Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Trek só makliker met kinders en diere

Jy het uiteindelik jou droomhuis gekoop en is kinderlik opgewonde om daarheen te trek. Jou opgewondenheid kan egter vinnig gedemp word as kinders en troeteldiere deel van die trekkery is.

  

Neem my asseblief saam! Met die regte planne kan jy trek minder stresvol maak vir jou en jou diere.

Volgens eiendomskenners word jou kinders en troeteldiere die ergste geraak wanneer jy verhuis omdat hul hele omgewing verander. Dit kan dus die trekkery vir jou moeilik maak.

Sandy Geffen, uitvoerende direkteur van Sotheby’s International Realty, het al baie keer saam met haar gesin verhuis en erken dat dit nie altyd ’n stresvrye proses is nie.

Sy het ’n bietjie raad wat sy met lesers kan deel.

“Om vooraf ’n bietjie strategiese beplanning te doen kan baie help om die proses te vereenvoudig, die uitwerking daarvan op jou hele gesin te verminder, die risiko van onvoorsiene struikelblokke te verminder én die oorgang makliker te maak.

“Dit gee jou ook kans om jouself in die nuwe huis tuis te maak,” sê sy.

Volgens Geffen moet jy nie op die laaste minuut aankondig dat julle gaan verhuis nie. Jou kinders het tyd nodig om sulke nuus te verwerk en aan die gedagte gewoond te raak.

Om te trek, kan kinders gespanne maak. Hulle raak ontsteld oor wat hulle moet agterlaat en senuagtig oor die gedagte aan ’n nuwe skool en nuwe vriende.

Geffen sê die beste is om dadelik nadat die besluit geneem is, ’n gesinsvergadering te hou en die nuus oor te dra. Sodoende kan ouers vrae en kommernisse bespreek.

“Dit is belangrik om te verduidelik dat die sleutelaspekte van hul lewe dieselfde sal bly en dat al die bekende inhoud van die huidige woning, veral dit wat in hul kamers is, gaan saamtrek.”

   

Raad met kinders en trek

   

Ek is reg vir trek, Mamma: Maak dit vir jou kinders en diere maklik om te verhuis.

As jy klaar oor die trek gesels het, kan jy dié stappe doen om jou kinders te help aanpas:

1. Hou by jul normale roetine

Daar sal baie onderbrekings vir jou gesin wees in die aanloop tot die dag waarop julle verhuis. Probeer dinge soos slaap- en etenstye dieselfde hou.

2. Besoek die nuwe woongebied

Indien moontlik kan jy die gesin op ’n uitstappie na die nuwe huis en woongebied neem. Wys jou kinders waar hulle nou gaan woon, en fokus op die positiewe nuwe elemente van die huis.

3. Betrek die kinders by die proses

Maak hulle verantwoordelik vir die ontruiming van hul kamers, en laat hulle toe om te besluit waar al hul goed in die nuwe kamer gaan kom.

Dit is ook ’n geleentheid om skoon te maak. Gee vir hulle ’n boks waarin klere en speelgoed kan kom wat hulle nie meer gebruik nie.

4. Beplan ’n pretaktiwiteit by die nuwe huis

As die trek afgehandel is, gaan doen iets lekkers saam. Besoek ’n restaurant in die omgewing, of gaan speel of hou ’n piekniek in die naaste parkie.

  

Raad met diere wat trek

  

Woef moet gewys word waar sy slaapplek is in die nuwe huis.

Dit kan vir troeteldiere traumaties wees wanneer julle verhuis. Hulle verstaan nie waarom alles skielik verander nie.

Hulle kan angstig raak en weghardloop of na die ou huis gaan soek. Hul gesondheid en gedrag kan verander of daaronder ly. Jy moet aandag daaraan gee.

Veral katte word baie gespanne wanneer die huis ontruim en hul eet- en speeltye versteur word.

Die maklikste is om jou troeteldiere te los by ’n vriend of ’n familielid die dag waarop jy trek.

Indien dit nie moontlik is nie, volg dié wenke:

1. Plaatjie aan die halsband

Op die trekdag word deure en hekke maklik oopgelos omdat almal rondhardloop. Maak daarom seker jou troeteldiere dra ’n halsband met ’n plaatjie waarop jou kontakbesonderhede verskyn, ingeval een van hulle uitglip en wegraak.

2. Gesels met jou veearts

Diere kan, soos mense, siek raak wanneer hulle reis. Praat derhalwe vooraf met jou veearts, sodat hy of sy vir jou troeteldiere medisyne kan voorskryf wat die trek vir hulle kan vergemaklik. Ook as die reis na jou nuwe tuiste lank duur, kan iets voorgeskryf word.

3. Perk jou troeteldier op die trek dag in

Hou jou diere in een kamer met bekende voorwerpe soos speelgoed, komberse en genoeg water terwyl jy trek.

Moet egter nie jou troeteldiere te veel kos gee voordat jy met hulle reis nie.

Sodra jy by die nuwe huis aankom, laat jy jou troeteldiere toe om eers in een vertrek tuis te word.

4. Maak só jou kat tuis

Katte moet ’n paar dae in ’n kamer gehou word voordat jy hulle elders in die huis toelaat. Hou ’n ogie oor hulle wanneer jy hulle vir die eerste keer uitlaat, want katte hardloop maklik weg.

5. Maak só jou hond tuis

Honde is minder gebiedsvas as katte, maar moet ook stadig aan ’n nuwe huis bekend gestel word.

Wys jou honde waar hul beddens in die nuwe huis is en waar hulle kos en water kan kry.

Verken saam met hulle die tuin, en neem hulle gereeld op staptogte om die nuwe woonbuurt te leer ken.

Meer oor:  Troeteldiere  |  Trek  |  Huis Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.