Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Vertroue in Kaap se goeie storie

Die inwonertal van die middestad van Kaapstad kan in die volgende twee jaar bykans verdubbel danksy residensiële ontwikkelings van R4,79 miljard.

Die middestad het tans 7 000 inwoners en volgens die jongste verslag van die Kaapstadse Sentrale Stadsverbeteringsdistrik-inisiatief (CCID) kan dit teen 2019 12 000 wees.

Kaapstad se sentrale sakegebied, wat in die volgende twee jaar miljarde rande se residensiële verblyf gaan bykry en die getal inwoners tot 12 000 kan opstoot.

Die gebied waarna in die verslag verwys word, grens in die noordooste aan die Tafelbaaihawe, insluitende die V&A Waterfront, die stadskom in die weste en suide, en Distrik Ses en Woodstock in die suidooste. Dit strek oor ’n gebied van 1,62 km².

Die gewildheid van die middestad word grootliks gedryf deur vertroue omdat die Wes-Kaap ondanks Suid-Afrika se swak ekonomiese groei ’n goeienuusstorie bly, sê Rob Kane, voorsitter van die CCID.

Carola Koblitz, kommunikasiebestuurder van die CCID en redakteur van die verslag, sê daar is residensiële ontwikkelings ter waarde van R1,2 miljard aan die gang en ’n bykomende R3,59 miljard se ontwikkelings in die vooruitsig.

Die middestad sal teen die einde van die jaar 57 residensiële geboue hê met ’n totaal van 3 800 eenhede.

“Afhangende van hoeveel eenhede die stadsraad se Foreshore Freeway Precinct-projek gaan lewer, kan die middestad teen 2019 tot tussen 4 800 en 6 400 wooneenhede bykry,” sê sy.

Dié projek is daarop gemik om broodnodige bekostigbare behuising op 6 ha se stadsgrond in die omgewing van die onvoltooide snelweg op te rig.

Verkope

In 2016 is 228 eenhede in die middestad teen ’n gesamentlike waarde van R533 miljoen verkoop, heelwat meer as die 185 eenhede teen ’n waarde van R376 miljoen in 2015. Die gemiddelde grootte was 71 m² en die gemiddelde prys per vierkante meter was R33 921. Die gemiddelde verkoopprys was in 2016 15,06% hoër as in 2015.

Kane sê die groeikoers het afgeplat van die weghol-prysgroei van 30,86% in 2014, wat aangevuur is deur groot volumes eenhede wat na die mark toe gebring is.

Die Mutual Heights-ontwikkeling in Darlingstraat in die Kaapse middestad, waar ’n wooneenheid in Julie verlede jaar vir ’n astronomiese R10,7 miljoen verkoop is.

Die hoogste prys wat tot nog toe in die middestad behaal is, was R10,7 miljoen vir ’n tamaaie eenheid van 421 m² met drie slaapkamers en vier parkeerplekke in die Mutual Heights-ontwikkeling in Darlingstraat. Die laagste prys was R815 000 vir ’n eenheid van 47 m² sonder parkering in Trafalgar Centre. Die kleinste eenhede wat in 2016 van eienaar verwissel het, was twee ateljeewoonstelle van 31 m² wat elk vir R1,2 miljoen verkoop is.

Daar is geen twyfel nie dat die vraag na residensiële eiendom in Kaapstad se sentrale sakegebied deur ’n groot spektrum kopers gaan voortduur, sê Ian Slot, besturende direkteur van Seeff aan die Atlantiese kus en in die Kaapstadse stadskom.

“Toenemende verkeersprobleme en ’n begeerte om nader aan die middestad te woon en ’n leefstyl aan die Atlantiese seekus te hê, sal die vraag aanhou dryf.”

Hy sê uit ’n beleggingsperspektief het dit sin om na die huurmark te kyk en na waar die grootste vraag is. Craig Watchurst, ’n agent van Seeff, sê enige eiendom wat vir onder R15 000 per maand verhuur word, word opgeraap.

Die hoogste huurgeld wat in 2016 in die middestad behaal is, was R130 000 per maand vir ’n superluukse dakwoonstel van 309 m² met sy eie swembad.

Meer oor:  Kaapstad  |  Kaapse Eiendom  |  Verkeersknope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.