Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Vertragings met klarings knou huismark

’n Pretoriase prokureur het haar die afgelope week tot die hooggeregshof gewend om die Tshwane-metroraad te dwing om belastingklaringsertifikate uit te reik sodat kooptransaksies vir twee eiendomme afgehandel kan word. Die raad sloer al sedert Mei daarmee.

Klaringsertifikate is ’n voorvereiste vir die oordrag van eiendom en die oorbetaal van die koopsom aan die verkoper. Foto: Getty Images

Die prokureur, Vidette-Sigrid Roux, is nie die enigste wat hande in die hare sit weens die stad se vrot administrasie nie.

Eiendomsontwikkelings en kooptransaksies van miljoene rande in Tshwane staan stil weens agterstande van die stad se administrasie en poste in die eiendomsbedryf is in die gedrang weens ’n gesukkel met alles van klaringsertifikate tot bouplanne.

Intussen buit korrupte amptenare glo die situasie uit deur omkoopgeld van desperate prokureurs, ontwikkelaars en eiendomsagente te vra om die proses te versnel.

Klaringsertifikate is ’n voorvereiste vir die oordrag van eiendom en die oorbetaal van die koopsom aan die verkoper.

Roux sê iemand het aangebied om die proses aan te help as sy R1 000 betaal, maar sy weier om omkoopgeld te betaal.

Die stad se eie mikpunt is om binne sewe dae ná aanvraag vir kopers en huiseienaars ’n finale rekening vir eiendomsbelasting en dienste te gee sodat kooptransaksies afgehandel kan word. Sodra die betaling dan gemaak is, sal die stad binne vyf dae die klaringsertifikaat uitreik.

Maar dit gebeur nie.

Die stad beweer die agterstande is tans minder as 30 dae.

Rapport is egter bewus van ’n verkoper wat al sedert 12 April wag vir sy uitklaringsyfers. Die bank wat vier maande gelede vir hom ’n lening aangebied het om die eiendom te koop, dreig al om dit te kanselleer omdat die transaksie so lank sloer.

Volgens prokureurs met wie Rapport gepraat het, verander die uitstaande bedrae elke keer wanneer ’n nuwe rekeningsiklus begin en dan moet die verkoper bykomende betalings maak. Klaringsertifikate is net vir 60 dae geldig. “My kliënte dink al ek steel hul geld,” sê een.

Sodra hul probleme met die stad se administrasie verby is, bemoeilik agterstande by die aktekantoor sake verder, sê Roux. Dié kantoor sluit kort-kort weens Covid-19-risiko’s.

Karen de Beer van Kaan Developments is besig met vyf residensiële ontwikkelings in Tshwane, maar bouwerk het tot stilstand gekom omdat die stad se bou-inspekteurs nie uitkom vir inspeksies nie. Die oordrag van 91 huise wat die groep in An-deon, Pretoria-Wes, gebou het, sloer omdat hulle ook nie okkupasiesertifikate uit die stad kan kry nie.

“Ons het met moeite ’n paar gekry, maar die afgelope vier maande is die raad se kantore meer toe as oop. Ontwikkelaars bloei dood,” sê sy.

Die groep het sowat 200 werknemers. “Dis wonderlike mense wat al jare vir ons werk,” sê sy.

Die groep het werkers betaal so lank hulle kon, maar hul kontantvloei raak min. Sy meen dit is maklik vir munisipale werkers om tuis te bly vir die geringste Covid-19-bedreiging, want hulle kry salarisse of hulle nou werk of nie.

’n Ander ontwikkelaar, wat gevra het om anoniem te bly, sê sy jaarlikse omset van sowat R80 miljoen is geheel en al afhanklik van die prosesse van die Tshwane-metroraad. Hy sê dit het vroeër sewe tot tien dae geneem om klaringsertifikate te kry. “Nou is dit ses weke!”.

Hy sê om bouplanne goedgekeur te kry, het vroeër een maand geduur, nou is dit drie maande. “Dít benadeel bouers en hul werkers, sê hy.

Boonop is daar ’n reuserisiko dat vertragings met die bouwerk die grond kwesbaar laat vir grondbesetting.

Tans word die lewering van sowat 2 000 bekostigbare wooneenhede wat klaar verkoop is, deur die trae stadsadministrasie vertraag, sê hy.

Volgens ’n woordvoerder van die Tshwane-metroraad was daar op 23 Junie ’n agterstand van 2 361 aansoeke vir klaringsyfers en 158 klaringsertifikate.

“In Julie het die stad 2 904 aansoeke ontvang vir klaringsyfers en 1 113 vir klaringsertifikate. Sedertdien is 1 053 uitklaringsyfers uitgereik en 1 014 uitklaringsertifikate.”

Die metroraad sê die agterstande het opgehoop in April en Mei toe die aktekantoor ingevolge inperkingsregulasies gesluit was. Die stad het glo bykomende personeel beskikbaar gestel.

Alle personeel, buiten dié met onderliggende siektetoestande, is terug by die werk en ander kan van die huis af werk. In oopplankantore werk hulle nou om die beurt om fisieke afstand te handhaaf, het die woordvoerder gesê.

Die Prokureursvereniging het sy lede gevra om besonderhede oor omkopery te verskaf, maar wag nog vir die stad om ’n kanaal te open waarlangs dié klagtes hanteer kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.