Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Tshwane se nuwe heffings onwettig, sê groepe

Burgerregtegroepe dreig om die Tshwane-metroraad se hele R37 miljard-begroting tersyde te laat stel.

Tshwane, die hoofstad van Suid-Afrika. Foto: Brand South Africa

Dít kom nadat die stad se hoofadministrateur, Mpho Nawa, oor wie se aanstelling daar reeds ’n hofgeveg aan die gang is, glo sy magte oorskry het deur die stad se finale begroting vir 2020-’21 op eie houtjie goed te keur.

Die begroting, wat munisipale rekenings skerp laat styg het, het reeds op 1 Julie in werking getree.

Een van die grootste dorings in inwoners se vlees is die nuwe water- en sanitasieheffings.

Vir water is die heffing R120 vir alle gebruikers wat minder as 9 kl water per maand gebruik. Dié bedrag is nagenoeg dieselfde as wat verbruikers in die vorige geldjaar vir 9 kl water betaal het.

Inwoners met ’n klein huishouding sê dit benadeel hulle. Rapport het die rekening gesien van ’n bejaarde leser wat teen die ou tariewe net 2 kl water gebruik het. Dít het haar R23,22 gekos. Haar jongste rekening is vir 3 kl en dit kos haar nou R120.

Vir sanitasie is ’n vaste tarief van R70 nou betaalbaar, met geen gebruikstarief tot 9 kl nie. Voorheen het 9 kl R82,50 gekos, maar 2 kl net R16,42.

Morné Mostert, hoof van plaaslike regering by AfriForum, sê die metroraad het nagelaat om dié drastiese verandering behoorlik onder die aandag van inwoners te bring tydens die konsultasieproses oor die begroting.

Lex Middelberg, voorsitter van die Tshwane Money Matters Caucus (TMMC), meen die heffings is ’n vorm van munisipale belasting, omdat dit betaalbaar is, ongeag die lewering van die diens. Hy sê munisipaliteite mag slegs so ’n belasting instel as die minister van finansies daartoe instem en dit in die Staatskoerant promulgeer. Dít het nie gebeur nie, sê hy.

AfriForum én die TMMC wil hof toe oor die heffings. Albei meen Nawa het sy magte oorskry deur die begroting goed te keur.

As daar, soos in Tshwane, nie ’n wettiglik saamgestelde raad is nie, mag net die provinsiale regering ’n begroting goedkeur, wat dan tydelik van aard is. Sodra ’n wettiglik saamgestelde raad begin funksioneer, moet dié raad ’n finale begroting goedkeur.

Die VF Plus steun dié standpunt en die munisipale konsultant adv. Werner Zybrands stem daarmee saam. Mostert sê AfriForum sal op dié proses aandring.

Die tydelike begroting moet volgens hom ook aan openbare deelname onderwerp word en AfriForum sal die geleentheid gebruik om die nuwe heffings te beveg.

Middelberg het ook sterk kritiek uitgespreek teen die nuwe waardasielys, wat op 1 Julie in werking getree het, en meen die openbare deelname daaroor was ook gebrekkig. Die hofstukke wat die TMMC voorberei, sal grootliks daarop fokus in die konteks van die begroting wat na bewering onregmatig goedgekeur is.

Meer oor:  Tshwane  |  Pretoria  |  Sanitasie  |  Water  |  Watertariewe  |  Munisipale Dienste  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.