Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Tulbagh lok ook semigrante
Dié leefstylplaas in Tulbagh is vir R18,7 miljoen in die mark en word as ’n lopende saak verkoop. Benewens die groot Kaaps-Hollandse huis wat in 1999 gebou is, is daar ook 14 ha druiwe, 1,7 ha vrugtebome en 33 ha onontwikkelde grond. Daar is ook meer as genoeg water op die plaas. Foto: Verskaf

Die rustige historiese dorpie Tulbagh in die Witzenbergstreek beleef tans ’n oplewing in sy huismark, sê ­eiendomskenners.

Dié dorp, sowat 120 km vanaf Kaapstad geleë in die skadu van die Winterhoekberge, is nou vinnig besig om ’n gewilde bestemming vir Suid-Afrika se ­sogenaamde “semigreerders” te word.

Dorpe soos Philadelphia, Malmesbury, Porterville, Riebeek-Kasteel, De Rust en Calitzdorp is al lank gewilde woongebiede vir huiskopers wat uit die gejaag van die stad wil ontsnap, maar volgens Nelia Retief, ’n agent vir Seeff in Tulbagh, is dié dorp ook nou in hierdie ­kopers se visier.

Wat beteken semigrasie?

Emigreer of “semigreer”? Maar wat beteken semigrasie?

Semigrasie is ’n neiging in die huismark wat vir die afgelope paar jaar al hoe meer waargeneem word.

Dit is wanneer mense van een provinsie na die ander in dieselfde land trek – byvoorbeeld van Gauteng na die Wes-Kaap – op soek na ’n ­beter, veiliger en gemakliker leefstyl.

Huiskopers hoef nie die land te verlaat, oftewel te emigreer, om hierdie leefstyl te kry nie.

Vergeet van emigreer – dis nou semigreer

Daar is baie Suid-Afrikaners wat graag die gewoel van die stad sou wou agterlaat om op die platteland te gaan nesskop – weg van die spanning, hoë misdaadsyfer en verkeer wat baiekeer met ’n lewe in die stad gepaardgaan.

Luidens ’n verklaring van Seeff is daar tans ’n nasionale neiging in die huismark wat dít bevestig.

Suid-Afrikaners semigreer na dorpe in ander dele van die land – hoofsaaklik in die Wes-Kaap – vir ’n verskeidenheid redes en nie net om meer waarde vir hul geld te kry nie. Hierdie kleiner dorpe het oor die algemeen minder misdaad, groter huise teen laer pryse, minder verkeer, vars lug en ’n omgewing wat familievriendelik is.

Volgens Retief val Tulbagh ook in hierdie kategorie.

Vinnige feit

Tulbagh is die vierde oudste dorp in die land – naas Kaapstad, Stellenbosch en Swellendam.

Só word daar gekoop

Retief sê dat altesaam 43 erwe, plase en huise net in die laaste jaar in Tulbagh deur kopers opgeraap is. Die meeste van hierdie kopers kom van elders in die land, op soek na ’n beter gehalte leefstyl.

“Baie van ons kopers is mense wat ’n tweede huis koop waarheen hulle oor naweke kan wegbreek, of mense wat nie kantoorgebonde is nie en slegs sowat een of twee keer per week na Kaapstad moet reis.”

Volgens Retief is daar tans ’n groot vraag na eiendom in Tulbagh – veral huise met verkoopspryse onder R1,5 miljoen. Die huis moet verkieslik drie slaapkamers en twee badkamers hê, en op ’n erf van sowat 800 m² geleë wees.

Erwe raak ook al hoe meer gewild onder kopers in Tulbagh, sê Retief. Dié transaksies word hoofsaaklik met kontant gedoen omdat banke net 60%-lenings vir die soort eiendomme toestaan, voeg sy by.

“Die boukoste in Tulbagh word egter al hoe duurder. Dit sal jou nou gemiddeld sowat R7 000 per vierkante meter kos om te bou. Dit bly dus meer bekostigbaar om ’n bestaande huis te koop as om een te bou.”

Hoe lyk dit met ’n plasie?

Volgens Retief kyk kopers nie net na huise in die dorp self nie. Die sogenaamde “leefstylplase” in Tulbagh kry ook groot aftrek – veral as die verkoopsprys onder R5 miljoen is. “Kopers stel meesal belang in kleiner dele plaasgrond van sowat 15 ha wat hulle vir toerisme kan aanwend. Tulbagh is uiters gewild as ’n naweekbestemming en vir troues, en die gastehuise hier vaar ook baie goed.”

Benewens vir die natuurskoon en ander trekpleisters wat kopers en besoekers na Tulbagh lok, word ’n handvol feeste ook gedurende die jaar in die dorp aangebied.

Meer inligting: Bel Nelia Retief van Seeff in Tulbagh by 082 899 2248, of stuur e-pos na nelia@seeff.com.

Meer oor:  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.