Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
V&A Waterfront se wins halveer

Die helfte minder mense het in die nege maande tot Maart die V&A Waterfront in Kaapstad besoek as dieselfde tyd ’n jaar gelede.

Gevolglik het die Waterfront se verdienste voor rente en belasting in dié tyd met 51% tot R471 miljoen gedaal.

Die Kaapse Waterfront gesien vanuit die Zeitz Mocaa-kunsmuseum. Foto: Francois Williams

Maar sedertdien het dit stelselmatig verbeter, en besoekersgetalle is tans op 70% tot 75% van 2019 se syfers, sê die eiendomsgroep Growthpoint, mede-eienaar van die Waterfront saam met die Openbare Beleggingskorporasie.

Sowat 30% van die inkrimping in besoekersgetalle is weens die afwesigheid van internasionale toerisme, sê Growthpoint in ’n handelsverslag oor die nege maande tot einde Maart.

Dit het ’n groot invloed op die hotelle, restaurante en juweliers in dié gewilde bestemming.

Teen Mei was die besoekers by die winkels in die Waterfront op byna 70% van wat dit in Mei 2019 was.

Growthpoint help die sukkelende hotelbedryf in die Waterfront met afslag en uitstel van huurbetalings. Die Cape Grace en Commodore Hotel is steeds gesluit weens die afwesigheid van internasionale toeriste.

Wat die nywerheids- en mariene-afdeling in die Waterfront betref, kry Growthpoint steeds huur in van die visserybedryf wat nie deur die inperkings geraak is nie.

Aantrekkings soos die Two Oceans-akwarium, die Zeitz Mocaa-kunsmuseum en boot- en helikopterverhurings ly egter weens die insinking in toerisme. Die eindpunt vir passasierskepe wat die Waterfront namens Transnet bestuur, is ook steeds gesluit.

Die seiljagsektor vaar egter steeds goed danksy die bootboubedryf wat steeds luukse seiljagte bou en uitvoer.

Sakereddings

Growthpoint het tot dusver vanjaar minder sakereddings gesien as in 2019 en 2020, maar hy verwag wel nog.

Growthpoint het in 2020 39 gevalle gehad waar van sy huurders gelikwideer is of in sakereddingsprosesse gegaan het, grootliks weens die invloed van die Covid-19- inperkings, wat sy agterstallige huur met R124,4 miljoen laat styg het. In 2019 was daar 13 gevalle wat hom R6,7 miljoen in ekstra agterstallige huur gekos het.

Van sy groot huurders tot dusver wat sukkel sluit Edcon, Ster-Kinekor en Consolidated Steel in.

Die Zeitz Mocaa-kunsmuseum is van die bestemmings in die Waterfront wat die nege maande tot einde Maart swaargekry het weens die afwesigheid van internasionale toeriste. Foto: Francois Williams

Sedert einde verlede jaar het Growthpoint nog 54,4 miljoen se afslag aan huurders gegee, tesame met R5,3 miljoen se uitstel. Van huur wat tevore uitgestel is, het hy R16,9 miljoen ingesamel. Sy agterstallige huurgeld het teen einde Maart tot R437,9 miljoen gekrimp van einde Desember se R494,2 miljoen. In die nege maande is R80,9 miljoen se agterstallige huur afgeskryf.

Growthpoint het teen einde Maart vir R277,1 miljoen se slegte skuld voorsiening gemaak.

Die groep meen die Covid-19-pandemie het die ekonomie baie jare se vooruitgang belemmer, en dit sal waarskynlik jare duur voordat absolute BBP-syfers tot 2019 se vlakke herstel. Dit beteken die eiendomsmark sal vir die volgende twee jaar onder druk bly.

Kantore

Growthpoint meen baie kantoorhuurders wil terugkeer na hul kantore, maar dit word vertraag deur die derde vlaag van die pandemie en die trae inentingsveldtog. Gevolglik is ondernemings versigtig om hulle tot kantoorhuurkontrakte te verbind. Huurders wil afskaal, en soek buigsamer huurkontrakte.

Die leegstaansyfer by sy kantore het gevolglik tot 19,5% gestyg.

In Sandton, waar die meeste van Growthpoint se kantoorruimte is, is sy leegstaansyfer die hoogste op 25,4%.

Kleinhandel

Supermarkte, apteke en winskopie-klerewinkels herstel vinniger as ander kleinhandelsektore. Kleiner gemeenskapswinkelsentrums vaar beter as die groter sentra.

Die leegstaansyfer in sy winkelsentrums het teen Maart effe verswak tot 5,9% teenoor Desember se 5,4%.

Growthpoint het ses winkelsentrums te koop vir sowat R500 miljoen.

Nywerheid

Hoewel nywerheidseiendom tans die voorkeur-bateklas in die eiendomsektor is, is die huurders ook aan’t konsolideer, en hulle brei nie uit nie. Huurtermyne is steeds kort weens onsekerheid en ’n gebrek aan sakevertroue.

Die leegstaansyfer het van 7,1% in Desember tot 8% geklim. Durbanse fabriekspersele het die kleinste leegstaansyfer van 3,8%. In Johannesburg is dit 8,8% en in Kaapstad 10%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.