Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Toename in koop van 2de eiendom

Suid-Afrikaners is besig om teen ’n spoed tweede eiendomme te koop om munt te slaan uit laer rentekoerse én laer huispryse in sekere kategorieë.

Foto ter illustrasie: ’n Huis in Meredale in die suide van Johannesburg wat te koop is. Suid-Afrikaners met meer besteebare inkomste koop tans tweede eiendomme – meesal om te verhuur. Foto: ELIZABTH SEJAKE

FNB se syfers vir die vierde kwartaal van 2020 toon ’n 46%-toename in die getal huiskopers wat ’n tweede eiendom gekoop het, teenoor dieselfde tydperk in 2019.

’n Groot getal van die eiendomme is aangeskaf in die kategorie van laer huureiendom: 20,6% was vir eiendom onder R500 000 en 24% vir eiendom tussen R500 000 en R1 miljoen.

“Ons kan uit ons data sien dat baie van die kopers steeds hul oorspronklike eiendom besit; dit is hoe ons weet die aankope is vir ’n tweede eiendom,” het Kgomotso Sebakwane, hoof van ontleding en waardasies van FNB private banklenings, aan Rapport gesê.

Die toename in die koop van tweede eiendomme is verrassend aangesien die leegstaankoers vir huureiendom tans hoog is.

Luidens die jongste data van Tenant Profile Network (TPN) was die leegstaankoers vir die laaste kwartaal verlede jaar byna 13% en huurpryse is aan die daal. Landwyd het huurpryse in 2020 met 0,6% afgeneem, maar die afname is groter in Gauteng (-1,7%) en Kaapstad (-1,6).

Volgens Rowan Alexander van Alexander Swart Eiendomme dryf vraag – en nie aanbod nie – die koop van eiendom in die laaste 12 maande.

“Daar is ’n vensterperiode vir baie kopers oor die lae rentekoerse. En al is die huurmark onder druk is ’n tweede eiendom (as dit gekoop is om verhuur te word) ’n belegging op lang termyn.”

Eiendom is nou binne die bereik van talle Suid-Afrikaners wat dit in die verlede nie kon bekostig het nie.

Alexander verduidelik: “Voor die inperking moes ’n huishouding ’n gesamentlike inkomste van tussen R60 000 en R65 000 verdien het om te kwalifiseer vir ’n eiendom van R2 miljoen. Nou is die gesamentlike inkomstevereiste af na R36 000 per maand.” Dit bied geleenthede vir voornemende huiskopers – of dit nou ’n primêre woning, huureiendom of vakansieplek is.

Alexander sê al is die leegstaankoers vir huureiendom tans hoog, reageer huurders positief wanneer verhuurders hul huurbedrae afwaarts aanpas soos wat hul eie verbandkoste op hul tweede eiendom afgeneem het.

Mense moet hul verwagting van huurinkomste aanpas. Jy gaan steeds 75% van jou verbandkoste in huur terugkry, maar in randwaarde gaan dit minder wees as vantevore, aldus Alexander.

’n Verkoopsbord vir ’n huis in Meredale in die suide van Johannesburg wat te koop is.Foto: ELIZABETH SEJAKE

Michelle Dickens, uitvoerende hoof van TPN, sê daar ís voordele om in die huidige omgewing ’n tweede eiendom aan te skaf. “Die eiendom wat jy nou koop, is potensieel goedkoper, want daar is so baie mense wat uit nood hul eiendom verkoop. En jy kan steeds ’n aanvaarbare huurinkomste verdien, terwyl jy die eiendom dalk teen ’n afslagprys gekoop het.”

Dickens sê egter die “toename” in tweede-eiendom-kopers, volgens FNB, moet in konteks gesien word.

In die jare 2003 tot 2006 was daar meer as 600 000 registrasies van nuwe eiendomme per jaar. In 2020 het die syfer gedaal na 300 000 per jaar.

“So, die totale volume van verkope is 25% minder as gedurende die bloeitydperk.”

Sebakwane sê die meeste van die tweede eiendomme wat mense koop, is om dit uiteindelik te verhuur. Korttermyn-verhuringsplatforms soos Airbnb maak dit egter ook vir baie mense moontlik om ’n inkomste uit ’n vakansieplek te verdien en só ’n gedeelte van hul verbandkoste te kan dek.

Volgens Alexander het die inperkings wat wêreldwyd geld veral hoë-inkomstegroepe aangespoor om ’n strandhuis of ’n “plekkie in die bos of by die dam” te koop. “Hierdie mense het gewoonlik in die wintermaande oorsee gereis na bestemmings waar dit somer is. Maar daardie geleenthede is nou weg en hulle redeneer hulle sal liewer vir die volgende vyf jaar plaaslik reis en nie afhanklik wees van deposito’s wat teruggehou word, of kansellasies weens die inperking nie.”

Erwin Rode, eiendomskenner van Rode en Genote, sê ’n tweede huis is ’n luukse en laer rentekoerse maak die luukse bekostigbaarder. “Die implikasie is die boonste laag van ons samelewing het lig van Covid-19 afgekom as hulle nou tweede huise kan bekostig.”

Hy waarsku dat dit ’n riskante besluit is, want dis ’n kwessie van tyd voordat rentekoerse weer toeneem.

Meer oor:  Huise  |  Beleggings  |  Eiendomme  |  Eiendomsmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.