Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Voetstoots help nie as jy hieroor jok

Gustaf Pienaar bespreek dié week ’n huis se lekkende dak en die kwessie rondom voetstoots. Hy kyk ook na die gebruik van die woord “vermaledyde” in een van sy vorige rubrieke nadat dit onlangs op die radio bespreek is. 

Charl du Plessis skryf: “Iemand koop ’n huis voetstoots.

Skets: Hanlie Malan

“Die verkoper lig die koper in dat sy voorheen baie probleme gehad het met die dak wat gelek het wanneer dit reën. Sy verklaar ook dat sy die dak twee jaar tevore laat herstel het en wys die kwitansie. Sy sterf ’n week nadat die transaksie afgehandel is.”

Charl vertel dat die dak daarna steeds gelek het. Die oorspronklike hersteller het sy skouers opgetrek, waarna die dak deur iemand anders herstel is.

Die verkoper en die koper het mekaar goed geken en die verkoopsagent was seker dat die verkoper – sou sy nog geleef het – die koste van die behoorlike herstel van die dak sou gedra het.

Die agent het dus die oordragprokureur versoek om ’n eis teen die verkoper se boedel in te stel, maar hy het geweier.

“Die koper moes geweet het dat ‘voetstoots’ presies dit beteken – voetstoots; die verkoper het immers niks weggesteek nie,” was sy mening.

Op grond van Charl se feitestel meen ek dat die oordragprokureur die saak reg ingesien het.

’n Voetstootsklousule beveilig die verkoper van ’n eiendom nie teen sy/haar bedrog nie.

As ’n verkoper, wel wetend dat daar verborge gebreke in ’n huis is, suinig met die waarheid is, help ’n voetstootsklousule hom/haar niks nie.

Wat my wel so ’n bietjie pla, is dat die dak klaarblyklik nog gelek het ná die eerste poging om dit te herstel. As die verkoper gewéét het dat die herstelwerk swak was, sou daar wel ’n plig op haar gerus het om dit bekend te maak.

Dit lyk egter of sy volkome eerlik was en dat sy veral nie haar goeie vriende wou bedrieg nie. Maar nou is sy nie meer daar om ondervra te word nie.

Die beste getuienis is dié wat Charl aan ons oorgedra het, en daarvolgens meen ek dat die koper aan die voetstootsklousule gebonde is. Hy moet dus die koste vir die herstel van die dak dra.

’n Vermaledyde storie oor ’n stukkie vloerteël

Die afgelope Sondag (19 Augustus 2018) behandel dr. Willem Botha van die

Woordeboek van die Afrikaanse Taal ’n luisteraar, Deon Rossouw, se vraag oor die betekenis van die woord “vermaledyde” – nogal na aanleiding van my gebruik van dié woord in die Eiendomstories van 28 Julie vanjaar. Dit was oor ons besoek ’n paar jaar gelede aan die verlate terrein van die weermagbasis Fort Doppies in die Oos-Caprivi, Namibië.

Soos baie van my skoolmaats was ek verplig om ná skool vir nege maande lank militêre opleiding te ondergaan.

Daar het ek ’n stukkie vloer­teël by die afgetakelde ablusieblok opgetel en as ’n aandenking saamgebring huis toe. Dr. Botha het verduidelik dat die byvoeglike naamwoord wat ek gebruik het om Fort Doppies te beskryf – “vermaledyde” weermagbasis – eintlik “vervloekte” weermagbasis beteken. Sy verduideliking het my tussen die oë getref. Vervloekte weermagbasis? Is dit werklik wat ek bedoel het? Tog nie: Toe ek die artikel geskryf het, het ek die woord gaan naslaan en gemerk dat dit naas “vervloekte” ook “verwenste” beteken – soos in “verwenste” Fort Doppies. Dit is met dié aksent waarin ek die woord in my rubriek gebruik het. Dr. Botha se ontleding van die betekenis van “vermaledyde” – in die sin van “vervloekte” – het ou herinneringe by my oor my eie weermagervarings oopgeruk.

Soos baie van my skoolmaats was ek verplig om ná skool vir nege maande lank militêre opleiding te ondergaan.

Self het ek egter uitstel gekry omdat ek genooi was om ’n jaar lank in die VSA as uitruilstudent van die American Field Service (AFS) deur te bring. Wat ’n geleentheid!

Maar toe kom my peetpa daarvan te hore. Hy was genl. Eugène Raymond wat indertyd geneesheer-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag was. Hy het my bevalling donkiejare gelede behartig.

Op ’n Sondagmiddag in September 1966 het hy my ouers (hulle was huisvriende) omgepraat om my VSA-planne te kelder. “Die kind gaan as ’n kommunis terugkom,” het hy, klaarblyklik met goeie bedoelings, maar met onwrikbare sekerheid – voorspel.

Daar was egter ’n “troosprys”: As ek nie meer VSA toe sou gaan nie, sou hy reël dat ek in 1967 my weermagopleiding in dié prestige-eenheid van die weermag, die Leërgimnasium op Voortrekkerhoogte, kon ontvang.

Die aansoeke vir 1967 het lank­al gesluit, maar hy sou sorg.

Ek het (straks weens my laat-inskrywing) in HK-kompanie beland en is as ’n seiner opgelei.

Dit het daartoe bygedra dat ek daardie jaar met ’n passie gehaat het – méér nog so nadat ek een aand volkome onskuldig in die weermag se detensiebarak opgesluit is en daarna ’n week lank met die berugte CB (confined to barracks) – gestraf is. My verhoor oor die voorafgaande insident was die primitiefste vorm van regspleging denkbaar.

Ná my huwelik moes ek nog ’n paar weermagkampe bywoon. Dit was volkome tydmors. My ervaring van diensplig was dus allermins positief. Het dit van my ’n “beter mens” gemaak?

’n “Sterker man”?

Tog nie: Ek verwonder my steeds oor die sienswyse dat jy eintlik van iemand ’n dapperder soldaat maak deur sy karakter af te breek en hom tot in die grond in te beledig.

Daarby is ek in wese ’n pasifis: Ek sal elke vesel in my gee om oorlog te voorkom, maar is realisties genoeg om te besef daar is ook perke aan walgooi.

Baie van daardie dinge is in weermagbasisse soos Fort Doppies beplan. Dikwels het ervarings uit die hel ook daar geëindig.

Ek aanvaar dat ander mans se belewenis van hul weermagdae hemelsbreed van myne verskil: Hulle het onmeetlik gevaarliker tye beleef; die weermag het mettertyd verander in die mees formidabele krag op die Afrika-kontinent; die swaarkry en ontberings – én die verhale van ongelooflike dapperheid uit daardie dae – het blywende kame­raadskappe geskep.

Ek lees in boeke van die allerverskriklikste dinge wat meestal wit, manlike soldate moes deurmaak. Daardie wonde sweer nog steeds. Gaan lees maar self daaroor.

Baie van daardie dinge is in weermagbasisse soos Fort Doppies beplan. Dikwels het ervarings uit die hel ook daar geëindig.

“Vermaledyde” in die sin van “vervloekte”? Ek gee geredelik toe: Dié tipering was dalk te subjektief, te kras.

Ek glo – paradoksaal soos wat dit mag klink – tog so: As Suid-Afrika nie vanaf 1950 ten bloede teen die Kommunisme (in sy Stalinistiese gedaante) weerstand gebied het nie, sou die ganse wêreld vandag volkome anders daar uitgesien het. Die val van die Berlynse Muur in 1989 en die daaropvolgende ontbinding van die Sowjet-Unie het ’n “vensterperiode” vir ’n skikking met die ANC oopgemaak, wat Suid-Afrika van ’n gapende afgrond laat wegdraai het.

Dus: Fort Doppies – ek salueer jou bydrae. Maar gaan rus nou in vrede.

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.