pretoria Algemeen, ons naaste goeie hospitaal. Dit was nadat Ouma vertel het dat hy snags in ’n warm bad moes gaan sit om te kan piepie. 

Saam met die longkanker was daar nou ook prostaatkanker – en dié het toe reeds na sy skelet versprei. 

Oupa het stadig en pynlik in die hospitaal weggekwyn. My pa het getrou laatmiddae vir Ouma Pretoria toe geneem. 

Later was Pa se oë bloedbelope, want elke aand op hul terugtog Brits toe het die Uitspan-Inryteater pas uitgekom en moes hy telkens die strome skerp aankomende motorligte trotseer. 

Iemand het vir hom ’n geel bril present gegee en dit het glo gehelp.

Een nag het Pa-hulle nie huis toe gekom nie. Ek het Ma met hom oor die telefoon hoor praat. 

Ons het gaan slaap. So teen sesuur die volgende oggend was Pa tuis. Oupa is teen dagbreek oorlede. 

Sy kankerspesialis, professor Fawksin – as ek reg onthou – het vir Pa by die sterfbed belowe: “Meneer Pienaar, ons sál hierdie siekte eendag oorwin!”

Ouma het vertel Pa het by Oupa se bed gekniel en die Goeie Vader vir sy lewe gedank. Toe is hulle stil met die Anglia terug huis toe.

Ná ’n koppie tee het Pa vir oom Kristo, sy jonger broer van Bellville, gaan bel om hom die nuus mee te deel. Dit was die eerste keer in my jong lewe dat ek Pa sien huil het. 

Sy skouers het geruk en ek was nog nie groot genoeg nie – en glad te onbekend met “dood-in-die-familie” – om my arm vertroostend om hom te sit.

Jare later was dit my beurt om by Pa se sterfbed te kniel . . .

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.