Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Vakansie-verhurings is nie sommerso
Die Moederstad is deesdae ’n wêreldklas-toeristebestemming.

Die jaarlikse Desembervakansie is om die draai – ’n tydperk wanneer groot getalle Suid-Afrikaanse sowel as buitelandse vakansiegangers op Kaapstad toesak om die mooi strande en talle ander lekker geriewe hier te kom benut.

Die Moederstad is deesdae ’n wêreldklas-toeristebestemming en volgens eiendomskenners het die aantal vakansiehuureiendomme in dié stad skerp gestyg te danke aan die toename in toeriste oor die jare.

Dit sorg nie net vir ’n mededingende mark vir vakansieverhurings nie, maar bied Kaapse eiendomseienaars ook ’n gulde geleentheid om ’n goeie huur­inkomste te verdien.

Daar is egter slaggate waarvan eienaars bewus moet wees ten einde hul huurinkomste gedurende die vakansietyd te optimaliseer, lui ’n verklaring wat deur die agentskap Lew Geffen Sotheby’s International Realty uitgereik is.

Dit is dalk so dat buitelandse en plaaslike toeriste na die stad stroom, maar hulle is bederf met ’n wye verskeidenheid akkommodasiekeuses.

Dit beteken dat verhuurders nie net slim moet wees met hul bemarking nie, maar ook gehaltediens moet lewer en goed ingelig moet wees oor die munisipale verordenings en verbruikersregulasies wat op die sektor van toepassing is.

Lew Geffen Sotheby’s het ’n paar kenners genader om raad te gee aan verhuurders wat vakansieverhurings wil doen.

Die transport­besorger

Dit is belangrik om omvattende bepalings en voorwaardes op te stel as jy jou eiendom aan vakansiegangers gaan verhuur. Jy moet ook voorsorg tref vir alle moontlike gebeure wat jou eiendom aan moeilike dispute en finansiële skade kan blootstel.

Volgens Lara Colananni, ’n deskundige transportbesorger by Guthrie Colananni Prokureurs, is dit uiters belangrik om te verseker dat jou
eiendom reg ver­seker is.

Sy meen heelwat huiseienaars vergeet om hul versekeringsmaatskappy in kennis te stel wanneer hul omstandighede verander.

“Dit maak nie saak of jy opknappings aan jou huis doen of dit aan vreemdelinge verhuur nie – jy moet seker maak dat jou versekering aangepas is om jou die nodige dekking te bied; anders bevind jy jou dalk stroomop sonder ’n roeispaan,” sê sy.

Die stads­vaders

Eiendomseienaars wat vakansieverhurings in Kaapstad wil doen, moet eers die nodige toestemming by die stadsowerhede kry – anders is dit onwettig en is boetes onder meer jou voorland.

In Kaapstad is verskeie verordenings daargestel wat korttermyn-verhurings reguleer en alle verhuurders moet aan dié regulasies voldoen.

Dit beteken egter nie dat álmal hul eiendom in die vakansietyd kan uithuur nie. Brett Herron, burgemeesters­komitee­lid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, verduidelik dat vakansieverhurings in woonstelkomplekse in Kaapstad nie net outomaties toegelaat word nie.

Die eiendom moet eerstens die toepaslike sonering hê, en toestemming van die Kaapstad-metro moet ook verkry word.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die munisipale verordenings wat onder meer gastehuise en bed-en-ontbyt (B&B)­- ondernemings reguleer, bepaal word deur die spesifieke dienste wat hulle bied – dienste wat in wese baie soortgelyk is aan die dienste wat jy by hotelle kry, maar net meer persoonlik. Hierdie ondernemings moet dus aan ’n hele reeks regulasies met betrekking tot gesondheid, brande en noodgevalle voldoen.

Die Kaapstad-metro se voorwaardes sluit onder meer in: Die eienaar moet op die perseel woon; nie meer as drie kamers mag aan meer as ses mense verhuur word nie; en vir elke kamer is daar ’n parkeerruimte op die perseel.

As verhuurders nie aan ál die voorwaardes kan voldoen nie, moet ’n aansoek om verlof by die Kaapstad-metro ingedien word.

Die eiendomskenner

Lew Geffen, voorsitter van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, se advies aan verhuurders is om die stadsraad self te nader om te verseker dat hulle aan ál die
regulasies voldoen, eerder as om te wag dat die owerhede na hulle toe kom.

Voornemende beleggers moet ook eers vooraf ordentlik huiswerk doen om te verseker dat die eiendom geskik is vir vakansieverhurings, voordat hulle baie geld betaal in die hoop vir ’n groot huurinkomste.

Geffen waarsku ook om op die uitkyk te wees vir boewe wat die aanlyn platforms vir vakansieverhurings misbruik.

“Ons kantoor in Seepunt is onlangs deur ’n woedende toergids gekontak wat ’n woonstel aanlyn bespreek en betaal het, en voor dooiemansdeur gestaan het.

“Ons doen geen korttermynverhurings nie en die woonstel waarvoor sy betaal het, was ’n eiendom wat ons as te koop op ons webwerf geadverteer het. Dit was beslis nie te huur nie,” verduidelik Geffen.

“Dit kom toe uit die foto’s is van ons webwerf gehaal en dis op ’n vakansiewebwerf ‘geadverteer’.

“Die toergids het nie net haar kliënte se geld verloor nie; hulle het ook nêrens gehad om te oornag nie en die hele voorval het ongetwyfeld haar repu­tasie in die bedryf skade berokken.”

Volgens Mandy Barrett, van die versekeringsmakelaar en risiko­adviseur Aon Suid-Afrika, moet verhuurders die volgende aspekte oorweeg as hulle vakansieverhurings wil doen:

  • As daar geen teken van gedwonge toegang is nie, word gesteelde of beskadigde items gewoonlik nie deur jou versekering gedek nie.
  • As jy ’n klousule in jou versekeringskontrak het dat jou alarm geaktiveer moet wees wanneer jy jou huis verlaat, kan betalende gaste wat vergeet om die alarm aan te sit wanneer hulle uitgaan, slegte gevolge vir jou inhou.
  • Sodra jy betalende gaste in jou huis inbring, is jy verantwoordelik vir enige persoonlike beserings­verwante eise, soos byvoorbeeld ’n gas wat by die swembad gly en val.
  • Die persoonlike besittings van jou betalende gaste word nie gedek as ’n misdaad in jou huis plaasvind nie.
Meer oor:  Kaapstad  |  Verhuurders  |  Koop Om Te Verhuur  |  Vakansiegangers  |  Huur  |  Airbnb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.