Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Treffende wonders te kry

’n Treffende portret van ’n Watussi-vrou deur die befaamde Irma Stern, gaan die hoogtepunt wees op Strauss & Co se komende Lenteveiling in Kaapstad.

Die skildery, A Watussi Woman with Mountains, wat in 1946 gedurende Stern se tweede reis na die Belgiese Kongo geskilder is, het ’n voorveilingswaarde van tussen R9 miljoen en R12 miljoen.

Irma Stern se treffende A Watussi Woman with Mountains, gaan die hoogtepunt wees op Strauss & Co se komende Lenteveiling in Kaapstad. Dit het ’n voorveilingswaarde van tussen R9 miljoen en R12 miljoen.

Die kunswerk gaan saam met drie portrette deur Maggie Laubser en ’n diverse versameling van J.H. Pierneef-skilderye, onder meer vyf vreugdevolle skilderye uit ’n enkeleienaar-versameling, verkoop word.

“Stern en Pierneef is die voorperde in die Suid-Afrikaanse veilingsbedryf,” sê Bina Genovese, Strauss & Co se mede- besturende direkteur.

Sy sê sedert die veilingshuis in 2009 begin sake doen het, het die twee kunstenaars verkope ter waarde van R630 miljoen gelewer.

“Dié verbysterende syfer getuig van die breë grondslag van versamelaars wat diepe vreugde daaruit put om werke deur dié belangrike kunstenaars te besit.”

Soortgelyk getuig die Pierneef-aanbieding hoe die krag van reis nuwe energie na die artistieke praktyk toe kan bring. In 1926 het Pierneef ná ’n omvattende Europese toer na Pretoria teruggekeer met planne om die kunskenners te “skok” met sy nuwe styl.

Gold & Green, Rooiplaat, N.T. met ’n voorveilingsraming van tussen R500 000 en R700 000, is ’n neo-impressionistiese wonder, wat die kunstenaar se geliefde Rooiplaat uitbeeld in kort, kronkelende kwashale van pure kleur.

Dié werk is afkomstig uit die enkeleienaar-versameling. Die versameling sluit ook in twee vroeë olieverfwerke van wilgerbome, die oorheersende motief in Pierneef se vroeë loopbaan, asook die stralende Tall Trees in a Mountain Landscape.

Die werk dateer van 1925, gedurende Pierneef se huwelik met May Schoep ná ’n ongelukkige vorige huwelik, en is ’n merkwaardige voorbeeld van ’n energieke periode van hernuwing. Die skildery gaan na verwagting vir tussen R500 000 en R700 000 verkoop.

Maggie Laubser, ’n tydgenoot van Stern en Pierneef, word verteenwoordig deur twee vroeë portrette. Portrait of a Young Girl, wat in 1922 geskilder is, onthul Laubser se tegniese vaardigheid in ’n meer akademiese styl. Dié werk gaan na raming vir tussen R500 000 en R700 000 verkoop. Haar Weemoed met ’n voorveilingsraming van tussen R800 000 en R1,2 miljoen toon ’n meer ekspressionistiese benadering.

Dié werk is in 1931 gekoop en sedertdien in dieselfde private versameling gehou.

Laubser, Stern, Pierneef, Alexis Preller en William Kentridge is Strauss & Co se topvyf-kunstenaars en hulle word almal in die komende veiling verteenwoordig.

Die voorste Preller-lot is Two Urn Heads, ’n ongedateerde werk wat ooreenkom met werke wat hy gedoen het ná sy terugkeer na Suid-Afrika vanaf Italië in 1943. Hy was ’n krygsgevangene daar.

Kentridge is die land se mees gevierde lewende kunstenaar. Dié kontemporêre meester se The Artist’s Garden, ’n hout­skoolskets, is by die komende verkoping beskikbaar vir tussen R700 000 en R900 000.

Die veiling word op 7 Oktober by die Vineyard-hotel in Newlands in Kaapstad gehou. Vir meer inligting, besoek www.straussart.co.za.

Meer oor:  Strauss & Co  |  Irma Stern  |  Kunsveiling  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.