Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
V&A Waterfront brei nóg uit
Bouwerk vorder aan die Zeitz Museum of Comtemporary African Art wat in die ou graansilokompleks in die Waterfront in Kaapstad opgerig word. Foto: Lerato Maduna

Daar is nog sowat 126 000 m² se grond by die V&A Waterfront in Kaapstad wat ontwikkel moet word.

Growthpoint Properties, wat die helfte van die spog-ontwikkeling besit, wil oor die volgende paar jaar dié grond omskep met inkomstegenererende bates, sê Norbert Sasse, uitvoerende hoof.

Hy het op ’n aanbieding in die Waterfront oor die groep se halfjaarresultate tot einde Desember gesê die groei van 18,7% in beleggingsinkomste van die Waterfront spruit uit die omsethuur van winkels en hotelle.

Sasse sê die omsethuur van hotelle op grond van hoe volbespreek hulle is, het weggekwyn in die jare ná die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010. Maar dit is nou weer besig om te herstel en is selfs nou meer as in die geil tye rondom die Wêreldbeker.

Grootste huurders by Waterfront
  • Nedbank – 25 433 m²
  • Allan Gray – 18 499 m²

  • Legacy Hotels – 16 226 m²
  • Departement van openbare werke – 14 601 m²
  • Woolworths – 7 682 m²
  • Newmark Hotels – 7 563 m²
  • Edcon – 7 514 m²
  • Pick n Pay – 5 991 m²
  • Tourvest – 3 318 m²
  • The Foschini Group – 3 013 m²

Die Waterfront se bydrae tot Growthpoint se toeskryfbare inkomste het van 8,1% of R198 miljoen ’n jaar gelede tot 8,7% of R235 miljoen gestyg.

Sasse sê benewens die onontwikkelde dele in die Waterfront soos die Grangerbaai-gebied waarheen ontwikkeling oor die volgende paar jaar sal skuif, oorweeg die groep ook verkrygings of die hersonering van sekere dele om die Waterfront se aanbod uit te brei.

Estienne de Klerk, besturende direkteur van Growthpoint, sê R311,8 miljoen se ontwikkelings- en kapitaalbesteding is in die afgelope halfjaar in die Waterfront aangegaan en nog R363,9 miljoen is geoormerk vir latere besteding.

Die ontwikkelings- en kapitaalbesteding bedra onder meer R93 miljoen vir Waterway House, ’n nuwe kantoorontwikkeling aan die oostekant by die ingang na die Waterfront vir kantore vir die ouditgroep EY en die sportmotormaatskappy Ferrari.

Die tabakmaatskappy British American Tobacco het reeds sy nuwe Suid-Afrikaanse hoofkantoor in dié kantoorkompleks gevestig. ’n Bedrag van R59,7 miljoen is aan die Zeitz-kunsmuseum en The Silo Hotel as deel van die graansilo-projek bestee, en R55,2 miljoen is aan die Radisson Red Hotel bestee.

Geld wat geoormerk is, sluit in R141,2 miljoen vir die bou van ’n nuwe parkeergarage, die Battery Parkade, wat in Maart 2018 voltooi sal wees, nog R86,5 miljoen vir die Radisson Red Hotel wat in Julie vanjaar voltooi sal wees, en R51,3 miljoen vir nuwe wooneenhede in die No. 3 Silo-gebou.

Die Openbare Beleggingskorporasie, wat die staat se pensioenfondse bestuur, besit die ander helfte van die Waterfront.

Meer oor:  Growthpoint  |  Norbert Sasse  |  V&A Waterfront
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.